Profile photo of crito

by

Na smaak

Julie 4, 2017 in Uncategorized

Dis té vroeg in die vakansie om nou betrokke te raak by die ou geseur oor objektief en subjektief. Crito wil maar net sê dat hy met ’n heerlike krieweling begin lees het aan Marius Crous se resensie van Uittogboek, die nuwe bundel deur Johan Myburg (Boeke24).

Deur die resensie te begin met “Ek hou van Johan Myburg se poësie” stel hy sy kritici dadelik op die agtervoet. Al wat hulle nou kan doen, is om te sien hóé Myburg hom hierdie keer ingetrek het by sy gedagtewêreld. Wat die inhoud en uiteensetting self betref, is daar nie veel te redeneer nie. Crous is nie ’n beginner nie.

Hou mens aan die ander kant nie van Myburg se digkuns nie, is daardie sin vir die leser ietwat van ’n auto-eject. Wat’s volgende?

Madri Victor probeer  op LitNet stilisties aansluit by die tema van Irma Venter se Sirkus, die ene sirkus-aankondiger. Dit slaag in ’n mate, in soverre sy elke nuwe punt onder bespreking makliker kan uitlig.

Só ’n aanpak raak egter heel voorspelbaar en baie gedwonge, en teen die einde is dit nogal hinderlik wanneer sy haar lesers aanspoor om aan Venter ’n staande ovasie te gee.

Ek vind dit nogal jammer, want wanneer ’n mens die resensie noukeurig lees, en die sirkus-dinge ignoreer, is dit duidelik dat Sirkus  ’n besonderse roman is wat ernstige aandag verdien en sekerlik ’n bo-gemiddelde leeservaring bied.

Dewald Koen het met sy bespreking van Die diepblou see van Francois Loots die vertroude middeweg gevolg. Nugter, onbetroke, waarderend in toon.

Crito vermoed dat Koen die resensie heelwat sou kon opdollie, as hy wou,  omdat dit handel oor ’n toonaangewende figuur buite die stroom van nasionalisme in die vorige eeu. Jan Frederick Hendrik Hofmeyr verdien dit sekerlik.

Koen se bewondering vir Hofmeyr is duidelik, en tog nie hinderlik nie. En uiteindelik is dit die skryfwerk van Loots wat hom wel die sterkste aanspreek, en juis Loots se vermoë om ’n baie komplekse figuur geloofwaardig vir die leser te ontplooi.

Hy vind ’n spelfout op die agterblad, maar die roman self kom onbesoedel deur negatiewe kritiek daarvan af. Gegee dat die resensie op LitNet se webblad verskyn, waar daar ruimte is vir alle kante van kritiek, is dit vir my ’n baie goeie teken. Sal die boek wil lees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.