Profile photo of crito

by

Hoekom herdrukke geresenseer word

Junie 13, 2017 in Uncategorized

Dit is so dat Crito nie stilstaan by resensies van herdrukke nie. Die lewe is te kort, jy weet. Tog wonder ek soms wat die punt is om herdrukke te laat resenseer. Kan ’n resensent ’n nuwe perspektief bring? Het die verloop van tyd ’n radikale hersiening van die boek meegebring?

Jo-Riëtte Jacobs neem op LiitNet die herdruk van Mariël le Roux se Die naamlose onder oë. Ek het ook gaan soek na resensies van die oorspronklike uitgawe, en weens die mate waarin Netwerk24 se werf dit vir mens moeilik en selfs onmoontlik maak om by ou resensies uit te kom, moes ek maar berus by ouma Crito se aantekeninge oor Jacolette Kloppers se bespreking in Beeld in 2010.

Jacobs se resensie is uitvoerig en deeglik – al die dinge wat destyds by Kloppers makeer het. Jacobs is, nes Kloppers, geneig om te veel oor te vertel van die verhaal, maar ten minste gebruik sy dit telkens as aanknopingspunt om aspekte van die karakterisering, fokalisering en so meer te ontleed.

Soms is daar opmerkings wat nie sin maak nie en die algemene hoë peil van Jacobs se argumentering skaad. So sê sy byvoorbweeld “Verder is dit ook opmerklik dat menige aktuele en eietydse kwessie in Die naamlose onder oog gebring word.” Sy brei dan daarop uit met: “Daar word onder andere fokus verleen aan versteurde gesinsverhoudings.” Dit is vir my onduidelik hoe sy kan dink dat versteurde gesinsverhoudings beskou kan word as net aktuele en eietydse kwessies. In enige taal is albei tydlose kwessies, so oud soos die Ou Testament.

Miskien moet Crito so iets as slordige formulering beskou, iets waaraan sy haar nie weer skuldig maak nie. Dit is duidelik dat sy baie krities na die roman kyk. Sy maak baie pertinente opmerkings oor swakhede in die roman ten opsigte van karakterisering, die geloofwaardighede van gegewens ens. Haar finale oordeel is ten gunste van die roman, sekere irritasies ten spyt.

Crito sou bitter graag wou gaan kyk presies wat in 2010 deur resensente geskryf is oor die boek. Is dit te veel om te verwag dat Netwerk24 hul ennui te bowe sal kom en die argiewe van hul voedingsbronne (Beeld, die Burger, Volksblad en Rapport) vir navorsers toeganklik maak?

Met die inligting tot my beskikking moet mens dan aanvaar dat Jacobs wel iets nuuts gebring het tot die kritiese gesprek oor Die naamlose. Dit is dan seker die rede hooekom herdrukke geresenseer word – niemand het die vaagste benul wat die resensente gesê het met die oorspronklike verskyning nie.

Die lees van my Crito-voorganger se opmerkings oor resensies in 2010, en die lees van Dewald Koen se bespreking van S.J. Naudé se roman Die derde spoel daarna wys dat min dinge verander het sedert 2010. Resensente is steeds geneig om baie ruimte af te staan aan ’n uiteensetting van die verhaal, en kritiese opmerkings te maak sonder om dit behoorlik te belig.

Koen is baie positief oor Die derde spoel; hy doen moeite om te verduidelik hoe boeiend die verhaal vir hom was, en dat hy dit as een van die literêre hoogtepunte van hierdie jaar beskou.

Hy is veral getref deur die filmiese aard en moontlikhede; Naudé se taalaanvoeling val hom ook op. Hy is beïndruk met die historiese plasing en impak daarvan.

Koen het hom al bewys as ’n bedrewe resensent. As hy meer plek aan die voorgenoemde drie aspekte afgestaan het, en die verhaal in een paragraaf opgesom het, sou hy heelwat beter gevaar het met hierdie resensie.

Crito het ’n spesmaas die boekeredakteur het ook só gevoel. “Besonderse roman met filmiese aanslag” is een van die droogste opskrifte wat ek nog gesien het by ’n resensie wat in sy sterkste paragrawe oor die boek juig.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.