Jy blaai in die argief vir 2017 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Satiries

Junie 28, 2017 in Uncategorized

Satire is ’n genre waar, om Kerry E. Wagner se wyse woorde effens te verdraai, ’n mens maklik verbeelding met intelligensie kan verwar. Die wonderlike insigte en vlymskerp humor kom nie altyd lekker deur nie. Nie almal kan op dieselfde vlak as Voltaire, Evelyn Waugh, PG Wodehouse, Kurt Vonnegut of Charles Dickens beweeg nie. En verstaan word nie.

Dit sou maklik wees om te sê dat daar ligjare lê tussen Voltaire en Schalk Schoombie se satire. Crito sou ewe geldig kon argumenteer dat meer mense vandag vir Schoombie se Rooi haring sal verstaan as wat daar mense sal wees wat Voltaire se werk sommer met die eerste lees toeganklik vind.

Dit is ongelukkig ook nie altyd te sê nie. Die resensies wat die afgelope twee weke verskyn het van Schoombie se Rooi haring (Jean Meiring in Boeke24, Deborah Steinmair in Rapport Boeke) illustreer dit maar net té goed.

Om die twee resensies na waarde te skat, moet mens jouself afvra in watter mate die resensente op hoogte was met die satiriese onderbou. Meiring kom ná ’n indringende uitleg van die verhaal tot die slotsom dat Rooi haring se teiken “Cluedo-agtige verhale van weleer” is. Daarmee gooi hy ’n evaluatiewe kombers oor Schoombie se fiksionele konstruk wat helaas erg negatief is.

Dit is duidelik dat hy ’n suiwer literêre poging van Schoombie verwag, en sê dit ook: “Ongelukkig laat Rooi haring ’n mens onversadig.
Maar ironies ook met die besef dat Schoombie ’n werklik talentvolle storieverteller is wat sy rug eerder op truuks soos dié moet keer en weer ’n properse literêre roman soos sy debuut, Boomkastele, behoort aan te pak.”

Ek het agting vir Meiring se oordeel, maar ek wonder tog of hy nie by ’n ander slotsom sou uitgekom het as hy die verhaal met dieselfde gewilligheid benader het as Steinmair nie.

Sy sê “Schalk Schoombie se Rooi haring is inheems, maar met skeute geheime bestanddele uit eksotiese oorde. Dis universeel en tydloos. Daar is teelepels Agatha Christie, Dorothy L. Sayers, P.D. James, eggo’s van flieks soos Who Is Killing the Great Chefs of Europe, The Cook, the Thief, His Wife & Her Lover en Fellini se rolprente in die kombinasie van gesofistikeerdheid en aardsheid, met eksentrieke, groteske karakters, oordaad en sensualiteit.”

Die leser van die resensie moet nie net aanvaar dat die teiken Cluedo-agtige verhale is nie. Daar word ’n wye raam van verwysings gegee, en daarmee word die lees van Rooi haring iets heel anders, sou Crito skat.

Steinmair besef skynbaar ook dat dit sal lol as die leser nie die verwysingsveld het wat sy het nie. Haar eindevaluering, “Rooi haring is misdaadfiksie uit die heel boonste rak op die spens van ’n baassjef “ word dan ook opgevolg met “Dit wyk wel betekenisvol af van die gewone misdaadfiksieresep en ek kan net hoop dat Afrikaanse lesers gereed is om te lag, verlei te word, na te dink en aan geregte te proe te midde van die dolle speurtog.”

Steinmair gee vir die koerantleser die sleutels wat nodig is om Rooi haring te dekodeer; Meiring se boodskap is uiteindelik meer aan die adres van die skrywer gerig. Uiteraard is Meiring se resensie nie minder geldig as Steinmair nie, Crito het net die gevoel dat dit veel meer sou gewees het as hy verder as Cluedo gekyk het.

Profile photo of crito

by crito

Hoekom herdrukke geresenseer word

Junie 13, 2017 in Uncategorized

Dit is so dat Crito nie stilstaan by resensies van herdrukke nie. Die lewe is te kort, jy weet. Tog wonder ek soms wat die punt is om herdrukke te laat resenseer. Kan ’n resensent ’n nuwe perspektief bring? Het die verloop van tyd ’n radikale hersiening van die boek meegebring?

Jo-Riëtte Jacobs neem op LiitNet die herdruk van Mariël le Roux se Die naamlose onder oë. Ek het ook gaan soek na resensies van die oorspronklike uitgawe, en weens die mate waarin Netwerk24 se werf dit vir mens moeilik en selfs onmoontlik maak om by ou resensies uit te kom, moes ek maar berus by ouma Crito se aantekeninge oor Jacolette Kloppers se bespreking in Beeld in 2010.

Jacobs se resensie is uitvoerig en deeglik – al die dinge wat destyds by Kloppers makeer het. Jacobs is, nes Kloppers, geneig om te veel oor te vertel van die verhaal, maar ten minste gebruik sy dit telkens as aanknopingspunt om aspekte van die karakterisering, fokalisering en so meer te ontleed.

Soms is daar opmerkings wat nie sin maak nie en die algemene hoë peil van Jacobs se argumentering skaad. So sê sy byvoorbweeld “Verder is dit ook opmerklik dat menige aktuele en eietydse kwessie in Die naamlose onder oog gebring word.” Sy brei dan daarop uit met: “Daar word onder andere fokus verleen aan versteurde gesinsverhoudings.” Dit is vir my onduidelik hoe sy kan dink dat versteurde gesinsverhoudings beskou kan word as net aktuele en eietydse kwessies. In enige taal is albei tydlose kwessies, so oud soos die Ou Testament.

Miskien moet Crito so iets as slordige formulering beskou, iets waaraan sy haar nie weer skuldig maak nie. Dit is duidelik dat sy baie krities na die roman kyk. Sy maak baie pertinente opmerkings oor swakhede in die roman ten opsigte van karakterisering, die geloofwaardighede van gegewens ens. Haar finale oordeel is ten gunste van die roman, sekere irritasies ten spyt.

Crito sou bitter graag wou gaan kyk presies wat in 2010 deur resensente geskryf is oor die boek. Is dit te veel om te verwag dat Netwerk24 hul ennui te bowe sal kom en die argiewe van hul voedingsbronne (Beeld, die Burger, Volksblad en Rapport) vir navorsers toeganklik maak?

Met die inligting tot my beskikking moet mens dan aanvaar dat Jacobs wel iets nuuts gebring het tot die kritiese gesprek oor Die naamlose. Dit is dan seker die rede hooekom herdrukke geresenseer word – niemand het die vaagste benul wat die resensente gesê het met die oorspronklike verskyning nie.

Die lees van my Crito-voorganger se opmerkings oor resensies in 2010, en die lees van Dewald Koen se bespreking van S.J. Naudé se roman Die derde spoel daarna wys dat min dinge verander het sedert 2010. Resensente is steeds geneig om baie ruimte af te staan aan ’n uiteensetting van die verhaal, en kritiese opmerkings te maak sonder om dit behoorlik te belig.

Koen is baie positief oor Die derde spoel; hy doen moeite om te verduidelik hoe boeiend die verhaal vir hom was, en dat hy dit as een van die literêre hoogtepunte van hierdie jaar beskou.

Hy is veral getref deur die filmiese aard en moontlikhede; Naudé se taalaanvoeling val hom ook op. Hy is beïndruk met die historiese plasing en impak daarvan.

Koen het hom al bewys as ’n bedrewe resensent. As hy meer plek aan die voorgenoemde drie aspekte afgestaan het, en die verhaal in een paragraaf opgesom het, sou hy heelwat beter gevaar het met hierdie resensie.

Crito het ’n spesmaas die boekeredakteur het ook só gevoel. “Besonderse roman met filmiese aanslag” is een van die droogste opskrifte wat ek nog gesien het by ’n resensie wat in sy sterkste paragrawe oor die boek juig.

Profile photo of crito

by crito

Onderbreking

Junie 6, 2017 in Uncategorized

Twee benaderings, een boek. Deborah Steinmair (Rapport Boeke) en Jonathan Amid (Boeke24) bespreek Rudie van Rensburg se Kamikaze.

’n Woord vooraf. Crito is self halfpad deur die roman. Ek het albei resensies benoud gelees. Bang hulle bederf my plesier.

Gelukkig doen hulle dit nie. So, volpunte aan albei op daardie punt.

En albei is hoogs positief oor Kamikaze. Crito is dus nie besig om sy tyd te mors nie.

Steinmair se resensie is die soort wat ek graag sou wou gelees het voordat ek begin lees het, net om ’n idee te kry van die inhoud, van die draaie wat die verhaal gaan gooi. Die nadeel van haar resensie is dat as jy die boek klaar gelees het, jy haar bespreking net met ’n paar kopknikke en ’n gemoedlike glimlag sal deurgaan: ja, dít was so, en ja, kyk hoe netjies beskryf sy daais.

As dit die doel is van die resensie om lesers en boek by mekaar uit te bring, slaag sy daarin.

‘n Mens moet egter fyn lees om kritiese opmerkings te vind. Of sien ek té veel raak in haar gebruik van die woord “resep” in paragraaf vier? Is ek die enigste wat ’n geamuseerde afstand in haar styl van formulering vind?

Amid se resensie is vir my meer funksioneel en bevredigend – die soort resensie wat mens met belangstelling sal lees wanneer jy absoluut niks van die skrywer of sy boeke weet nie, en wat jy ná die lees van die boek sal wil raadpleeg om te sien of jou eie reaksie op die boek strook met dié van die kenners.

Hy behou ’n meer kritiese standpunt oor die boek se onderdele as Steinmair; hy plaas dit ook met gemak binne die konteks van die genre en teenoor die werk van sy mededingende skrywers. Hy vind ’n punt van wesentlike kritiek (nie genoeg vroulike karakters in die boek is nie), maar of dit wel iets is waaraan die skrywer sal wil aandag gee, weet ek nie.

Terug na die boek.