Jy blaai in die argief vir 2017 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Klitsgras en duwweltjies

Mei 30, 2017 in Uncategorized

Net twee resensies wat vandeesweek Crito se aandag getrek het. Joan Hambidge (oor Pieter Fourie se Knapsekêrels) en Jean Oosthuizen (oor twee boeke, God, gay, genade van Retha Benadé, en Reënboog-roulette van Sanet Viljoen), Hambidge in Boeke24 en Oosthuizen in Rapport Boeke.

Crito se een voorsaat was knorrig oor Hambidge se telegram-styl wanneer sy (soms) oor digbundels skryf. Ek raak nie heeltemal so morrend daaroor nie, want sy het verbeter. Net hier en daar klink dit asof sy los gedagtes opstapel: “Hy debuteer onverwags met ’n pragbundel, Knapsekêrels, met kontreiverse wat sterk herinner in stylaard aan N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks. Louise Viljoen se bekende artikel “Digterlike gesprekke met N.P. van Wyk Louw” op Versindaba wys op al die gesprekke met Van Wyk Louw. Ook hierdie digbundel is dan ’n belangrike ­wederwoord of voltooiing.”

Dit kon netjieser geformuleer gewees het.

Andersins lei die bundel haar. Haar geesdrif vir die verse is opmerklik; haar slotsom (drie paragrawe daarvan) is berekend en sekuur. Hambidge op volle toere. Gaan lees maar en snuffel die subtekste uit: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/klokhelder-stilte-uit-n-bedrewe-hand-20170529

’n Resensie soos dié kan net een gevolg hê – Knapsekêrels is op pad na die Crito-boekrak.

Jean Oosthuizen se besluit om twee boeke onder een kombers te vertroetel was ’n slim een. Albei handel oor ’n onderwerp wat pertinent is: Die kerk se skandelike hantering van mense uit die LGBTI-gemeenskap.

Oosthuizen skryf met gemak oor ’n tema wat hom na aan die hart lê. Dit gaan nie vir hom die twee skrywers se vaardigheid nie, maar oor die tematiek; daaroor skryf hy met groot oortuigingskrag. Die resensie word sodoende deel van sy kritiese gesprek met die Afrikaanse kerke.

Viljoen kan miskien afgehaal voel. Oosthuizen sien die aktualiteit van haar roman in, maar hy lewer as kritikus weinig bydrae in die taksering daarvan. Hy beskryf die roman as “fiksieboek”, hy verwys na trae gang maar kan nie ’n vinger plaas op die redes daarvoor nie; eweneens praat hy oor geloofwaardigheid maar rugsteun nie sy opmerking met ’n uiteensetting nie.

En laat Crito reguit wees: Wanneer ’n resensent sê dat “party lesers” dalk probleme sal hê met sekere aspekte van die roman, flits die gevaarligte. Die resensent vermoed onraad, of dalk voel hy self só, maar het nie die moed van sy oortuiging om dit reguit te stel nie en gaan kruip dan weg agter die gesiglose “party lesers”.

As mens die moed het om vir die LGBTI-gemeenskap in die bresse te tree, kan jy sekerlik ook reguit sê dat sekere dele van die verhaal jou nie oortuig het nie. Jy keer immers nie daardeur jou rug op die LGBTI-belewenis nie. Jy sê net dat die skrywer die verhaal meer oortuigend kon gestruktureer het.

Profile photo of crito

by crito

Vriendelik

Mei 22, 2017 in Uncategorized

Mei. Die maand waarin boekeblaaaie lyk asof die afgelope maande min nuuts by uitgewers opgelewer het. Vandeesweek se hoofresensies Is ’n spanningsroman van Irma Venter (Rapport Boeke) en ’n nuwe bloemlesing van Hennie Aucamp se beste kortverhale (Boeke24).

Crito se se opdrag aan sigself is om net resensies van nuwe Afrikaanse werk te bekyk. Die oes raak dan skraler. Deborah Steinmair se bespreking van Irma Venter se Sirkus is geskryf met haar gebruiklike deeglikheid, maar vir Crito se gevoel word daar té veel verklap oor die inhoud.

Wat die resensie wel belangrik maak, is dat Steinmair haar vinger lê op die een inherente gebrek in Venter se werk – iets wat tipies is van romans wat deel vorm van ’n reeks met gemeenskaplike karakters en verhale wat op mekaar volg.

Skryf Steinmair: “Sirkus is die vyfde roman in Irma Venter se reeks spanningsverhale waarvan die titels met die letter ‘S’ begin. Om ’n reeks romans met dieselfde karakters daarin te skryf, hou heelwat uitdagings in: die spanning en die gehalte moet boek vir boek toeneem, die karakters moet groei en vars maar ook eie aan hulself bly, elke boek moet alleen staan, dus moet daar heelwat inligting herhaal word sonder dat dit vermoeiend raak.”

Die laasgenoemde vereiste word nie deur Venter behoorlik hanteer nie, meen Steinmair, met die gevolg dat mense wat Venter se reeks by Sirkus begin lees, nie behoorlik ingelig gaan wees oor die agtergrond van die karakters nie.

Die geluk is natuurlik dat die boek steeds aanbevelenswaardig is. Die kritiek wat uitgespreek word, is vir die aandag van die skrywer; die lof is lokaas vir die leser.

Helen Schöer het dit in Boeke24 ook te make met ’n skrywer wat besig is om te bou aan ’n reeks romans met ’n gemeenskaplike speurder. Vermis is Jeanette Stals se tweede roman met speurder Luna Joubert in die sleutelrol.

Schöer is Stals baie tegemoetkomend – sy hou van die vroulike invalshoek en die manier waarop Stals daarmee werk, maar uiteindelik is dit duidelik dat Schöer die roman té mak gevind het, en baie lou voel oor die ontknoping van die problematiek.

In die geheel is dit ’n baie beleefde manier van neus optrek.

Dewald Koen skryf in Rapport Boeke oor ’n Ope brief aan Dorian Gray, die debuutwerk van die digter Ruan Fourie. Dis ’n vriendelike resensie waarin wesentlike kritiek in die verbygaan genoem word in die laaste klompie paragrawe.

Crito wonder egter of die aanhalings uit die bundel, waarin getoon word hoe Fourie met ander skrywers in gesprek tree, nie die kapstok kon gewys het vir ’n meer uitvoerige kritiese bespreking nie. Dis een ding om te sê dat Ruan Fourie in gesprek tree Ingrid Jones, Sylvia Plath, Inrid Winterbach, N.P. van Wyk Louw en Vladimir Nabokov, maar die vraag is altyd of daar iets van daardie gesprekke kom. Wat maak die digter daarmee? En het dit die digter gebaat om by Oscar Wilde in te hak?

In ’n resensie soos hierdie moet die resensent sê of daar dadels van gekom het of dalk wel iets.

Profile photo of crito

by crito

Voorkennis

Mei 9, 2017 in Uncategorized

Soms lees ’n mens lekkerder aan ’n resensie as jy reeds die boek onder bespreking  self gelees het. Dan word die lees van die resensie ’n toets van jou eie insigte, asook van dié van die resensent. Ek het Nicole Jaekel Strauss se As in die mond ’n week gelede gelees, en Francois Smith se resensie daarvan in Rapport Boeke het Crito wild laat regop sit.

Smith se analise is kompak en vir Crito uiters openbarend. Hy staan baie ruimte af aan een verhaal wat los staan van die ander in die bundel, maar wat volgens Smith ’n sleutelverhaal is: “Die as van hierdie verhaal se brandstapel word as’t ware dwarsdeur die bundel gewaai …”

Wat vir Crito hier belangrik is, is in watter mate ’n resensent vir ’n leser met voorkennis iets kan aanbied wat onverwags is en onbegrip verander in kennis. Uiteraard is dit nie die dinge waaraan ’n resensent dink wanneer hy gaan sit om sy resensie te skryf nie. Dit is wel interessant as die resensie wel vir iemand wat nog nie die boek gelees het nie ewe goed na die boek lei as wat hy ’n ingewyde teruglei vir ’n herevaluasie van iets van geringskat is. En Crito het daardie eerste verhaal erg misgelees.

Smith vou die bundel oop met die verduideliking dat dit gaan oor ’n geheim wat algaande opgeklaar word deur verhale wat uit verskillende hoeke en tye op dieselfde insident inspeel. Hy besef dat dit nie altyd die resensent se taak is om die volle betekenis uit te spel nie – dit gaan eerder oor die aanteken van die maniere waarop die skrywer daarby uitkom.

Hier is Smith se bewoording van die manier waarop Strauss se kortverhale verskil van die gebruiklike struktuur wat mens in kortverhale aantref: “Ook die knaleffek van die slot van die tradisionele verhaal is meestal prysgegee vir ’n effek wat vergelyk kan word met die bevrediging wat die passing van ’n legkaartstukkie bied.”  Crito het groot bewondering vir die wyse waarop Francois Smith iets waaroor baie akademici ’n hele lesing sou kon wei, in een enkele sin saam te vat.

Die res van die resensie bevat baie sulke voorbeelde. As mens nog nie As in die mond gelees het nie, is hierdie resensie van baie groot waarde, en kan met dieselfde stip aandag benader word as die eerste kortverhaal in die bundel.

Crito het ook Marius Crous se bespreking van Hemelbesem se God praat Afrikaans met baie belangstelling gelees. Ek het dit nog nie onder oë gehad nie.

Crous se bespreking is vriendelik en toeligtend, maar dit is nie ’n kritiese bespreking nie. Dit wil lesers lok, en nie soek na literêre aanknooppunte nie. Dit verduidelik dan ook die soort aanhalings wat hy gebruik.

Crous klink geïmponeerd genoeg, maar dit is duidelik dat Hemelbesem eers tot mens gaan spreek wanneer jy sy ryme lees.