Profile photo of crito

by

Nog Camino

April 26, 2017 in Uncategorized

Dis vir Crito nogal beklemmend om te sien hoe die Camino-boeke van Erns Grundling (Elders) en Pienkes du Plessis (Ons Camino) resensente laat kleitrap. Vandeesweek s’n in Boeke 24, geskryf deur Jacques Myburgh, is wel aansienlik beter as Herman Jansen syne verlede week in Rapport, maar hy kon dit vir homself baie makliker gemaak het deur meer reguit te wees.

Myburgh gee meer inligting oor die twee boek. Ná Jansen se resensie, het Crito skielik ‘n heelwat beter idee oor wat nou eintlik in die twee boeke aangaan. Myburgh het sy leeswerk deeglik gedoen (al het sy veralgemenings op seker punte hom dadelik die gramskap van Piekes du Plessis op die hals gehaal).

Mens kry ‘n meer omvattende beeld van die aard en inhoud van die twee boeke, asook die dinge wat die skrywers moveer het om die boeke te skryf. En daardeur kry jy ook ‘n idee van hul persoonlikhede, en die raamwerk waarin die boeke tot stand gekom het.

Ná die lees van Myburgh se resensie is Crito gelaat met ‘n herinnering aan iets wat Kenneth Tynan eens oor resensies gesê het: Dis nie alles wat jy sê wat tel nie, maar ook dít wat jy weglaat.

Myburgh is baie omsigtig in die manier waarop hy die twee boeke in sy slotopmerkings teen mekaar afspeel. Hy doen dit met sulke goeie maniere. Hy sê nie reguit dat Du Plessis se boek power is of ‘n minder indrukwekkende publikasie as Grundling s’n nie – hy sinspeel eerder daarop dat net mense wat Du Plessis ken, sy boek sal geniet. Dit is ‘n puik voorbeeld van “damning with faint praise”.

Maar implissiet in sy opmerkings is die goedkeuring van Grundling se werk en die afkeur van Du Plessis s’n.

Crito het ‘n spesmaas dat dit dalk ander soort resensies sou opgelewer het as sowel Boeke 24 as Rapport Boeke hierdie twee publikasies afsonderlik laat resenseer het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.