Profile photo of crito

by

Ou skool

April 4, 2017 in Uncategorized

Net twee resensies van die  afgelope week trek my aandag. Cas van Rensburg s’n oor Eindspel (Boeke24) die nuwe roman deur Wilna Adriaanse, en Dolf Els s’n oor Die Burger 100, ’n boek wat saamgestel is deur Bun Booyens en Aldi Schoeman (Rapport Boeke).

Crito bespeur natuurlik ’n subteks hierin, maar laat ons dit maar ignoreer ter wille van Klaas Vakie daar op Stellenbosch. Kom ek volstaan net deur te sê dat albei resensente oud-joernaliste is. Van Rensburg was by Beeld en Els by Die Burger, as ek dit nie mis het nie.

Albei het hul opdrag met deeglikheid uitgevoer. Dis op só ’n manier geskryf dat die koerantleser dit met plesier kan lees en met baie verworwe inligting agterna kan terugsit.

Van Rensburg het die goeie hoedanighede van Eindspel oorgedra, Els het die inhoud van die boek bespreek en in die proses die geskiedenis van ’n koerant getakseer en besing sonder om te klink soos ’n proseliet.

Van Rensburg laat ’n besorgdheid oor die toekoms van Afrikaans deurskemer. Sy opmerking oor die eerste sin van die boeke is, lyk dit vir Crito, daarop gemik om die belangstelling van sy lesers vas te maak met ’n sweem van nostalgie.

Die probleem met Van Rensburg se benadering is dat dit uiteindelik nie werklik ’n resensie is wat hy skryf nie. Dis ’n onkritiese ophemeling. Van Rensburg sal kan sê die ophemeling spruit uit ’n kritiese benadering, hy het maar net gefokus op die goeie aspekte.

Dit mag só wees – Crito het al in die verlede van sy resensies gelees wat baie skerp was. Maar die indruk wat mens kry uit sy retoriese styl, is dat hy kolporteur is, eerder as resensent. (Mnr. Lategan, dit was DJ Opperman wat “kolporteur” so mooi gebruik het. Maak dit van Crito ’n dooie?)

Dolf Els se aanpak is dié van ’n oud-joernalis wat nie huiwer om sy trots te laat deurskemer nie. Hy het ’n keuse gemaak van dinge wat hy uitsonder vir lof. In die proses kry enigiemand wat nie die boek gaan koop nie, tog ’n blik van die ontwikkeling en geskiedenis van ’n groot joernalistieke tradisie. Uiteraard ook die verloop van ’n eeu en die noodwendige veradering van gebruike by die koerant.

Els spreek ook kritiek uit oor leemtes in die inhoud (spesifiek die min verwysings na die Grensoorlog), en dit is hier waar sy benadering verskil van Cas van Rensburg s’n. Hy is nie ’n kolporteur nie. Crito sou net wou gesien het dat Els ’n paar ander dinge ook noem, onder meer die feit dat Die Burger se rol as houer van rekord aangetas is deur die feit dat dit so lank die amptelike mondstuk van die Nasionale Party was.

Maar laat Crito nie, soos gesê, té betrokke raak by die subteks nie.

1 antwoord op Ou skool

  1. Lekker woord Crito, dankie, ek het dit gaan soek. Uit WAT: kolporteur s.nw., (via Nederlands <Frans colporteur) Persoon, agent wat kolporteer of van kolportasie 'n beroep maak; boeksmous (pejoratief).

    Nee, dit maak nie van jou 'n dooie nie (die Opperman verwysing), jy's te WILD met daai sweep om enigsins soos Klara Majola verkluim te lê in die Bokkeveld se bros kapok.

    Jy's meer woedende brood en knetterende woord!

    Groete van huis tot huis.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.