Jy blaai in die argief vir 2017 April.

Profile photo of crito

by crito

Weergaloos

April 19, 2017 in Uncategorized

Wanneer kan mens vir ’n resensie kwaad word? Crito is ’n geduldige leser, maar afgelope Sondag het Herman Jansen dit wel deeglik reggekry om ’n verdomp of twee by die Crito-smoel te laat uitglip.

Jansen skryf oor Erns Grundling se Elders: My 1025 km te voet langs die Camino,  en Pienkes du Plessis se Ons Camino: ’n Spaanse avontuur.

Jansen se wegspringplek is die “gefladder” wat volgens hom in die Afrikaanse uitgewerswêreld veroorsaak is nadat twee skrywers boeke geskryf het en een ’n blog oor hul ervaring van die stap van die Camino. Grundling en Du Plessis het die boeke gepubliseer, dit stel hy as ’n feit, maar dui nie aan of Jeanne Els die skrywer van die blog is nie. Ons hoor net by Jansen dat ’n uitgewer dit nie wou publiseer nie.

Jansen is mal oor die metafoor van boksers in ’n bokskryt met NB-Utgewers as die een skeidsregter. Crito is nie deur Jansen ingelig wie die ander is nie. Boonop beweer Jansen dat NB-Uitgewers in “party kringe daarvan beskuldig word dat daar vooraf besluit is wie die wenner sou wees.”  (Verdomp, ja. “party kringe”. Seker maar Jansen se eie skepping. Hier het ons nou wragtag ’n resensie wat geskryf is asof dit gaan oor die grootte van die eiers wat daardie Van Joorsveld-kind van die Vrystaatse vlaktes kook in die plek waar die son nooit skyn nie.)

Maar lees mens verder, sien jy dat die boksers nie gelyktydig in die kryt was nie, en dat die metafoor weinig meer as ’n selfbevredigende vingeroefening is van die resensent.

Jansen vergelyk Grundling en Du Plessis se boek op ’n verbysterende manier. Crito is diep dankbaar om by Rapport te verneem dat Jansen self 330 kilometer van die Camino gestap het, maar dit is duidelik dat Jansen nie aan filosofiese diepgang gewen het tydens die tog nie. Du Plessis (volgens Jansen ’n “vrolike huppelkind”) se boek het kleurfoto’s en talle diep, ontroerende oomblikke, en Grundling het net swart-wit foto’s en “dink-wroeg-ontleed-verwerk-gestoei”. Jansen is só gefokus daarop om sy boks-beeld af te rond dat hy nie vir ons vertel van Du Plessis se diep oomblikke nie, of verder vertel van Grundling se “dink-wroeg-ontleed-verwerk-gestoei” as die ietwat negatiewe verwysings wat hy reeds gegee het nie.

Dis duidelik watter boek Jansen die maklikste gelees het. En dan skud hy die juk van sy boks-beeld af met die oppervlakkige opmerking dat “boekverkope [sal] sekerlik die ‘wenner’ bepaal”.

Laat Crito nou maar reguit wees: Dit is ’n vrot resensie. Sowel Du Plessis as Grundling kan voel hul boeke is misbruik sodat die resensent kan baljaar met die idee van ’n klomp skryfboksers en ’n gemene skeidsregter.

Ek gaan my daarvan weerhou om snedig te wees om Jansen se gesukkel om die resensie af te sluit. Dit lyk op die webblad asof hy ’n woorde-teiken had, en toe bygelas het om die resensie langer te maak. Die feit dat hy sy boksbetoog afsluit met “gee daai man ’n Bells” en ’n Johnny Walker-addendum, bevestig vir Crito dat hierdie resensie weergaloos is in sy oppervlakkigheid.

Profile photo of crito

by crito

Verskille

April 11, 2017 in Uncategorized

Die hemelsbreë verskil tussen resensies van literêre werke en ligter leesstof word pragtig belig in die twee besprekings van oorspronklike Afrikaanse boeke wat vandeesweek deur Boeke24 geplaas is: Bibi Burger s’n oor Alles het niet kom wôd van Nathan Trantraal, en Riaan Grobler s’n van Sielsmokkelaar van Leon van Nierop.

Burger se bespreking is uit die akademiese hoek geskryf: formeel, streng op die bundel af. As jy nie ’n brandende belangstelling in die digkuns het nie, gaan jy ná ’n paar paragrawe aanbeweeg. Crito het deurgedruk, pligshalwe.

Riaan Grobler vermeld dadelik dat Sielsmokkelaar ’n verwerking is van ’n roman wat reeds in 1996 verskyn het. Die vraag wat Crito dan dadelik vra, is hoekom iets wat reeds gepubliseer is, opnuut verwerk word. En is die verwerking ’n verbetering?

Sekerlik nie onbillike vrae om te vra nie. Grobler verskaf egter nie die antwoorde nie. Sy resensie bevat genoeg inligting oor die inhoud om die koerantleser sowel op hoogte te bring met die verhaal as om hom/haar ’n besluit oor die lees van die boek te laat neem.

Die resensie is minder formeel as Bruger se resensie, en op ’n manier hinder die dinge wat hy in paragraaf een in die lug laat hang ’n mens nie te veel nie. Crito sou wel baie graag wou geweet het of Sielsmokkelaar II beter is as Sielsmokkelaar I.

In Rapport Boeke het Jean Oosthuizen dit afgelope Sondag gehad oor Jurie van den Heever se Wat moet ons met ons Kerk doen? Crito verneem dat Oosthuizen die afgelope ruk moeilike tye beleef het met nagtelike foonoproepe uit die geledere van die mense wat hy so vreesloos in die NG Kerk aan die kaak gestel het.

Dit pla Oosthuizen duidelik nie. Hierdie resensie is weer eens op die punt af geskryf – en uiteindelik kan mens sien dat dit gaan oor die maniere waarop die NG kerk sy geloofwaardigheid kan behou. Crito vermoed wel dat so ’n lang en deeglike resensie uiteindelik net werklik gelees sal word deur die mense wat hulle bekommer oor die NG kerk.

Dit werp ook ’n ander vraag op: Moet alle boeke wat naastenby met die NG kerk en geloof te make het deur Jean Oosthuizen geresenseer word? Dalk, by wyse van afwisseling ’n slag weer vir Piet Croucamp of George Claassen ’n kans gee?

Profile photo of crito

by crito

Ou skool

April 4, 2017 in Uncategorized

Net twee resensies van die  afgelope week trek my aandag. Cas van Rensburg s’n oor Eindspel (Boeke24) die nuwe roman deur Wilna Adriaanse, en Dolf Els s’n oor Die Burger 100, ’n boek wat saamgestel is deur Bun Booyens en Aldi Schoeman (Rapport Boeke).

Crito bespeur natuurlik ’n subteks hierin, maar laat ons dit maar ignoreer ter wille van Klaas Vakie daar op Stellenbosch. Kom ek volstaan net deur te sê dat albei resensente oud-joernaliste is. Van Rensburg was by Beeld en Els by Die Burger, as ek dit nie mis het nie.

Albei het hul opdrag met deeglikheid uitgevoer. Dis op só ’n manier geskryf dat die koerantleser dit met plesier kan lees en met baie verworwe inligting agterna kan terugsit.

Van Rensburg het die goeie hoedanighede van Eindspel oorgedra, Els het die inhoud van die boek bespreek en in die proses die geskiedenis van ’n koerant getakseer en besing sonder om te klink soos ’n proseliet.

Van Rensburg laat ’n besorgdheid oor die toekoms van Afrikaans deurskemer. Sy opmerking oor die eerste sin van die boeke is, lyk dit vir Crito, daarop gemik om die belangstelling van sy lesers vas te maak met ’n sweem van nostalgie.

Die probleem met Van Rensburg se benadering is dat dit uiteindelik nie werklik ’n resensie is wat hy skryf nie. Dis ’n onkritiese ophemeling. Van Rensburg sal kan sê die ophemeling spruit uit ’n kritiese benadering, hy het maar net gefokus op die goeie aspekte.

Dit mag só wees – Crito het al in die verlede van sy resensies gelees wat baie skerp was. Maar die indruk wat mens kry uit sy retoriese styl, is dat hy kolporteur is, eerder as resensent. (Mnr. Lategan, dit was DJ Opperman wat “kolporteur” so mooi gebruik het. Maak dit van Crito ’n dooie?)

Dolf Els se aanpak is dié van ’n oud-joernalis wat nie huiwer om sy trots te laat deurskemer nie. Hy het ’n keuse gemaak van dinge wat hy uitsonder vir lof. In die proses kry enigiemand wat nie die boek gaan koop nie, tog ’n blik van die ontwikkeling en geskiedenis van ’n groot joernalistieke tradisie. Uiteraard ook die verloop van ’n eeu en die noodwendige veradering van gebruike by die koerant.

Els spreek ook kritiek uit oor leemtes in die inhoud (spesifiek die min verwysings na die Grensoorlog), en dit is hier waar sy benadering verskil van Cas van Rensburg s’n. Hy is nie ’n kolporteur nie. Crito sou net wou gesien het dat Els ’n paar ander dinge ook noem, onder meer die feit dat Die Burger se rol as houer van rekord aangetas is deur die feit dat dit so lank die amptelike mondstuk van die Nasionale Party was.

Maar laat Crito nie, soos gesê, té betrokke raak by die subteks nie.