Profile photo of crito

by

Kolonialisme

Maart 29, 2017 in Uncategorized

Noudat kolonialisme so sekuur in die kollig staan, lees Crito gretig aan nuwe geskiedkundige publlikasies. Resensies van daardie boeke is my kos. Seker daarom dat Wium van Zyl se bespreking in Rapport Boeke van Die VOC aan die Kaap 1652-1795, (onder redaksie van Con de Wet, Leon Hattingh en Jan Visagie) vir my die interessantste resensie van die afgelope ruk was.

Dit was helaas nie die knapste resensie nie. Wium van Zyl spring weg met die bestaansredes vir hierdie boek, dan die inhoud, maar kom laat in die resensie eers by een van die interessantste onderwerpe, naamlik die politieke raad se vergadering en uiteindelike besluit oor die invoer van slawe. Van Zyl meen daar word nie deeglik genoeg na hierdie onderwerp gekyk nie. (Mens kan sy punt snap – dis duidelik iets wat ’n merkwaardige uitwerking gehad het op die verloop van ons land se geskiedenis.)

Binne die huidige raamwerk van aktualiteit sou daardie vergadering en sy besluit, al is dit volgens Van Zyl hoe karig hanteer, die kapstok gewees het vir die resensie. ’n Resensie moet nie net ’n aftellysie van goeie hoedanighede en tekortkominge wees nie. Dit moet ook aansluit by die dinge wat vir die leser van die resensie belangrik is en aansluit by die teenswoordige politieke debat.

Van aktualiteit gepraat. Crito wonder wat as aktueel beskou word in die wêreld van die lettere. Gerda Taljaard-Prinsloo lig in haar bespreking van Marita van der Vyver se Misverstand (Rapport Boeke) ’n bietjie die sluier.

Van den Vyver se “kenmerkende” galgehumor is skynbaar in goeie werkende toestand wanneer sy skryf oor die literêre sirkus, en die literêre hekwagters, pryse, die kanon, verwaande skrywers, resensente en uitgewers en uiteraard die etes saam met uitgewers. (Crito wonder hoekom daar nie ’n literêre agent met vlesige lippe is nie?) Daar is skynbaar ook versluierde verwysings na lewende figure, en les bes onthul sy die groot waarheid: Om ernstig opgeneem te word, moet mens ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog skryf.

Taljaard-Prinsloo se resensie het die kenmerkende bou van ’n Afrikaanse literêre resensie, iets wat my Crito-voorsaad al verskeie kere uitgewys het. Crito het wel by die lees oor die literêre sirkus besluit om onmiddellik die boek aan te skaf. Natuurlik ook dadelik begin wonder of hierdie deel van die resensie nie ’n invalshoek vir ’n veel prikkelender resensie sou gewees het nie. Die res van haar argumentasie sou dan net anders verpak kon word.

Maar wie is Crito om te sê, nè?

Frederick J. Botha se resensie van As in die mond,  Nicole Jaekel Strauss se nuwe bundel kortverhale (Boeke24) is ook in ’n akademiese sleutel.

Mens lees die eerste paragrawe met die bedeesdheid van ’n student wat na ’n begaafde lektor luister, maar wanneer Botha in paragraaf vier die opmerking maak dat hierdie bundel ’n hoogtepunt in die Afrikaanse kortkuns is, dan besef selfs Crito dat Botha die resensie op geen ander manier kon geskrywe het nie.

Die resensie self is dig geskryf, tekenend van ’n resensent wat werklik hard probeer om die bundel se inhoud verstaanbaar te maak sonder om geheime te verklap. Elke resensent weet dat die outeur van die boek sy bespreking lees; oor evaluerings kan niemand argumenteer nie, maar die resensent weet dat hy ten minste aan die outeur moet wys dat hy deeglik gelees het. Botha lig die gewone leser in, en lig die hoed vir die outeur.

Daar was ook ’n resensie van Nadia: Paaie van hoop – die amper-biografie van Nadia Beukes, met hulp deur Jana van der Merwe. Lucia Swart-Walters is die resensent.

Die oomblik is vir Crito té groot.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.