Profile photo of crito

by

Die kat kom terug

Maart 6, 2017 in Uncategorized

Crito se sabbatsverlof is verby. Dis weer tyd om skouer aan die wiel te sit. Crito nommer hoeveel? Weet nie. Ken die voorgangers nie by die naam nie. Die kritiese mantel hang om nuwe skouers. Sê maar die wind het my losgewaai.

Ook net betyds. Dis asof die huis der lettere kêns geworre het, my kindertjies. Ek het nie besef daar word deesdae so baie Afrikaanse digkuns gepubliseer nie. Maar dit is sekerlik so, want dis net resensies oor digbundels waar jy kyk.

En as jy my nie glo nie, gaan kyk na die opgaaf deur PEN Afrikaans wat op LitNet gepubliseer is:
http://www.litnet.co.za/afrikaanse-resensies-en-boekgesprekke-januarie-2017/

Dis hartsverblydend om te sien dat Tom Gouws skryf oor Lina Spies se Sulamiet  (Boeke24). Ja, die huiskomlid van die digkuns het ‘n nuwe bundel in die winkels. Gouws is baie vriendeliker met haar as wat hy was met Ons Klyntji, wat mens laat vermoed dat Spies maar kan begin droom oor die  Hertzogprys. Nè?

Dia van Staden het ook op Die Groot Ontbyt (kykNet) daarna verwys, maar so half bolangs, soos dit maar met sulke TV-programme gaan: Kortliks, vinnig, want hulle het min tyd en lyk my op die meeste vier boeke kan genoem word.

Daniel Hugo het in Rapport Boeke in diepte na Sulamiet gekyk, en ek hou sommer baie van sy aanpak. Hy gaan haal sy argumentering by Peter Blum en WH Auden, en raak algaande meer betrokke by die bundel. Die manier waarop hy sy resensie struktureer dui op ‘n baie meer intieme omgaan met die gedigte as wat by Gouws die geval is; daarmee gee ek nie te kenne dat Gouws flentermenings uitspreek nie. Allermins.

Dit is ook goed om te sien dat Neil Cochrane weer resensies skryf. Hy het dit oor Susan Smith se Die aarde is ’n eierblou ark (Boeke24). Buiten die interessante dinge wat hy oor Smith se tuinverse sê, en die varsheid van sy styl van analise, het ek met genoegdoening gesien hoe lekker hy met tipografiese wit (saam met Smith) speel in die koerant. Jy sal dit nie op die sportblaaie sien nie.

Reinhardt Fourie is baie minder avontuurlik met die gedigte wat hy uit dieselfde bundel aanhaal in sy resensie op LitNet. Sy aanslag is meer akademies en in ’n resensiestyl wat goed bekend is. Sy argument is baie deeglik uiteengesit. Lees mens hierdie resensie saam met Cochrane s’n, is daar geen twyfel by jou dat Smith ’n gewikste digter is nie.

Johan Anker se aanpak (in sy bespreking van E. Kotzé se Soetloop, ook op LitNet) is eweneens meer tradisioneel. Mens moet egter onthou dat dit met E. Kotzé is wat hy te doen het, en dan meet mens die resensie aan die afwesigheid van die clichés wat in die verlede so baie gebruik is om Kotzé se unieke styl en inhoud te beskryf. Daar is min daarvan, en Anker is ’n deeglike resensent. Hy het die soort resensie geskryf wat sowel skrywer as uitgewer baie in hul skik sal maak.

Te oordeel na die soort boeke wat volgens die PEN Afrikaans-inventaris geresenseer is, is daar nie alteveel niefiksie die afgelope ruk gepubliseer nie. Dia van Staden het op Die Groot Ontbyt die aandag gevestig op die Tweetalige Woordeboek vir skole en My eerste ensiklopedie, maar dis aardig om van sulke boeke te hoor terwyl mens voel sy kon meer gemaak het van Deon Maas se Melk die heilige koeie. Of is Maas té woelig van gedagte vir die oggendklomp? Die kind sit ook nooit stil nie.

Ten slotte Lina Spies se enorme bespreking van Albert Blake se Broedertwis (op LitNet). Crito is nie haar grootste bewonderaar nie, maar hierdie bespreking is een wat ek met groot erns wil aanbeveel vir iemand wat belangstel in dít wat gedoen kan word wanneer ruimte nie ’n beperkende rol speel nie.

Spies se belesenheid en ruim verwysingsveld sorg dat sy ’n ressensie-essay in ses dele kan skryf wat groot in omvang is. maar tog só deeglik en interessant aangepak is dat mens dit in een sitting wil deurwerk.Sy is krities én begrypend. Sy reageer op Albert Blake se boek, nogtans word mens algaande daarvan bewus dat sy die boek meet aan haar kennis en siening van ’n heel besonderse onderwerp. En moet geen fout maak nie, Spies onderskat haar eie insigte hoegenaamd nie.

Nietemin, hierin lê vir my die kern van die skryf van resensies: Die resensent moet meet en reageer, alles met die verstandhouding dat die taksering tegelyk ewewigtig en subjektief sal wees.

Skitterend!

Ek wou ook oor die afgelope drie weke se resensies ’n eiertjie lê, maar sal maar liewers swyg. Benewens Jonathan Amid se loflied aan Irma Venter, na aanleiding van haar Sirkus (Boeke24), en Ronel Nel se stukkie oor Elkarien Fourie se Vat jou hele hart (selfde bron), was daar min wat Crito  geïnteresseer het. Die genoemde twee is interessante resensies, maar die een moes langer gewees het en die ander korter.

Hopelik sal die Woordfees die ennui verlig.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.