Jy blaai in die argief vir 2017 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Ironies of nie

Maart 23, 2017 in Uncategorized

Dis lekker om Louis Esterhuizen as rersensent te herontmoet. In Rapport Boeke neem hy Nathan Trantraal se Alles het niet kom wôd in die hand en behandel dit met die respek wat Crito verwag een digter vir ‘n ander moet hê.

Al moet ek erken dat ek nie so fluks is as dit kom by die koop van digbundels nie, laat Esterhuizen se bespreking Crito twee keer dink. Dalk tog koop – danksy Esterhuizen se versekering dat die bundel ‘n ryke skat van ironie oplewer.

En terwyl ek Esterhuizen se resensie lees, kry ek ook die gevoel dat ironie dalk Trantraal se redding sal wees. Esterhuizen haal een gedig aan waarin Trantraal vertel hoe hy sy kind waarsku teen die wit mense, wat haar siel sal steel en vir die duiwel opoffer. Dis nou ‘n nuwe siening van goeie vaderskap, bes moontlik selfs proudly South African.

Deborah Steinmair se resensie van Naomi Meyer se Web laat Crito wonder of ‘n mens nie dalk ‘n meer genuanseerde blik op die Suid-Afrikaanse problematiek sal kry in ‘n speurverhaal soos hierdie as in ‘n ironiefest soos Alles het kom niet wôd nie.

Trouens, dit klink of daar meer vernuwing en nuanse opgesluit is in die sosiale problematiek wat Meyer in Web aanspreek. Steinmair se opsomming en aanbeveling laat wel dié indruk. In die proses plaas sy ook haar vinger op die probleem waarmee die nuwe geslag Afrikaanse prosaskrywers te kampe het – hoe skryf ’n wit skrywer oor ’n bruin lewenservaring? Crito wag op die groter gesprek!

Ten slotte Fransjohan Pretorius se resensie van Jan Smuts: Afrikaner sonder grense (Boeke24). En van my voorganger-genante het hom al die ideale resensent van historiese publikasies genoem, en Crito wil dit net weer beaam. So maak mens!

Profile photo of crito

by crito

Krimineul

Maart 13, 2017 in Uncategorized

Deel van die dans (as ek ‘n stuitige term mag gebruik) is die resensent se bevestiging van sy gesag. Noem my Oom Crito, maar vir my val dit op dat veral jeugdiger en/of onbedrewe resensente die gejeuk voel om die dans deeglik te dans: Spring weg met breë uitsprake, onderlê jou opmerkings met ’n paar gepaste verwysings, en dan trippel jy voort na die boek onder bespreking.

Jonathan Amid se bespreking van Eindspel, ’n nuwe krimi deur Wilna Adriaanse (Rapport Boeke), toon die jonge Amid in volle vlugvingerige glorie. Dit is vir Crito verstaanbaar dat hy hierdie dans dans; hy is besig om hom te vestig as een van die knapste lesers en resensente van die genre.

Hy doen die werk onder bespreking geen skade aan nie. Wilna Adriaanse kan meer as tevrede voel met sy resensie. Die lees van die resensie sou egter heelwat meer vreugde gebring het as hy meer vertroue gehad het in sy eie gesag as resensent, en nie behoefte gevoel het om te wys dat hy al die steppies ken nie.

So driekwart deur die resensie maak hy die volgende opmerking: “Eindspel se grootste oomblikke (daar is heelwat) is geskoei op Adriaanse se bereidwilligheid om minder op die plot en polisieprosedure, en meer op karakterontwikkeling en handeling te fokus.”

Dit sou volledig sin gemaak het as hy die hele resensie oor daardie boeg gegooi het. Verduidelik wat die grootste oomblikke almal behels, en hoe Adriaanse se aanpak dit mobiliseer. Dan het al die ander dinge waarmee hy die dans gedans het, vanself in die verbygaan hulself aangemeld.

’n Laaste knorrigheid: Dit deug nie om ’n argument te probeer staaf deur te verwys na ’n roman wat nog nie verskyn het nie. Los dit uit. Dis die dinge van ’n kind daai. Koerantlesers hoef nie te weet dat jy naas resensent ook iemand is met voorkennis van publikasies nie.

Amanda Botha se bespreking in Rapport van Historikus Hermann Giliomee – ’n Outobiografie is gewis wat Crito van ’n bedrewe joernalis soos Botha verwag. Dit is ewewigtig, informatief, peilend. Ek het dit met aandag en genoegdoening gelees – totdat ek teen die einde vir myself vra: “En wat sou Sampie Terre’Blanche hiervan dink?”

Dit ís dikwels meer interessant om ’n bespreking te lees deur iemand wat ’n skeibreker is.

Schalk Schoombie is ’n joernalis, dramaturg, skrywer en nou ook resensent van Marita van der Vyver se jongste werk, Misverstand. As ongerehabiliteerde wellusteling het Crito die resensie met toegespitste aandag gelees. Schoombie het Crito netjies tot bedaring gebring en sal sy leiding by Schoombie neem, en verder in ’n mineurtoon skryf. Dis aansteeklik. Hy sê die boek is ook in daai toon geskryf.

Dit lyk vir my resensente het met Van der Vyver se werk ’n eiesoortige problematiek. Almal is hiperbewus van Griet skryf ’n sprokie. Almal het haar ontwikkeling daarna deur die jare gevolg, met sekere verwagtinge. Schoombie verwys na verskeie daarvan, maar Crito kry die gevoel, terwyl hy sy argument in mineurtoon ontwikkel, dat Schoombie ook met ’n mate van ironie skryf. Wanneer hy Zoë se oorryp taalgebruik aanhaal oor die seks wat sy gehad het op elke moontlike plek, tyd en manier, dan weet Crito dat Schoombie met ’n sweem van ’n glimlag vir jou sê dat dit eintlik hier gaan oor mense wat nie meer seks het op elke moontlike plek, tyd en manier nie.

En so aan.

Teen die einde van die resensie styg Crito se bewondering vir Schoombie as gebruiker van die meerduidige formulering. Sê hy: “Misverstand, deurgaans vloeiend in die mineurtoon van melancholie geweef, is nie die skrywer se boeiendste roman nie. Tog bied dit pitkos vir ouer word, internasionale omwentelinge en eietydse kwelvrae. As sulks is dit ’n gevoelige tydsdokument wat die leser noop om wyer te dink en te lees.”

Nè?

Profile photo of crito

by crito

Die kat kom terug

Maart 6, 2017 in Uncategorized

Crito se sabbatsverlof is verby. Dis weer tyd om skouer aan die wiel te sit. Crito nommer hoeveel? Weet nie. Ken die voorgangers nie by die naam nie. Die kritiese mantel hang om nuwe skouers. Sê maar die wind het my losgewaai.

Ook net betyds. Dis asof die huis der lettere kêns geworre het, my kindertjies. Ek het nie besef daar word deesdae so baie Afrikaanse digkuns gepubliseer nie. Maar dit is sekerlik so, want dis net resensies oor digbundels waar jy kyk.

En as jy my nie glo nie, gaan kyk na die opgaaf deur PEN Afrikaans wat op LitNet gepubliseer is:

http://www.litnet.co.za/afrikaanse-resensies-en-boekgesprekke-januarie-2017/

Dis hartsverblydend om te sien dat Tom Gouws skryf oor Lina Spies se Sulamiet  (Boeke24). Ja, die huiskomlid van die digkuns het ‘n nuwe bundel in die winkels. Gouws is baie vriendeliker met haar as wat hy was met Ons Klyntji, wat mens laat vermoed dat Spies maar kan begin droom oor die  Hertzogprys. Nè?

Dia van Staden het ook op Die Groot Ontbyt (kykNet) daarna verwys, maar so half bolangs, soos dit maar met sulke TV-programme gaan: Kortliks, vinnig, want hulle het min tyd en lyk my op die meeste vier boeke kan genoem word.

Daniel Hugo het in Rapport Boeke in diepte na Sulamiet gekyk, en ek hou sommer baie van sy aanpak. Hy gaan haal sy argumentering by Peter Blum en WH Auden, en raak algaande meer betrokke by die bundel. Die manier waarop hy sy resensie struktureer dui op ‘n baie meer intieme omgaan met die gedigte as wat by Gouws die geval is; daarmee gee ek nie te kenne dat Gouws flentermenings uitspreek nie. Allermins.

Dit is ook goed om te sien dat Neil Cochrane weer resensies skryf. Hy het dit oor Susan Smith se Die aarde is ’n eierblou ark (Boeke24). Buiten die interessante dinge wat hy oor Smith se tuinverse sê, en die varsheid van sy styl van analise, het ek met genoegdoening gesien hoe lekker hy met tipografiese wit (saam met Smith) speel in die koerant. Jy sal dit nie op die sportblaaie sien nie.

Reinhardt Fourie is baie minder avontuurlik met die gedigte wat hy uit dieselfde bundel aanhaal in sy resensie op LitNet. Sy aanslag is meer akademies en in ’n resensiestyl wat goed bekend is. Sy argument is baie deeglik uiteengesit. Lees mens hierdie resensie saam met Cochrane s’n, is daar geen twyfel by jou dat Smith ’n gewikste digter is nie.

Johan Anker se aanpak (in sy bespreking van E. Kotzé se Soetloop, ook op LitNet) is eweneens meer tradisioneel. Mens moet egter onthou dat dit met E. Kotzé is wat hy te doen het, en dan meet mens die resensie aan die afwesigheid van die clichés wat in die verlede so baie gebruik is om Kotzé se unieke styl en inhoud te beskryf. Daar is min daarvan, en Anker is ’n deeglike resensent. Hy het die soort resensie geskryf wat sowel skrywer as uitgewer baie in hul skik sal maak.

Te oordeel na die soort boeke wat volgens die PEN Afrikaans-inventaris geresenseer is, is daar nie alteveel niefiksie die afgelope ruk gepubliseer nie. Dia van Staden het op Die Groot Ontbyt die aandag gevestig op die Tweetalige Woordeboek vir skole en My eerste ensiklopedie, maar dis aardig om van sulke boeke te hoor terwyl mens voel sy kon meer gemaak het van Deon Maas se Melk die heilige koeie. Of is Maas té woelig van gedagte vir die oggendklomp? Die kind sit ook nooit stil nie.

Ten slotte Lina Spies se enorme bespreking van Albert Blake se Broedertwis (op LitNet). Crito is nie haar grootste bewonderaar nie, maar hierdie bespreking is een wat ek met groot erns wil aanbeveel vir iemand wat belangstel in dít wat gedoen kan word wanneer ruimte nie ’n beperkende rol speel nie.

Spies se belesenheid en ruim verwysingsveld sorg dat sy ’n ressensie-essay in ses dele kan skryf wat groot in omvang is. maar tog só deeglik en interessant aangepak is dat mens dit in een sitting wil deurwerk.Sy is krities én begrypend. Sy reageer op Albert Blake se boek, nogtans word mens algaande daarvan bewus dat sy die boek meet aan haar kennis en siening van ’n heel besonderse onderwerp. En moet geen fout maak nie, Spies onderskat haar eie insigte hoegenaamd nie.

Nietemin, hierin lê vir my die kern van die skryf van resensies: Die resensent moet meet en reageer, alles met die verstandhouding dat die taksering tegelyk ewewigtig en subjektief sal wees.

Skitterend!

Ek wou ook oor die afgelope drie weke se resensies ’n eiertjie lê, maar sal maar liewers swyg. Benewens Jonathan Amid se loflied aan Irma Venter, na aanleiding van haar Sirkus (Boeke24), en Ronel Nel se stukkie oor Elkarien Fourie se Vat jou hele hart (selfde bron), was daar min wat Crito  geïnteresseer het. Die genoemde twee is interessante resensies, maar die een moes langer gewees het en die ander korter.

Hopelik sal die Woordfees die ennui verlig.