Jy blaai in die argief vir 2016 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Iets nuuts

Desember 6, 2016 in Uncategorized

Fotostaatmasjien, deur Bibi Slippers.
Resensie: Charl-Pierre Naudé (Boeke24)
Heerlike resensie oor Afrikaanse digkuns in ’n nuwe sleutel. Lyk dit my. Naudé begin lig en speels en dan rig hy hom tot die spesialismark van poësie-leifhebbers en -bedrywers. Dit is ’n resensie wat meer trefkrag sou gehad het as Naudé baie aanhalings uit die bundel kon gebruik het. Ek kan aan geen rede dink hoekom dit nie ten minste op die webweergawe van die resensie bygevoeg kon word nie. Ook ’n lekkerslotsin: “Intussen gaan ’n klomp mummies in die hall of fame regop sit.”

Die leliemoordenaar, deur Lerina Erasmus.
Resensie: Helen Schöer (Boeke24)
Uiteindelik! Erasmus het die wonderlike “lokbokkom” geskep vir “red herring”. Schöer gebruik dit, en nou moet ons net sorg dat dit WAT se ore bereik. Die resensie: Onderhoudend, en ’n lekker slot waarin sy Erasmus se gebruik van amarillis-bolle benut om die leser op nuuskierigheidsgrondslag te plaas.

Profile photo of crito

by crito

Al rondom die slaggate

Desember 1, 2016 in Uncategorized

Die dood van ’n goeie vrou, deur Chris Karsten.
Resensie: Kerneels Breytenbach (Boeke24)
Het “kragtoer” nie ’n uitgediende begrip in resensies geword nie? Dis ’n woord met dieselfde gebruikfrekwensie as ikoon, stunning en fantasties. Wanneer ’n resensent dit inspan, voel ek dadelik ongemaklik. Soos Breytenbach hier in sy finale oodeel doen: “Dit is eintlik ’n redelik eenvoudige verhaal, maar die vertel daarvan, en die manier waarop Karsten dit doen, maak dit so ’n kragtoer.” Andersins is dit ’n sterk resensie, en moet ek sekerlik nie my wantroue in geykte taalgebruik gebruik om fout daarmee te vind nie. Breytenbach vermy die gebruiklike slaggate. Hy vertel nie die verhaal in detail oor nie, hy fokus eerder op die elemente wat Die dood van ’n goeie vrou ’n goeie speurroman én ’n heerlike leeservaring maak. ’n Resensie wat veral deur die skrywer van die boek geniet kan word.

Syferfontein, deur Cas Wepener.
Resensie: Frederick Botha (Boeke24)
Frederick Botha is een van die nuwe geslag resensente wie se skrywes ek hoog takseer. ’n Mens lees sy resensies met ’n gevoeligheid vir toon. Hierdie keer baie gedemp. Die roman bevat goeie idees, maar word geskaad deur ’n eenselwigheid van aanslag. Min variasie dus, baie verveling.

Moord op Karibib, deur Isa Konrad.
Resensie: Helen Schöer (Boeke24)
Een van die moeilikste soort resensies om te skryf, is dié oor ligte leesstof. Daar is weinig om werklik aan die groot klok te hang, en die kuns lê daarin dat mens die verhaal moet opdollie op ’n manier wat geen geheime verklap nie, en sonder om dit in detail te parafraseer. Dit is een van die kere waar die resensent deurentyd bewus bly van sy medium, in hierdie geval ’n dagblad. Helen Schöer se resensie is absoluut nommerpas in hierdie raamwerk.