Profile photo of crito

by

Die monde loop oor

November 2, 2016 in Uncategorized

Wat die hart van vol is, deur Peter Veldsman.
Resensie: Emile Joubert (Boeke24)
Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Boeke)
Ek het hierdie herinneringstog deur Peter Veldsman se lewe gelees en baie geniet. Daarom weet ek ook dat Veldsman albei die resensente reeds baie jare lank ken, en gee dit my ’n effens ander perspektief as wat die lees van ’n resensie soos dié deur André Wessels oor Nonnie de la Rey mens gee. Daar is persoonlike toegeneëntheid, bewondering en seer sekerlik ook ’n mate van toeskietlikheid. Nie dat dit hinder nie. Albei resensente knoop jou aandag vas met die manier waarop hulle Veldsman en sy boek lof toeswaai. Joubert (wie se pa, Fritz, ‘n sleutelrol in Veldsman se loopbaan gespeel het) fokus op inhoud en lewenslyn, Breytenbach op persoonlike belewenis en ’n meer oorsigtelike taksering van Veldsman se plek in die Afrikaners se kultuur. Joubert gee krediet vir Veldsman se openhartigheid; ek voel dat Breytenbach nog groter klem kon laat val het op die boek se “vroedvrou”, Elmari Rautenbach. Joubert doen dit wel. Wat die hart van vol is is Peter Veldsman se monument, maar dit lewer ook vir Afrikaanse lesers ’n verwysingspunt ten opsigte van uitnemende redaksionele werk. Ek het Veldsman al verskeie male by demonstrasies hoor praat, en bondigheid is nie sy grootste bate nie. Rautenbach het hom saakliker gemaak, dis vir seker.

Nonnie de la Rey, deur Zelda Rowan.
Resensie: André Wessels. (Boeke24)
Wanneer is ’n MA-verhandeling wat dertien jaar gelede geskryf is die moeite werd om gepubliseer te word? André Wessels verduidelik in detail. Die invalshoek is dié van ’n akademikus; dit sou dalk ’n goeie idee gewees het om Nonnie de la Rey die mens die invalshoek te gemaak het om die dorre bowetoon van hierdie soort resensie te vermy.

Die dood van ’n goeie vrou, deur Chris Karsten.
Resensie: Deborah Steinmair. (Rapport Boeke)
Buiten nou die een mank sin (“Ná sy heengaan is Chris Karsten se protagonisspeurder Ella Neser, die vrou wat met Lotz klaargespeel het.”) is hierdie weer ’n eersteklas resensie uit Steinmair se pen. Sy gebruik ’n onlangse uitlating deur die skrywer Lionel Shriver om mens in te lei na die kern van Karsten se skryfkuns: Die manier waarop hy karakters van binne-uit ontgin. Sy som die inhoud netjies op, verklap geen geheime nie, maak jou nuuskierig, maar wat sy eintlik doen, is om sonder ophef dit baie duidelik te maak dat Karsten ontwikkel het in ’n top skrywer van meer substansiële speurfiksie. Iemand wat selfs die literatore sou bevredig.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.