Jy blaai in die argief vir 2016 November.

Profile photo of crito

by crito

Woorde

November 15, 2016 in Uncategorized

Goudduiwel, deur Duane Aslett.
Resensie: Joan Hambidge (Rapport Boeke)
Nie Hambidge op volle toere nie. Weer een van daardie resensies waarin die paragrawe so half op hul eie staan. Soms werk dit, soms nie. “Die voorblad bemark die boek egter nie heeltemal reg nie,” lui een van hulle. O ja, wil mens antwoord. Verduidelik ’n bietjie… Maar dis een van die paragrawe in die middel van die resensie wat my laat besef het Hambidge moes hierdie resensie eers ’n bietjie laat lê het voordat sy dit voorgelê het. Sy skryf: “En as leser van speurverhale (en regte speurverhale, nie die getjommel wat hier te lande as speurverhale paradeer nie), word die klassieke Edgar Allan Poe se The Purloined Letter vermeld, boeke oor die Krugerwildtuin en selfs die indertydse Prins van Pretoria, ’n hartseer grap.” Ek is nie heeltemal seker of die sin in sy geheel sin maak nie. Maar die gedeelte in hakies oor die getjommel wat hier te lande as speurverhale paradeer, dié verstaan ek goed, en ek weet dit is snert. As mens sulke breë veralgemenings maak, sluit jy Andrew Brown, Deon Meyer, Diale Thlolwe, Mike Nicol, Chris Karsten, Karen Brynard, Rudie van Rensburg, Chris Marnewick, Margie Orford, Sifiso Mzobe en vele meer in as ontvangers van jou woeste klap. Het sy regtig nagedink oor wat sy besig was om hier te sê? Ek glo nie.

Soetloop, deur E. Kotze.
Resensie: Johan van Zyl (Boeke24)
Een van daardie resensies wat só lekker lees dat jy die resensent enige dwalings sal vergewe. Dit gaan oor geesdrif vir die skrywer, en begrip vir die verhaal wat sy vertel. As ou bewonderaar van Kotzé se skryfwerk het ek geglimlag oor Van Zyl se reaksie op haar taalgebruik. Mens kan die bekoring daarvan nooit ontsnap nie. Ek kan darem vir hom verheldering bring oor een van sy vrae. “Prens en vrede” is afgelei van ’n ou uitdrukking – “pais en vree”. Ek wonder of die skrywer nie iewers helderte wil bring oor die ander uitdrukkings wat Van Zyl lys nie. Sal ook graag wil weet!

Profile photo of crito

by crito

Selftug

November 8, 2016 in Uncategorized

Vloeibare middelpunt, deur Martjie Bosman.
Resensie: Marius Crous (Rapport Boeke)
Crous benader die bundel op heel interessante manier. Hy plaas die bundel en gedigte binne die raam van alles waarby dit aansluit: Ryan Loubser, Brittanje, Skandinawië, Oerder, Hölderlin, die museum in Graaff-Reinet, DJ Opperman en Eben Venter. Sekerlik die heel beste manier om belangstelling gaande te maak. Al wat hinder, is dat sommige van die verse (of gedeeltes daarvan) nie werklik sterk poësie is nie, en hy hom nie daaroor uitspreek nie:  “vergeet nie die histerie en haat wat hyg / waar velle van spikkelbeeste bedrieglik / stil gesprei lê oor ’n skynbaar stabiele bodem.”

Maestro, deur Marié Heese.
Resensie: Johann de Lange. (Rapport Boeke)
Hierdie resensie het ‘n sterk gevoel van vreemdheid oor my gebring. In die tyd waarin almal net praat oor Zuma en staatskaping en Trump en Clinton, word die aandag weggebuig na ‘n roman in Afrikaans oor ‘n Italiaanse beeldhouer wat in die sestiende eeu gebore is en sy grootste werk in die sewentiende eeu gelewer het. Maar die resensent is iemand vir wie se mening ek groot respek het, en hy beveel dit aan as ‘n heerlike heenkome in die Desembervakansie. Slim.

Indeks, deur Joan Hambidge.
Resensie: Tom Gouws. (Boeke24)
Ek kan nie onthou wanneer laas ek op ‘n Maandag soveel mailtjies oor een resensie ontvang het nie. Leedvermaak by die Hambidge-haters, woede by die Hambidge-bewonderaars. Ek het nie besef die digkuns kan nog sulke gevoelens uitlok nie. Nou ja, Tom Gouws het sy nek nogal ver uitgesteek hier. Hy vind in die hele bundel net tien goeie gedigte. Hy weeg die uitgewer se lofsang vir die bundel en vind dit totaal oordrewe. Hy maak snydende opmerkings oor Hambidge se publikasiewaansin en selftug, en som dit ten slotte op met ‘n opmerking wat sekerlik nie onbeantwoord gaan bly nie: Sy is ‘n major minor poet. Hoe ‘n mens ookal oor die resensie voel, ek is seker dat dit die wydsgelese resensie oor ‘n digbundel is wat in baie jare verskyn het. Dit maak my vreemd genoeg baie nuuskierig om die bundel te kry en te kyk of mens Gouws moet gelyk gee. In hierdie opsig moet ‘n mens sekerlik besluit dat dit ‘n baie goeie resensie is – uiters effektief binne die konteks van ‘n koerant se boekeblad.

Profile photo of crito

by crito

Die monde loop oor

November 2, 2016 in Uncategorized

Wat die hart van vol is, deur Peter Veldsman.
Resensie: Emile Joubert (Boeke24)
Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Boeke)
Ek het hierdie herinneringstog deur Peter Veldsman se lewe gelees en baie geniet. Daarom weet ek ook dat Veldsman albei die resensente reeds baie jare lank ken, en gee dit my ’n effens ander perspektief as wat die lees van ’n resensie soos dié deur André Wessels oor Nonnie de la Rey mens gee. Daar is persoonlike toegeneëntheid, bewondering en seer sekerlik ook ’n mate van toeskietlikheid. Nie dat dit hinder nie. Albei resensente knoop jou aandag vas met die manier waarop hulle Veldsman en sy boek lof toeswaai. Joubert (wie se pa, Fritz, ‘n sleutelrol in Veldsman se loopbaan gespeel het) fokus op inhoud en lewenslyn, Breytenbach op persoonlike belewenis en ’n meer oorsigtelike taksering van Veldsman se plek in die Afrikaners se kultuur. Joubert gee krediet vir Veldsman se openhartigheid; ek voel dat Breytenbach nog groter klem kon laat val het op die boek se “vroedvrou”, Elmari Rautenbach. Joubert doen dit wel. Wat die hart van vol is is Peter Veldsman se monument, maar dit lewer ook vir Afrikaanse lesers ’n verwysingspunt ten opsigte van uitnemende redaksionele werk. Ek het Veldsman al verskeie male by demonstrasies hoor praat, en bondigheid is nie sy grootste bate nie. Rautenbach het hom saakliker gemaak, dis vir seker.

Nonnie de la Rey, deur Zelda Rowan.
Resensie: André Wessels. (Boeke24)
Wanneer is ’n MA-verhandeling wat dertien jaar gelede geskryf is die moeite werd om gepubliseer te word? André Wessels verduidelik in detail. Die invalshoek is dié van ’n akademikus; dit sou dalk ’n goeie idee gewees het om Nonnie de la Rey die mens die invalshoek te gemaak het om die dorre bowetoon van hierdie soort resensie te vermy.

Die dood van ’n goeie vrou, deur Chris Karsten.
Resensie: Deborah Steinmair. (Rapport Boeke)
Buiten nou die een mank sin (“Ná sy heengaan is Chris Karsten se protagonisspeurder Ella Neser, die vrou wat met Lotz klaargespeel het.”) is hierdie weer ’n eersteklas resensie uit Steinmair se pen. Sy gebruik ’n onlangse uitlating deur die skrywer Lionel Shriver om mens in te lei na die kern van Karsten se skryfkuns: Die manier waarop hy karakters van binne-uit ontgin. Sy som die inhoud netjies op, verklap geen geheime nie, maak jou nuuskierig, maar wat sy eintlik doen, is om sonder ophef dit baie duidelik te maak dat Karsten ontwikkel het in ’n top skrywer van meer substansiële speurfiksie. Iemand wat selfs die literatore sou bevredig.