Profile photo of crito

by

Ovasie

Oktober 5, 2016 in Uncategorized

Maestro, deur Marié Heese.
Resensie: Joan Hambidge (Boeke24)
Joan Hambidge haal plek-plek die groot akademiese hamers uit, wat hierdie resensie baie nuttig sal maak vir studente en navorsers, maar vir die koerantleser miskien verwarrend sal wees. Goed, mens kan aanneem dat diegene wat hierdie resensie lees, ’n baie goed gefundeerde belangstelling het in die letterkunde en die idees van Roland Barthes sal ken. Wat my prikkel, is Hambidge se gebruik daarvan om die roman en sy bekoring vir die koerantleser oop te sprei. Die opmerkings wat sy maak, laat nie ruimte vir agterdog nie, en wanneer sy sê Maestro is ’n okkasie vir ’n staande ovasie, wil jy amper hande klap. Wat ’n pragtige kompliment!

Koukonap, deur Johann Botha.
Resensie: Charles Smith (Boeke24)
Ek het nie gedink ek sou ooit verlang na ’n meer akademiese bespreking van ’n boek nie, maar in hierdie geval doen ek dit beslis. Charles Smith se resensie is heeltemal toereikend op die vlak van ’n intelligente reaksie op ’n boek se inhoud. Trouens, die resensie verloop eersteklas tot by die punt waar hy opmerk dat nie al die karakters volrond is nie. Ook maar die klok hoor lui; as die sentrale karakters nie volrond is nie, sou mens nog dié beswaar snap. Dit is ongelukkig so dat dit van geen skrywer verwag kan word om alle karakters in ’n roman volrond te teken nie. En gee Charles Smith dit ter ere dat hy hier amper ’n essay geskryf het, met ’n besonder treffende afsluiting. Maar omdat mens nou klaar snuf in die neus gekry het, lees jy weer, en jy besef hy het waarskynlik geen idee van Johann Botha se vorige skryfwerk nie, of die kwaliteit daarvan nie.

Drieklawerblaar, deur Christine Barkhuizen-le Roux.
Resensie: Marida Fitzpatrick (Boeke24)
Dit klink na ’n verwikkelde roman, maar hoekom is die resensie só voorspelbaar? Inhoud en lof, gebreke en slotsom. Mening positief. Dan kyk mens maar na die dinge wat die resensent gehinder het. Daar is ’n oorverduideliking van karakters (een van hulle som sy eie aard op). Moet mens aanneem dit geld ook al die ander karakters? Dan: Dialoog wil nie altyd vlot nie. Kan hompe lang dialoog op een bladsy werklik ’n deurlopende gebrek aandui? Wat het skeefgeloop? Ek dink dat as Marida Fitzpatrick die kans kry om iets te resenseer, sy meer ruimte gegun moet word om dit te doen. Sy is ’n gewikste joernalis en moet die kans kry om haarself beter uit te druk en haar punte behoorlik te illustreer. Min ruimte dwing selfs die skranderste resensente om volgens formule te skryf, en dan pootjie hulle hulself met veralgemenings. (Nota: Pierre Brink se vraag onderaan die resensie op die Netwerk24-webblad is ’n baie geldige vraag. Is dit nie “Drieblaarklawer” nie?)

Ek! Ek! Ek!: Herken en hanteer narsiste, deur Riette Rust
Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke).
Resensie: Kerneels Breytenbach (Boeke24)
Twee uiteenlopende benaderings tot dieselfde boek; Lategan skryf langer en in meer detail, terwyl Breytenbach die boek en sy onderwerp herlei na ’n bekende hedendaagse narsis, en vandaar dieselfde aanpak as Lategan het. Albei resensies maak my nuuskierig genoeg om die boek te wil aanskaf (omrede my skoonpa, kan dit hier in Anonimia maar seker hardop sê …). En tog is daar iets wat hinder: Hoekom is daar nie ook ’n kenner/sielkundige gekry om die boek te bespreek nie?

1 antwoord op Ovasie

  1. Twee sielkundiges het wel die voltooide manuskrip van “EK! EK! EK! Herken en hanteer narsiste” vir moontlike feitefoute nagegaan. Dr. Joan Swart, forensiese sielkundige, gee kortliks kommentaar op die agterplat. Sy skryf: “Omvattend, goed nagevors en insiggewend. Lekker leesstof.”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.