Jy blaai in die argief vir 2016 September.

Profile photo of crito

by crito

Die een en die ander

September 21, 2016 in Uncategorized

’n Hunkering se grein, deur Johann de ­Lange. Resensent: Daniel Hugo (Boeke24)

Taalmeester weeg taalmeester. Daniel Hugo se oordeel is ’n goeie barometer vir alle liefhebbers van die digkuns. Met hierdie resensie verval hy nie in ingewikkelde literêre formulerings nie. Hy takseer en spreek hom reguit uit: Sommige dinge slaag, ander nie heeltemal nie. En uiteindelik trek hy tog kopers vir die bundel – die opmerkings oor die gebruik van die moeilike villenelle-versvorm is genoeg om mens te laat uitslaan van nuuskierigheid.  En die aanhalings is gepas – diegene wat De Lange se oeuvre volg, sal weet dat hy met die jare net aan vernuf wen. Soos altyd slaan Hugo se bedeesde toon deur, asook bewondering.

Amatola, deur Piet van Rooyen. Resensent: Deborag Steinmair (Boeke24)

Goed, dis duidelik dat Steinmair haar vantevore in Van Rooyen se skryfwerk verdiep het. Dis ewe duidelik dat sy Amatola behoorlik gelees het en ’n leuenverklikkertoets daaroor sal kan ondergaan en slaag. Maar hoekom dan lees ’n mens hierdie resensie en jy dink: Dankie, maar nee dankie? Geesdrif nie oorgedra nie.

Profile photo of crito

by crito

Bietjie plus, baie minus

September 6, 2016 in Uncategorized

Jean Meiring beskryf Elsabé Brits se Emily Hobhouse: Geliefde verraaier in Boeke24 as “’n koevoet van ’n boek”. Amanda Botha voel weer in Rapport Boeke dat dit ’n “boek vir ons tyd” is wat “besinnend gelees” moet word.

Albei resensies bevestig ’n persepsie wat nou al ’n paar maande aankom – Elsabé Brits het hier een van die jaar se groot publikasies die lig laat sien, iets wat almal behoort te lees. (Ek is besig daarmee op my Kindle, bygesê.)

Sowel Meiring as Botha laat hul klem val op Hobhouse se geskiedenis – die betekenis van haar dade, die uitwerking daarvan op haar lewe. Dit is jammer dat albei hierdie invalshoek vir hul resensies gebruik het – albei het in die proses nie reg laat geskied aan òf die skrywer  òf die boek nie.

Nie een van die twee resensente bekyk die struktuur wat Brits vir haar boek gekies het, behoorlik nie. Daar is lof in die breë, maar die gehalte van die skryfwerk word nie behoorlik getakseer nie. Elsabé Brits is een van die nuwe geslag joernaliste van wie daar sekerlik nog baie in die toekoms verwag kan word. Iemand wat daagliks in haar vakgebied aktief is, maar ook in soveel meer geïnteresseerd is dat ’n mens seker kan wees Emily Hobhouse is maar net die eerste van haar onderwerpe.

Daar is sekerlik baie te sê oor haar taalgebruik en die manier waarop sy met taal omgaan. Meiring en Botha het hier die kans deur hul vingers laat glip om die kaliber van Brits se skryfwerk aan te teken.

In samehang daarmee toon albei resensies ’n ander baie groot leemte. Nie een van die twee het skynbaar al gehoor van Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde en Emily Hobhouse – The Boer War Letters nie. Hoe mens ookal oor resensies dink, die een ding wat ’n resensent móét doen, is om ’n boek met sy voorgangers te vergelyk.

Nie alleen sou dit vir hulle dan makliker gewees het om Brits se styl te beoordeel nie, maar ook sou hulle vir die moderne leser ’n idee kon gee presies hoeveel Brits aan ons kennis oor Hobhouse toegevoeg het.

As ek Brits was, sou die een vraag wat ek graag beantwoord wou hê, hierdie een wees: “Hoe vergelyk my boek met Rykie s’n?” Daardie antwoord kry sy nie.

Wat help dit Botha verwys na die interessantheid van die aanbod as sy nie ’n verwysingspunt ook gee nie? Wat help dit Meiring betrek die metateks as hy geen bewustheid toon van die publikasiekonteks nie?

Dit het beperkte sin om ’n boek as geslote eenheid te resenseer. Dit is totaal sinloos om dit só te doen wanneer die boek se voorgangers Heldin uit die vreemde (bekroon met die Scheepersprys) en Emily Hobhouse – The Boer War Letters (bekroon met die Recht Malan-prys) is.

Positiewe resensies, swak geskryf. Elsabé Brits het goeie rede om op haar tande te kners.