Profile photo of crito

by

Sonderling

Julie 12, 2016 in Uncategorized

Twee sonderlinge resensies onder die jongste oes. Helize van Vuuren oor Die na-dood van Breyten Breytenbach (Boeke24), en Deborah Steinmair oor Irna van Zyl se Moordvis (Rapport Boeke). Dis miskien makliker om te begin by Steinmair se bespreking, want dit vervul sy funksie as boekresensie.

In soverre dit moontlik is om ’n patroon of procédé te bespeur in enige resensente se resensiestyl, kan mens sê dat hierdie ene buite Steinmair se patroon val.

Goed driekwart van die resensie is afgestaan aan die oordra van ’n verhaalsamevatting. ’n Mens kry dadelik die spesmaas dat Steinmair nie heeltemal in vervoering is met Moordvis nie. Sy probeer wel om die verhaalsamevatting aan te bied in formulerings wat mens se belangstelling sal prikkel, maar dis ’n ongemaklike proses.

Daarna kom Steinmair se reaksie. Om te sê dat sy underwhelmed is, is omtrent dieselfde as om te konstateer dat Susan Sontag maklik sigbare wenkbroue het. Die toon is gedemp, die loftuitinge huiwerig: “Dis ’n heel vaardig geweefde misdaadroman; lig en vol kinkels.”  Bespeur ’n mens ’n onuitgesproke gevoel by die resensent dat die gegewe nie werklik iets nuuts tot misdaadromans bring nie? Sien: “Dit bevat al die clichés wat die resep vereis …”

Dan uiteindelik ’n evaluering met die goedkeuring in klein maat: “Moordvis poog nie om meer as ’n onderhoudende spanningsverhaal te wees nie” met ’n brons sterretjie op die kinnertjie se voorkop: “lesers behoort te byt en die hoek te sluk”. Eina.

Helize van Vuuren se resensie van Die na-dood is fris geskryf, maar daar is feitlik nie ’n paragraaf waarin daar nie iets opduik wat mens irriteer nie. Ek weet nie of dit Van Vuuren se pogings is om haar gewaarwordinge van die bundel presies te verwoord nie. In die eerste sin smak “nader runnikende apokalips” na pretensie. Daarna storm sy voort en sê die bundel is soos ’n “simfonie van sand”. Wat op aarde beteken dit? Kom die verwysing uit die bundel self? Of is sy net opgepluk met die idee van gekonkretiseerde klank? (En liewe prof Van Vuuren: Sand kan Kalahari-fynsand of harde Ermelo-kluite wees …)

Daarna raak sy die pad verder byster. Om in ’n dagblad-resensie te verwys na Paul Celan se Heidegger-vers “Todtnauberg” sonder om dit behoorlik te verduidelik, is sommer net vertonerigheid.

Vervolgens raak Van Vuuren slaags met die bundel, al die implikasies en betekenisse. Enigiemand wat die volle nut van hierdie resensie wil hê, sal dit net kry met die bundel byderhand.

Ek dink nie Van Vuuren het reg laat geskied aan haar eie insigte of die bundel nie. Om ’n voorbeeld te gee: Diep in die resensie sê sy “Die na-dood sluit aan by die eksperimentele Amerikaanse poësie van ná September 2001, teen die grein van enige bekende tradisie. “ As sy nét hierdie opmerking as uitgangspunt gebruik het en die hele bespreking in daardie teken bespreek het, sou haar bespreking moontlik meer verstaanbaar gewees het. Maar sy sê dit net en huppel dan voort na haar volgende insig, en dan nog een, en nog een.

Soos dit is, probeer sy om die rykdom aan inhoud van die gedigte alles onder die loep te bring – sekerlik ’n onmoontlike taak.

Wat inhoud betref, is dit gewis nie ’n swak poging nie. Van Vuuren bly een van die beste ontleders van digkuns, dis net jammer dat sy nie haar insigte kan formuleer op ’n manier wat vir ’n koerantleser onmiddelik sin sal maak nie. Het hierdie bespreking by LitNet verskyn, sou sy die oorvloed van ruimte sekerlik aangewend het om baie van die hangende opmerkings te belig.

Ongelukkig is die bestemming van haar resensie ’n koerant met ruimtebeperkings en ’n leserspubliek wat die resensie “koud” lees. Verloor mens sig van dié konteks, verloor jy ook jou lesers.

9 antwoorde op Sonderling

  1. Oor “simfonie van sand” – vir die wat wonder, is die antwoord ‘n google soektog ver!

    1. Kaalvoetsong – Laurika Rauch
    http://www.laurikarauch.com/?song=kaalvoetsong

    Met woorde soos die sand. En kommas soos die klippies. Wat my kaalvoetsole brand. En ek sing vir jou ‘n klein refrein. Nie ‘n simfonie van klank nie.

    2.Symphony of the sands | The National
    http://www.thenational.ae/news/uae-news/science/symphony-of-the-sands

    The science of singing sand is so new that there is still controversy among physicists over what most accurately describes it.

    En die resensie is geskryf vir Breytenbach-lesers, mense met “die bundel byderhand”…of binnekort, na aanskaf, “byderhand”. Wie anders sou in ieder geval belangstel? Daar is net om en by 42 lede van die Afrikaanse Letterkunde-vereniging oor, by laaste telling in 2010. Die res pak in vir Perth, of probeer kop bo water hou met die “nader runnikende apokalips”. Vir die oorsprong hiervan, sien Breytenbach se frase in DIE NA-DOOD:
    “tussen die reëls van stasie
    tot stasie wanneer hy in die nag
    ’n verbygaande trein ver klopperuk hoor apoklip”
    —————BB, p.105 – “(die digter en die gedig)”

    • crito het gesê op Julie 12, 2016

      Prof Van Vuuren, u resensie verskyn in ‘n dagblad. Mens kan nie sondermeer aanneem dat die lesers vinnig die verwysing kan google nie. Dit is die resensent se taak om sy siening duidelik te maak, nie ‘n verdere laag van verdoeseling by te voeg nie.

  2. Crito, dink bietjie waarmee jy jou besig hou, die lengte-beperkinge van dagblad-resensies, en lees hier:

    If we want keep poetry alive then we need to cultivate an audience, a small one would suffice, that yearns for poetry’s sheer pointless beauty. Poetry at its best enlivens and enriches our experience of being alive, of being human, and fulfils humanity’s need for something more beyond our immediate, observable existence. Surrendering poetry’s great potential for the sake of accessibility would do the artform a great disservice.

    http://www.spiked-online.com/newsite/article/in-defence-of-difficult-pointless-poetry/15134#.V4TMG1ewlKo

    en hier:
    https://www.academia.edu/26917578/REVIEWING_COMPLEX_POETRY_POINTLESS

  3. crito het gesê op Julie 12, 2016

    Prof. Van Vuuren, dis edele gedagtes. Tog kan u uself ook afvra of dit nie koerantresensente se taak is om nuwe lesers vir die digkuns te wen deur die bundels interessant en toeganklik vir daardie lesers te maak nie? Ook in dieselfde proses vir die koerant lesers te wen nie? Ek besef dat u ‘n hoogs eiesoortige skryfstyl het. Dit is te verwelkom. Onder gewone omstandighede is die lees van u resensies (in die laaste jare ‘n nie té gereelde verskynsel nie) vir my altyd ‘n aangename vooruitsig. Soos dit hierdie keer was totdat ek die pretensieuse eerste paragraaf probeer verstaan het.

  4. Wat in die eerste paragraaf is “pretensieus”? Die noem van ‘n Celan-gedig?! Met ‘n naam wat beken “die berg van die dood”? darem laat in die dag as wêreldbekende digters nie in ‘n Afrikaanse resensie by vers en kapittel genoem mag word nie. En seg ook veel oor waar ons nou aangeland het. ‘n Literêre wêreldjie wat nou so ingeteel geraak het dat ons net na AMPIE of DIE MOERBEIBOS mag verwys, lyk my…

  5. Jammer, my fout oor die “pretensie”. Ek sien u verwys na “nader rukkende apokalips”. Maar dis ‘n frase via Breytenbach (wat ek in my langer weergawe wel deeglik gemotiveer het, en gesny is weens ruimte-beperking v d boekeblad). Die digter het geskryf:’n “verbygaande trein ver KLOPPERUK hoor APOKLIP””

    En gaan lees oor die apokalips maar “An outsider looks in”, ‘n lesing van Breyten Breytenbach gelewer in Berlyn op 3 Junie 2016, om die voedingsbodem van DIE NA-DOOD en ons aller bekommernis oor die stand van sake as ‘n apokalips miskien beter te kan begryp:

    https://www.boell.de/en/2016/06/03/outsider-looks-or-further-notes-middle-world

    Dit eindig so:
    Juliette Braillon , 11 years old, from Paris. Next to her drawing in the handwriting of a young child : « The planet is exploding. It will be barren on the whole surface. But all around humans are flying, kicked out, like a swarm of flies, but dead flies. While in Heaven – Heaven will remain – Angels are moaning : « Oh God, what have men done ? » (In French it reads, « Ô doux Jésus, Qu’ont fait les humains ? »
    On the walls there are quotes :
    Goethe : « Victims slay they here, / Neither lamb nor steer, / But the altars reek with human gore. »
    And, anonymously : « el tiempo se acaba »
    Time stops.
    ____

    Ek weet nie in watter ruimte u leef nie. Maar alles daarbuite is nie meer pais en vree nie.

  6. Jammer, my fout oor die “pretensie”. Ek sien u verwys na “nader rukkende apokalips”. Maar dis ‘n frase via Breytenbach (wat ek in my langer weergawe wel deeglik gemotiveer het, en gesny is weens ruimte-beperking v d boekeblad). Die digter het geskryf:’n “verbygaande trein ver KLOPPERUK hoor APOKLIP””

    En gaan lees oor die apokalips maar “An outsider looks in”, ‘n lesing van Breyten Breytenbach gelewer in Berlyn op 3 Junie 2016, om die voedingsbodem van DIE NA-DOOD en ons aller bekommernis oor die stand van sake as ‘n apokalips miskien beter te kan begryp:

    https://www.boell.de/en/2016/06/03/outsider-looks-or-further-notes-middle-world

    Dit eindig so:
    Juliette Braillon , 11 years old, from Paris. Next to her drawing in the handwriting of a young child : « The planet is exploding. It will be barren on the whole surface. But all around humans are flying, kicked out, like a swarm of flies, but dead flies. While in Heaven – Heaven will remain – Angels are moaning : « Oh God, what have men done ? » (In French it reads, « Ô doux Jésus, Qu’ont fait les humains ? »
    On the walls there are quotes :
    Goethe : « Victims slay they here, / Neither lamb nor steer, / But the altars reek with human gore. »
    And, anonymously : « el tiempo se acaba »
    Time stops.
    ____

    Ek weet nie in watter ruimte u leef nie. Maar alles daarbuite is nie meer pais en vree nie.

    • crito het gesê op Julie 13, 2016

      Baie dankie vir die toeligting. Imponerend en erudiet. Maar hoekom staan dit hier, en nie in u resensie nie?

  7. Weens die lengtebeperking van die boekebladredakteur: ek had presies 878 woorde! moes alles terugsny tot op die been.

    Na ‘n nag se slaap, besef ek dat u wel deeglik ‘n punt beet het – alles in my pigmee-resensie wat veels te kort, met geen motivering, of behoorlike aanhaling uit die bundel self nie.

    Sela! so leert men iedere dag nog wat…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.