Jy blaai in die argief vir 2016 Julie.

Profile photo of crito

by crito

Skaamlekkerkry

Julie 27, 2016 in Uncategorized

Amanda Botha se resensie van Marga van Rooy en Henriëtte Boot se boek Marga & Henriëtte: In die skadu van skisofrenie (Rapport Boeke) is in baie opsigte ’n verspeelde kans. Nie dat dit ’n swak resensie is nie, allermins,

Maar die aanpak is nie sekuur nie. Die boek is een wat mense in die hand sal neem omdat hulle belangstel in die “celebrity”-status van Marga van Rooy. Sy behoort in die eerste sin van die resensie al te figureer.

Maar haar voornaaam word eers in die tweede paragraaf, en heel aan die einde daarvan, genoem. Die resensent se aanspraak op die aandag van iemand wat die vorige dag die trauma van die Stormers en Sharks se belaglikhede moes beleef, is daarmee aansienlik verminder.

Wat jammer is, want Botha doen haar bes om by die hart van die boek uit te kom.

Marius Crous het weer my aandag dadelik getrek deur ’n verband te trek tussen Ilse van Staden se bundel Waar die oog van stil word (Boeke24) en die musiek van Debussy. Dit is ’n interessante vergelyking, en het my end-uit laat lees aan die bespreking.

Ek wens net resensente wil begin wegskram van die ou cliché “bedrieglike eenvoud”. Dis dra vir my dieselfde trefkrag as iemand wat sê Naas Botha is bedrieglik woorvernuftig.

Dineke Volschenk het haar mening oor Constant Smit se Goud kan nie roes nie (Boeke24) oënskynlik met haar tong diep in die kies geskryf.

Die boek is bedoel vir mense wat agter ’n intrige aan lees, sê sy. Dit laat haar dink aan Louis L’Amour se stories. Die hoofkarakter ontdek ’n baie ryk goudmyn (sic), en daar is ook ’n Portugese ontdekkingsreisiger op die toneel. Maar sy besef die skrywer het ’n baie aktiewe verbeelding – “dis nie onmoontlik om enigiets te glo nie.” En die mense is politiek korrek lank voor dit die soort van manier was om dinge te doen. En dan kom daar ook geheime agente op die toneel en uiteindelik, sê Volschenk, sal die “regte lesers”, mans en vroue wat net vermaak wil word, dit baie geniet.

Agge ja. Dis ’n gawe resensie. Weet nie of ek die boek sal lees nie, maar ek besef nou dat Volschenk dit reggekry het om ’n resensie te skryf in die toon ekwivalent aan die begrip “skaamkwaad”, maar van toepassing op lekkerkry kry. Skaamlekkerkry?

Profile photo of crito

by crito

Ontroering

Julie 20, 2016 in Uncategorized

Elmari Rautenbach, wat aanstaande jaar ’n sentrale rol gaan speel met die Woordfees hier op my dorp, was op haar dag redakteur van Boeke24, en het as redakteur van Insig ook ’n sterk invloed gehad op daardie publikasie se hantering van boeke. In die meer onlangse verlede het sy dikwels onderhoude met skrywers bygedra tot boekeblaaie. Sy resenseer soms boeke, maar boekresensies is nie haar hoof-aktiwiteit nie.

Hopelik gaan dit verander. Die resensie wat sy vandeesweek in Boeke24 had oor Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers is van só ’n aard dat mens hoop haar bydraes neem net toe: Uitstekend uiteengesit, ’n vloeiende betoog, ’n verkenning van die materiaal sonder om al die “skatte” in Jansen se werk bloot te lê.

Sy deins weg van die verhaal verklap deur net die raamwerk te skets. Dit gaan oor ’n vrou wat haar geliefde in Oos-Duitsland agterlaat, en jare later verneem hy is oorlede. Haar destydse verlating was gehul in troebelheid, en daarom het ek van “skatte” hierbo gepraat. Dit gaan nie hier om skatte nie, maar om die kwellings van die gees, die manier waarop tussen hede en verlede balans gevind word in ’n omstandigheid waarin skuldgevoelens vernietigende houe slaan en die siel verder gekneus word.

Rautenbach, as leser, is diep ontroer, kom mens agter. Jansen verweef sosiale kommentaar met haar vertelling, en die manier waarop Rautenbach die inleidende paragrawe skakel met die laaste paragrawe gee ’n duidelike boodskap: Niemand gaan hierdie boek lees sonder om ’n ander mens anderkant uit te kom nie. Veral nie diegene wat onbewus was van die uitwerking van die sewentigs en tagtigs se stres op militêre families nie.

Op dieselfde blad bespreek Elsabé Brits Mishandel, misbruik, misken deur Carla van der Spuy en Amor van der Westhuizen (Boeke24). Van der Westhuizen is een van Joey Haarhoff se kinders – en dus een van die mense wat ten slegste geraak is deur Gert van Rooyen en Haarhoff se dade.

Brits het ’n nugtere aanpak en raak nie maklik op ’n dwaalspoor gelei nie. Wat ek die meeste van die resensie waardeer, is hoe sy, nes Rautenbach in haar resensie, aandui dat die menslike drama die sterkste tot mens spraak; sy moet, anders as Rautenbach, sorg dat haar lesers bewus is van dubieuse dinge rondom die relaas. En dit doen sy baie deeglik.

Amanda Botha se resensie van Die Groot Drie: ’n Eeu van spotprente in Die Burger 1915-2015 , saamgestel deur Francois Verster (Rapport Boeke), is informatief genoeg om die aandag te hou van diegene wat hulle nog bemoei met die geskiedenis van die kwynende Afrikaanse Pers.

Dit sê heelwat dat Botha vir D.C. Boonzaier, T.O. Honiball en Fred Mouton hoog genoeg ag om hulle internasionale aansien te gee.

Ek sou graag die boek byderhand wou gehad het om te sien hóé stewig die voete van dié taksering is – maar dit is sekerlik die punt. Die paar afbeeldings by die webwerf gee net daardie ekstra dryfkrag aan mens se groeiende nuuskierigheid.

Uiteindelik, ’n paar dae later en boek in die hand, weet jy sy het reg.

My stuiwer: Wat gaan van die Afrikaner word wanneer Fred Mouton sy penne wegpak?

Profile photo of crito

by crito

Sonderling

Julie 12, 2016 in Uncategorized

Twee sonderlinge resensies onder die jongste oes. Helize van Vuuren oor Die na-dood van Breyten Breytenbach (Boeke24), en Deborah Steinmair oor Irna van Zyl se Moordvis (Rapport Boeke). Dis miskien makliker om te begin by Steinmair se bespreking, want dit vervul sy funksie as boekresensie.

In soverre dit moontlik is om ’n patroon of procédé te bespeur in enige resensente se resensiestyl, kan mens sê dat hierdie ene buite Steinmair se patroon val.

Goed driekwart van die resensie is afgestaan aan die oordra van ’n verhaalsamevatting. ’n Mens kry dadelik die spesmaas dat Steinmair nie heeltemal in vervoering is met Moordvis nie. Sy probeer wel om die verhaalsamevatting aan te bied in formulerings wat mens se belangstelling sal prikkel, maar dis ’n ongemaklike proses.

Daarna kom Steinmair se reaksie. Om te sê dat sy underwhelmed is, is omtrent dieselfde as om te konstateer dat Susan Sontag maklik sigbare wenkbroue het. Die toon is gedemp, die loftuitinge huiwerig: “Dis ’n heel vaardig geweefde misdaadroman; lig en vol kinkels.”  Bespeur ’n mens ’n onuitgesproke gevoel by die resensent dat die gegewe nie werklik iets nuuts tot misdaadromans bring nie? Sien: “Dit bevat al die clichés wat die resep vereis …”

Dan uiteindelik ’n evaluering met die goedkeuring in klein maat: “Moordvis poog nie om meer as ’n onderhoudende spanningsverhaal te wees nie” met ’n brons sterretjie op die kinnertjie se voorkop: “lesers behoort te byt en die hoek te sluk”. Eina.

Helize van Vuuren se resensie van Die na-dood is fris geskryf, maar daar is feitlik nie ’n paragraaf waarin daar nie iets opduik wat mens irriteer nie. Ek weet nie of dit Van Vuuren se pogings is om haar gewaarwordinge van die bundel presies te verwoord nie. In die eerste sin smak “nader runnikende apokalips” na pretensie. Daarna storm sy voort en sê die bundel is soos ’n “simfonie van sand”. Wat op aarde beteken dit? Kom die verwysing uit die bundel self? Of is sy net opgepluk met die idee van gekonkretiseerde klank? (En liewe prof Van Vuuren: Sand kan Kalahari-fynsand of harde Ermelo-kluite wees …)

Daarna raak sy die pad verder byster. Om in ’n dagblad-resensie te verwys na Paul Celan se Heidegger-vers “Todtnauberg” sonder om dit behoorlik te verduidelik, is sommer net vertonerigheid.

Vervolgens raak Van Vuuren slaags met die bundel, al die implikasies en betekenisse. Enigiemand wat die volle nut van hierdie resensie wil hê, sal dit net kry met die bundel byderhand.

Ek dink nie Van Vuuren het reg laat geskied aan haar eie insigte of die bundel nie. Om ’n voorbeeld te gee: Diep in die resensie sê sy “Die na-dood sluit aan by die eksperimentele Amerikaanse poësie van ná September 2001, teen die grein van enige bekende tradisie. “ As sy nét hierdie opmerking as uitgangspunt gebruik het en die hele bespreking in daardie teken bespreek het, sou haar bespreking moontlik meer verstaanbaar gewees het. Maar sy sê dit net en huppel dan voort na haar volgende insig, en dan nog een, en nog een.

Soos dit is, probeer sy om die rykdom aan inhoud van die gedigte alles onder die loep te bring – sekerlik ’n onmoontlike taak.

Wat inhoud betref, is dit gewis nie ’n swak poging nie. Van Vuuren bly een van die beste ontleders van digkuns, dis net jammer dat sy nie haar insigte kan formuleer op ’n manier wat vir ’n koerantleser onmiddelik sin sal maak nie. Het hierdie bespreking by LitNet verskyn, sou sy die oorvloed van ruimte sekerlik aangewend het om baie van die hangende opmerkings te belig.

Ongelukkig is die bestemming van haar resensie ’n koerant met ruimtebeperkings en ’n leserspubliek wat die resensie “koud” lees. Verloor mens sig van dié konteks, verloor jy ook jou lesers.