Profile photo of crito

by

Kragtaal

Junie 29, 2016 in Uncategorized

Is dit nodig om te vloek in ’n resensie? Deborah Steinmair en Kerneels Breytenbach gebruik elk met taamlike effek in hul jongste resensies – die vraag is net of dit fatsoenlik en gemotiveerd is.

Steinmair bespreek Karin Brynard se nuwe roman, Tuisland, in Rapport Boeke. Dis Steinmair deluxe. ’n Resensie wat soveel moontlik van die roman toelig sonder om die plesier en verwikkeldheid presies uit te spel.

Op ’n manier herinner sy aan die resensiestyl van Rykie van Reenen. Eenvoudige taalgebruik, opregte gevoelens wat verwoord word, en geen kans dat die leser dalk sal begin wonder of die resensent tong in die kies skryf nie.

Daarom dat dinge soos “Mensig, die vrou kan skryf”, “die generaal se witbroodjie”, “pierewaaier-polisieman”, “sy neuk al skeef” en “die karakters (is) duidelik” ten slotte opvolg met ’n allesopsommende uitroep van bewondering: “Magtag!”

Volgens my is dit ’n totaal aanvaarbare gebruik van kragtaal. Ek het op my eentjie probeer dink aan woorde waarmee mens dit sou kon vervang, maar Steinmair het die regte ene gekies.

Al wat my uiteindelik gekwel het, is hoe ook Steinmair dit regkry om ondanks haar bewondering vir Bryanard se boeke totaal in gebreke te bly om die afwesigheid van Ghaap aan te spreek; asook haar verklaring “Beeslaar is ’n karakter wat baie stadig op my gegroei het”. Wat? Is hy ’n vrat?

Breytenbach resenseer Johan Kruger se Die formidabele Ling Ho (Boeke24). In die tweede paragraaf laat waai hy met “Fokkit, maar ek het lekker gelees aan Die formidabele Ling Ho!”

Ook hier het ek gewonder wat anders hy sou kon gebruik het: magtag, gedorie, mapstieks … Die kanse vir ligsinnigheid en sarkasme is groter, en uiteindelik sal ’n mens moet toegee dat fokkit, ’n redelik bekende woord in algemene omgangsgebruik van Afrikaans, tog in hierdie konteks baie funksioneel is.

Breytenbach wil die aandag dadelik trek vir die punt wat hy in die daaropvolgende paragrawe maak – mens moet satiriese romans verkieslik so gou as moontlik na publikkasie lees omdat die konteks so vinnig verander.

Dit bly natuurlik ’n ope vraag of mens fokkit baie gereeld kan gebruik. Meermale binne een resensie sou die resensie laat klink soos ’n vroeë toneelstuk van Pieter-Dirk Uys; gereeld in sy resensies sal daarvan ’n stilistiese hebbelikheid maak. Ek glo nie ons gaan dit gou weer sien nie. Die res van die resensie is in “skoon” taal geskryf, wat baie opmerklik is en uiteindelik net weer die aandag teruglei na daardie een woord.

Uiteindelik voel mens ook dat die gebruik daarvan die skokwaarde van die woord verminder.

’n Laaste gedagte oor dié resensie. Selfs geoefende resensente kom gruwels oor. Breytenbach se oorvloed van “moeiteloos” is ’n goeie voorbeeld daarvan.

1 antwoord op Kragtaal

  1. Die woord “magtag” kragtaal? Genugtig, kom Crito uit die Middeleeue?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.