Profile photo of crito

by

‘n Kwessie van groei

Junie 22, 2016 in Uncategorized

Cas van Rensburg spreek in Boeke24 die oordeel uit oor Karin Brynard se derde roman, Tuisland. ’n Ou hand soos hy weet presies wat al die Brynard-aanhangers (waaronder ek tel) wil weet: Het Brynard gegroei as skrywer?

Vra jou wel af hoekom juis dié vraag vir die afficionados belangrik is. Brynard was met Plaasmoord al ’n misdaadskrywer wat met ’n literêre romansier se sensitiwiteit haar woordwerk uitgelê het. met Onse vaders het die klem sterk op die spanningselement geval, meer as op die literêre. Watter kant toe nou?

Die inleidingsparagraaf van hierdie resensie is ’n gekompakteerde boodskap. Die groei is in die literêre rigting, maar die narratiewe rigtingwyser is steeds die misdaadoplossing. Die eerste paragraaf is vir bewonderaars geskryf, ’n direkte aanduiding dat hulle nie teleurgesteld gaan wees nie. Die res van die resensie is ’n formaliteit, agtergrond vir die toekomstige leser, en tydgenootlike evaluasie vir die lesers van die toekoms wat gaan navorsing doen oor die skrywer Karin Brynard.

En diegene wat Brynard nog nie beleef het nie, sal ná hierdie resensie sekerlik geen verskoning meet hê nie.

Maar, maar ….

Hoe Cas van Rensburg dit regkry om die geleentheid te laat verbygaan om die leser in die prentjie te bring betreffende Ghaap, dít weet nugter alleen.  Waarheen het hy verdwyn? Was die telefoongesprek met hom teen die einde van Onse vaders sy laaste verskyning?

Nee man, só maak jy nie met Brynard-bewonderaars nie.

Alé Steyn se bespreking van Ilse van Staden se veearts-roman Goeie dood wat saggies byt (Rapport Boeke) is uitnemend en doeltreffend. Dit wek belangstelling en verklap nie geheime nie. Wat my wel gepla het, is dat sy duidelik voel die omslag is onvanpas en die titel té obskuur, maar sy het nie die moed om dit pront te stel nie. “Moenie dat die omslag of titel jou afskrik nie” – dit is té sagkens gestel, en laat mens voel dat Steyn nie werklik sterk voel oor dít wat sy met die kru omslag en onverklaarde (deur Steyn) titel wil kontrasteer nie.

Heleen Meyer se resensie van Die Banting-oplossing van Bernadine Douglas en Bridgette Allan  (Rapport Boeke) is’n uitstekende poging om ’n boek se inhoud uiteen te sit sonder om in die kleiner detail verstrik te raak. Dit bly net vir my vreemd dat sy oor hierdie nuwe publikasie kan skryf sonder om ooit na Tim Noakes en Kie se baanbrekeresboek oor dieselfde onderwerp te verwys en te sê of die nuwe boek ’n verbetering is op die Noakes-boek.

In kontras het ek Johan van Zyl se blootlegging van Groente van tuin tot tafel (Rapport Boeke) met groot innerlike lekkerkry gelees. Mens snap gou dat hy redelik onlangs begin het met sy eie tuin en die groei van groentes vir sy eie tafel, en dit is ’n plesier om te sien hoe subtiel hy dit gebruik om sy reaksie op die boek te ondersteun.

Hy veskaf ook ’n verklaring vir die genot wat ek Saterdae uit my tuinwerk voel: “Blootstelling aan die mikrobiese diversiteit in grond – en spesifiek die grondbakterie genaamd Mycobacterium vaccae – onderdruk nie net inflammasie in Homo sapiens nie, maar is ook ’n natuurlike antidepressant wat serotonienproduksie ’n hupstoot gee en jou gelukkiger en meer ontspanne laat voel.”

Wil jy nou meer!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.