by

Positief gestem

Mei 10, 2016 in Uncategorized

Iemand het al die opmerking gemaak dat mens anders na ’n resensie kyk as jy reeds die boek gelees het. Wanneer jy dit nie gelees het nie, is jy sensitief vir positiewe seine – woorde, toon en retoriese middels wat gebruik word om die leser se aandag te trek en hom/haar te oortuig.

Het jy egter die boek reeds gelees, is jy bedag op ander dinge. Jy wil sien of die resensent alles raakgesien wat jy raakgesien het. Jy wil weet of die evaluering met joune klop. Jy is angstig oor kritiek, veral dié soort kritiek wat jou laat besef jy het die boek tê hoog of té laag getakseer.

Met hierdie dinge in gedagte het ek Joan Hambidge se resensie van Huilboek, Ryk Hattingh se nuwe roman, met groot stipte in Boeke24 gelees. Ek was versot op die roman, en het dit feitlik in een sitting deurgelees. Dit is ’n werk met merkwaardige reikwydte én diepte van introspeksie.

Hambidge spring weg met die opmerking dat Huilboek haar “ingesluk” het. Dit is ’n baie raak beskrywing vir ’n reaksie wat baie lesers waarskynlik gaan aanvoel.

Daarna weeg en oorweeg sy die werk uit ’n verskeidenheid hoeke, almal spruitend uit die inhoud. In toon vind ek Hambidge effe terughoudend, maar in haar formulerings vergoed sy daarvoor. Hoe baie sê sy nie met die volgende opsomming nie: “Die boek word ’n soort lydensweg, ’n persoonlike stryd – ’n soort hellevaart van Jan Alleman.”

Ek is haar dankbaar oor die opmerking oor die taalteoretici en die huiljare, en ook die manier hoe sy die roman in verband bring met Richard Brautigan.

Knap, baie knap.

Lucia Swart-Walters se bespreking van Bernette Bergenthuin se Viva la Vida (Boeke24) is minder geslaag, omdat die resensent nie werklik geesdriftig is oor die boek nie, maar binne die raamwerk van sy genre nie veel fout kan vind nie, en rem-rem uiteindelik uitkom by ’n toegeeflike goedkeuring.

Wat wel die aandag trek, is dat Swart-Walters onder die boek se karakters een lys met die naam Charmonaix. So iets laat my dadelik wonder of dit ’n satiriese roman is. Skynbaar tog nie. Charmonaix, Charmonaix – wonder of sy familie is van Mornaix du Plessis?

Verlede week het Dewald Koen vir Rapport Boeke geskryf oor Heilna du Plooy se debuutroman, Die taal van been. Gedagtend aan die onderskeid wat ek hierbo getref het, het ek die resensie gelees vir die positiewe tekens. Ek is versot op Du Plooy se digkuns, en hoop dat haar prosa ook tot my sal spreek.

Koen se resensie is baie positief, en daar is genoeg prikkels om my winkels toe te stuur. Wat my wel laat nadink het, is sy kritiek oor die taalversorging, en die feit dat hy dit nodig vind om die roman met Deon Meyer en Bettina Wyngaard s’n te vergelyk. Alles wat hy beskryf dui vir my eerder na ’n roman in die Umberto Eco-tradisie. Maar miskien is ek verkeerd.

Dus self lees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.