Jy blaai in die argief vir 2016 Mei.

Profile photo of crito

by crito

In die kol

Mei 31, 2016 in Uncategorized

Toe ek sien dat Sonja Loots die resensent is van Ryk Hattingh se Huilboek (Rapport Boeke), was ek ek bly sonder dat ek eens die bespreking gelees het. Ek het die roman pas klaargehad op my Kindle, en op ’n eiland gesit en huil. Ken dié heimwee.

Loots is nie iemand wat die drempels van boekeblaaie deurtrap nie; sy is ’n skrywer wat oënskynlik net resensent word wanneer sy regtig voel die boek is die moeite werd. Dit is ’n uitmuntende keuse deur die boekredakteur – Huilboek is ’n werk wat bespreek moet word deur iemand wat die stryd en spel met woorde en gedagtes van binne-uit ken. Soos Sonja Loots.

Die groot probleem wat sy as resensent moes aanspreek, is hoe mens ’n roman takel wat nie juis ’n ingewikkelde verhaal het nie, maar ’n baie groot homp geskiedenis, persoonlik en andersins, in twee lande betrek.

Sy neem uit die staanspoor in ag dat Hattingh wil bestek neem van ’n paar mense se plek in die groter geheel: Hoe verskil mense se rolle, en wat rig hulle uit met hul lewens. Loots gee nie ’n samevatting van die verhaal nie, sy lig eerder die kern-gedeeltes uit, en trek die verbande.

Haar slotsom kan mens beaam: Die boek is diep ontroerend. En Loots se laaste opmerking, in gedempte toon, is die boek waardig. Mens hoef nie te skree as jy wil lof toeswaai nie.

Naas Loots se resensie is Daniel Hugo syne oor Breyten Breytenbach se jongste bundel, Die na-dood.Toe ek dit klaargelees het, het ek gevoel dis nou genoeg: Ek het die beste beleef wat Rapport Boeke ons in baie jare op een Sondag kon bied.

Dit is altyd interessant om te sien hoe een digter op ’n ander se werk reageer. Dit is ongelukkig ook so dat nie alle digters goeie resensente is nie. Maar Hugo is een van die bestes, oor digkuns.

Sy resensie is tegelyk ’n taksering van Breytenbach en ’n opgaaf van sy vervoering. Dít is wat so baie resensies mis, naamlik die resensent se werklike, diepgevoelde reaksie. Hugo weet hoe om dit te verwoord sonder om soos ’n rasieleier te klink, en al wat hy wil doen is om deur sy reaksie ons almal baie nuuskierig te maak.

Die resensent is ook baie bewus van Breytenbach se onlangse taal-politieke standpunte, en vind ’n baie mooi manier om sy steun aan die digter toe te sê én die resensie te sluit.

Dankie, suster en broeder.

Marius Crous bespreek op dieselfde dag Heilna du Plooy se Die taal van been in Rapport Boeke. Dit is ’n resensie met heelwat verdienste – en een plek waar hy homself in die steek gelaat het.

Hy haal Du Plooy se waarskuwing vooraf aan dat “Hierdie verhaal is fiktief, en tog is dit die waarheid gelieg” maar sien nie raak dat hy dit hier te make het met een van die sleutels tot Du Plooy se kuns nie. Ek dink hier aan haar 1995-artikel oor TT Cloete se kortverhaal-bundel Die waarheid gelieg, wat in die tydskrif Literator verskyn het. Van die dinge wat sy daarin sê oor Cloete se skryfwerk en sy aansluiting by Kafka en Borges, kan ook oor haar en Cloete, en haar en Isak Dinesen (wie se werk sy in hierdie roman verweef) van toepassing gemaak word.

’n Verspeelde kans miskien, maar soos gesê het die res van die resensie baie substansie.

Profile photo of crito

by crito

Mei 18, 2016 in Uncategorized

Wat ’n verrassing. Drie swakkerige bydraes in een week. Getooi in die regte vere, maar nouja, jy weet wat sê hulle van vere.

Bibi Burger se bespreking van Cas Vos se bundel Voor-bode (Boeke24) vertel mooi als wat in die bundel gevind sal word. Sy is so begaan om die inhoud te lys dat sy die woord bevat sewe keer gebruik. Sy gee aandag aan Vos se vertalings van Konstantyn Kavafis se gedigte, maar laat na om aan die koerantleser te verduidelik of dit vertalings uit die oorspronklike Grieks is en of dit gedoen is volgens die Engelse vertalings gedoen deur ’n groot verskeidenheid persone.

Om dan ná die inventaris van inhoud en die slordigheid rondom die vertaling te gaan en sommer net te sê dat Voor-bode sou gebaat het by stewige redakteurshand sonder om dié opmerking in detail te bespreek, getuig vir my van lui denke.

Helen Schoër het met haar bespreking van Keina Swart se Koms van die  biblioteekbus  (Boeke24) ’n maklike uitweg gekies. In die plek van ’n resensie skryf sy ’n brief aan die boekeredakteur om te sê dat sy eintlik ook nie kans sien n ie – maar in die proses ryg dié soort opmerkings in wat mens wel in boekresensies kry. Sy skryf dus ’n losweg verpakte boekbespreking.

Maar ek dink sy het die kans verbeur om ’n werklike puik resensie te skryf. Schoër noem dat daar dinge is wat haar laat huil het, en ander weer haar laat lag. Dít is waaroor sy moet geskryf het om aan die koerant se lesers te verduidelik hoekom hierdie boek spesiaal is.

Ronel Nel maak korte mette van Hans du Plessis se Tussen die klippe. Ek vind dit moeilik om te glo dat dit nodig is om ’n roman van Hans du Plessis op te som. Dit help nie om te sê Du Plessis is volksbesit en dan die boek se storie te vertel nie. Ons wil weet hoekom Du Plessis steeds die skrywer is wat ons ken, en hoe dit na vore kom.

Aldrie bogenoemde is nie resensies nie – en dit is nog vriendelik om dit “besprekings” te noem.

Profile photo of crito

by crito

Positief gestem

Mei 10, 2016 in Uncategorized

Iemand het al die opmerking gemaak dat mens anders na ’n resensie kyk as jy reeds die boek gelees het. Wanneer jy dit nie gelees het nie, is jy sensitief vir positiewe seine – woorde, toon en retoriese middels wat gebruik word om die leser se aandag te trek en hom/haar te oortuig.

Het jy egter die boek reeds gelees, is jy bedag op ander dinge. Jy wil sien of die resensent alles raakgesien wat jy raakgesien het. Jy wil weet of die evaluering met joune klop. Jy is angstig oor kritiek, veral dié soort kritiek wat jou laat besef jy het die boek tê hoog of té laag getakseer.

Met hierdie dinge in gedagte het ek Joan Hambidge se resensie van Huilboek, Ryk Hattingh se nuwe roman, met groot stipte in Boeke24 gelees. Ek was versot op die roman, en het dit feitlik in een sitting deurgelees. Dit is ’n werk met merkwaardige reikwydte én diepte van introspeksie.

Hambidge spring weg met die opmerking dat Huilboek haar “ingesluk” het. Dit is ’n baie raak beskrywing vir ’n reaksie wat baie lesers waarskynlik gaan aanvoel.

Daarna weeg en oorweeg sy die werk uit ’n verskeidenheid hoeke, almal spruitend uit die inhoud. In toon vind ek Hambidge effe terughoudend, maar in haar formulerings vergoed sy daarvoor. Hoe baie sê sy nie met die volgende opsomming nie: “Die boek word ’n soort lydensweg, ’n persoonlike stryd – ’n soort hellevaart van Jan Alleman.”

Ek is haar dankbaar oor die opmerking oor die taalteoretici en die huiljare, en ook die manier hoe sy die roman in verband bring met Richard Brautigan.

Knap, baie knap.

Lucia Swart-Walters se bespreking van Bernette Bergenthuin se Viva la Vida (Boeke24) is minder geslaag, omdat die resensent nie werklik geesdriftig is oor die boek nie, maar binne die raamwerk van sy genre nie veel fout kan vind nie, en rem-rem uiteindelik uitkom by ’n toegeeflike goedkeuring.

Wat wel die aandag trek, is dat Swart-Walters onder die boek se karakters een lys met die naam Charmonaix. So iets laat my dadelik wonder of dit ’n satiriese roman is. Skynbaar tog nie. Charmonaix, Charmonaix – wonder of sy familie is van Mornaix du Plessis?

Verlede week het Dewald Koen vir Rapport Boeke geskryf oor Heilna du Plooy se debuutroman, Die taal van been. Gedagtend aan die onderskeid wat ek hierbo getref het, het ek die resensie gelees vir die positiewe tekens. Ek is versot op Du Plooy se digkuns, en hoop dat haar prosa ook tot my sal spreek.

Koen se resensie is baie positief, en daar is genoeg prikkels om my winkels toe te stuur. Wat my wel laat nadink het, is sy kritiek oor die taalversorging, en die feit dat hy dit nodig vind om die roman met Deon Meyer en Bettina Wyngaard s’n te vergelyk. Alles wat hy beskryf dui vir my eerder na ’n roman in die Umberto Eco-tradisie. Maar miskien is ek verkeerd.

Dus self lees!