Profile photo of crito

by

Relevansie

April 27, 2016 in Uncategorized

Een van die groot nuus-onderwerpe van die oomblik is die protesstemme wat op die land se kampusse opgaan oor geweld teen vroue. Nie almal neem daaraan deel nie, maar dit is sekerlik een van die belangrikste sosiale vraagstukke van ons tyd.

Vir ’n joernalis is dit ’n baie gewillige manier om meer relevansie te gee aan iets soos bv ’n boek oor die vrou van die Bybel – soek ’n skakel en borduur voort.

Ek is seker Karla Janse van Rensburg het haar resensie geskryf vóór die jongste vlaag van protes in Grahamstad en Johannesburg, dus kan mens haar verskoon vir die veilige resensie wat sy in Boeke24 geskryf het oor Esté Geldenhuys se Vroue van die Bybel. Boonop moes sy haar laat lei deur Geldenhuys se keuse van persone, en die feit dat die uitbuiting van vroue nie juis ’n gewilde invalshoek is vir die analise van die Bybel se vroue nie.

Die vraag is net vir my hoe ’n resensent meer lesers na ’n resensie kan lok waar die onderwerp nie juis lesers vervaard na die boekeblad sal laat blaai nie.

Die resensie wat Van Rensburg geskryf het, getuig ook van ’n bewustheid van die beperkinge wat haar opgelê word: skryf kort, skryf met die godsdienstige sensitiwiteit van jou lesers in ag genome.

Maar dink net wat sy kon gemaak het deur Geldenhuys se bespreking van Ragel in verband te bring met die huweliksdilemmas van president Zuma se vroue, deur Zuma op gelyke voet te stel met Jakob. Volgens die Bybel het Jakob ’n keuse van vier vroue gehad by wie hy om die beurt vertroosting gesoek het, en was sy huis ook getref deur jaloesie onder die vroue en sibbe. En toe sy eerste liefde, Ragel, uiteindelik vir hom Josef baar, het ’n geskiedenis hom ontvou wat deur die geskiedenis baie reperkussies gehad het.

Tim Rice en Andrew Lloyd Weber het dit uit een hoek gesien, en Van Rensburg sou dit uit ’n Suid-Afrikaanse hoek kon sien. En daarmee Geldenuys se boek op polemiese wyse onder baie meer mense se aandag bring as diegene wat nuwe materiaal soek vir Bybelstudie.

Cas van Rensburg het Anel Heydenrych se Malhuis vir Boeke24 bespreek. Hy gee teen die einde toe dat die boek hom geraak het, ’n betekenisvolle erkenning gesien die manier waarop hy die boek analiseer en ná veelvoudige oorwegings en indringende nadenke ’n onbevredigende struktuur en inkleding onthul.

Die wyse waarop Van Rensburg met die roman omgaan, is gewis ’n kompliment vir die skrywer. Van Rensburg is een van die fynste lesers van hierdie soort romans, en die erns waarmee hy die materiaal benader, is vir my verkieslik bo die soort resensies waarin die verhaal saamgevat word.

Joan Hambidge kies ’n soortgelyke roete as Van Rensburg met haar resensie van die digter Ilse van Staden se romandebuut, Goeie dood wat saggies byt. Wat my aandag hier trek, is dat Hambidge op inhoud eerder as tegniek konsentreer, ’n gewisse teken dat die romanskrywer uit die kassie gedink het in haar vermenging van outobiografiese gegewens met fiksie, en die resensent end-uit geboei het.

Hambidge se aanslag is een van verwondering en toegeneëntheid, en dis ’n plesier om te lees.

In Rapport Boeke het Kerneels Breytenbach geskryf oor Leon van Nierop se Daar doer in die fliek. Vergelyk mens sy resensie met dié deur Herman Lategan, is dit die ligter trant en bewondering by Lategan vwat mens onmiddelik onthou, terwyl Breytenbach heeltemal ’n ander toon het, al kom hy tot dieselfde konklusie as Lategan.

Vir die student van resensies dit die moeite werd om te noem dat Breytenbach ’n goeie manier gevind het om te laat blyk dat hy die skrywer reeds uit sy studentedae ken, en dat hulle ’n gemeenskaplike passie het. Sy resensie het ’n kanoniserende uitwerking, omdat hy nes Van Nierop lank ’n rolprentresensent was, maar dit is nie noodwendig beter as Lategan se bespreking nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.