Profile photo of crito

by

Vanwaar gehasie?

April 20, 2016 in Uncategorized

Laat ek sommer net kla. Kan Netwerk24 ’n manier vind om vir mense in die verre uithoeke van die aarde ’n aanduiding te gee uit watter bron ’n resensie kom: Rapport Boeke of Boeke24? Hoe gaan die studente van die toekoms weet wat die primêre bron was?

Vir die doeleindes van vandeesweek se skrywe gaan ek aanvaar alles kom uit Rapport Boeke, behalwe waar ek kan uitmaak wat aan die gang is. Netwerk24 se boeke-seksie is nie gebruikersvriendelik nie.

Ek het ’n ruk gelede gesê ek wil Marinda van Zyl se Amraal  eers klaarlees voordat ek oor Erika de Beer se bespreking in Boeke24 skryf. Intussen het Riette Rust die boek ook vir Rapport Boeke geresenseer.

Albei resensies is op hul manier bevredigend, maar nie volledig toereikend nie. De Beer bied ’n meer dramatiese inleiding tot die verhaal as Rust, wat nie ’n goeie oomblik beleef het toe sy haar resensie se inleiding geskryf het nie.

“Marinda van Zyl is ’n belangrike skrywer van die epiese historiese roman, besef ’n mens met die lees van Amraal.” Wel baie dankie, maar hoekom dié gedempte toon? Is hierdie epiese roman nie ook belangrik nie? Of is dit maar net ’n bewys dat Van Zyl ’n belangrike skrywer van die historiese roman is?

Rust herstel gelukkig en die trant van haar resensie laat my wonder of die inleiding nie dalk lê in die sin wat die redakteur bo-aan geplaas het as aandagtrekker nie – “Hierdie is ’n epiese roman sonder weerga – en met genoeg aksie, skryf Riette Rust.”

Albei resensente pak dan die verhaal van hierdie merkwaardige roman behoorlik uit sonder om geheime te verklap, maar elk kry dit ook reg om te suggereer waar die roman se krag lê.

Die rede hoekom ek albei in die laaste plek nie toereikend vind nie, is omdat hulle nalaat om uit te spel hoe Amraal by uitstek ’n ontleding is van hoe die lyne van wit bevoorregting in die verlede terugstrek, en hoe Amraal se lewe ’n voortdurende stryd was om te sorg dat hy en die syne nie in daardie net beland nie.

Noem die ding op sy naam.

Dewald Koen sê in sy deurdagte bespreking van Celesté Fritze se plaasroman Verlorenkop presies waaroor dit gaan – gender en seksualiteit, met die vroulike randfigure wat vir die roman se substansie sorg, en die patriargale figure wat nie die middelpunt is nie.

Daar is ook verwysings na die verskillende tydperke wat betrek word en ’n uitwerking het op die identiteitstryd van die hooffiguur.

Die feit dat Koen nie noem of daar enige plaaswerkers is wat nie wit is nie, laat my wonder of hulle minder belangrik is as die randfigure na wie hy verwys. Of het die skrywer hulle geïgnoreer?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.