Profile photo of crito

by

Doer in die resensie

April 12, 2016 in Uncategorized

Hoe resenseer mens ’n ensiklopedie? Of ’n gesaghebbende werk oor die kunste, medisyne, geskiedenis of watter vakgebied ookal? Die antwoord is sekerlik dat jy iemand moet kry wat die onderhawige vakgebied goed ken – en as daar nie só ’n persoon is nie iemand in ’n verwante dissipline, wat die omvang en impak van die werk sal kan takseer.

Leon van Nierop se Daar doer in die fliek handel oor Afrikaanse rolprente, ’n medium wat rolprente van hoë gehalte opgelewer het, asook prulle van die mees onwelriekende soort. Herman Lategan is iemand met ’n breë algemene kennis, maar ek sal baie verbaas wees as dit moes uitlek dat hy ’n beduidende aantal van die rolprente gesien het waaroor Van Nierop skryf.

Wat wel baie vinnig deurkom in sy resensie oor hierdie boek in Boeke24, is dat hy elke bladsy van die boek met andag gelees het, en snap dat hy dit hier met ’n boek van aansienlike kulturele belang te make het. Afrikaanse rolprente is integrerend deel van die groot politieke mosaiek van ons land. Lategan benader die boek met erns en respek, al laat hy by implikasie heelwat van sy kropgevoel deurskemer in hierdie opmerking:

“Die storielyne is ook ver verwyder van byvoorbeeld vandag se Treurgrond; Dis ek, Anna; Sink; en Modder en bloed. Sonder om afbreek te doen aan die verlede, kan ’n mens amper verstom vra: Hoe ver het ons nie gekom nie? Dalk ’n ligte weerspreking, want die grootste Afrikaanse geldmaker nóg was Liefling,die movie uit 2010, met Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld en Lika Berning.”

Desondanks bly Lategan se aanslag lig, amper oopmond van verwondering soms. Verwondering is die voorspel van bewondering, die reaksie wat Deborah Steinmair het op Bettina Wyngaard se Slaafs.

Die positiewe punte wat sy oor Slaafs uitlig, is dié wat vir my tel wanneer ek in ’n bui is vir ’n misdaadroman met ’n snelle pas: geloofwaardige karakters, deeglik verweefde storielyne, ’n minimum aangeplakte diepsinnigheid, snaarstywe spanning.

Steinmair ontwikkel nou as een van die betroubaarste resensente oor spanningsromans. Haar eweknie aan die kant van die beeldende kunste is Amanda Botha, wat Muller Ballot se monografie oor Maggie Laubser (volle titel is Maggie Laubser: ’n Venster op Altyd Lig) vir Boeke24 resenseer.

Ons kan dit as gelees beskou dat dit ’n deeglik beredeneerde, goeie resensie is. Wat my vir die doeleindes van hierdie rubriek meer interesseer, is die modaliteit van die skryfwerk, die toonaard van haar styl: Rustig, reguit, respek vir sowel kunstenaar as die skrywer van die monografie.

Vergelyk dit met Herman Lategan se styl, asook dié van Deborah Steinmair, wie se resensies albei baie positief is, die eersgenoemde s’n oor ’n vergelykbare vakgebied, en laasgenoemde s’n oor ’n spesialiteitsgeboed. Lategan probeer dit nie verbloem dat hy nie neutraal staan nie, terwyl Steinmair groot sorg daaraan bestee om die algemene aanpak neutraal te hou en die positiewe houding in te bou in haar opmerkings oor die boek se hoedanighede.

Jo Prins, redakteur van Boeke24, had weer ’n ander probleem. Ek het nogal waardering vir die manier waarop hy ’n taai toffie aanpak. Hy het naamlik Carl-Johan Forssén Ehrlin se Die hasie wat aan die slaap wou raak op sy eie kinders getoets. Ondanks al die aanspraak wat die boek maak dat die metode wetenskaplik getoets en gewaarborg is, het dit sy kinders nie aan die slaap gekry nie.

Hoe pak mens so iets aan? Jy beskryf die gebeurtenis met al die deernis wat ’n raadop pa bymekaar kan skraap. Dit bou humor in, dit lees lekker, dit lok lesers. Wat Prins dan uitnemend goed doen.

En ten slotte noem hy dat daar kontroleproewe deur ander ma’s was, met wisselende resultate.

Jammer dié metode werk nie met grootmensboeke nie.

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.