Profile photo of crito

by

Die gevaar van bekendheid

April 6, 2016 in Uncategorized

Een van die neweprodukte van joernalistieke bekendheid is voorspelbaarheid en verveling. Enigiemand wat die afgelope anderhalf dekade (dalk meer) Afrikaanse koerante gelees het, sal weet dat George Claassen die lewe vanuit die wetenskaplike hoek beskou. Sy metafisiese register is feitlik nie=bestaande. Hy is ’n fyn analis en ’n bedrewe samevoeger van argumentasie. Enigiets wat hy skryf, is die lees werd.

Ongelukkig, met die verloop van jare, het sy standpunt só bekend geword dat mens kan antisipeer wat hy gaan skryf.

Synde ’n bedrewe joernalis, is daar seker niemand in die Afrikaanse leeskring wat meer bewus is hiervan as prof. Claassen self nie. Dit sal by hom ’n saak van eer wees om te sorg dat hy die deja vu-element teenwerk in sy meningstukke.

Het hy daarin geslaag met sy bespreking van Theuns Eloff se Wat nou, Suid-Afrika? Het die nasaat van Frikkie Eloff en Paul Kruger sy rieme styfgeloop by die moderne apologeet vir die wetenskaplike benadering?

Nee en ja.

Ek vind Claassen se analise van Eloff se argumente baie nuttig. Mens kan selfs insien hoe Eloff soos ’n Clen Sunter vanouds ’n matriks uitspel vir die Afrikaner-scenario.

Dit is vir my baie insiggewend hoe hy die pitkos van Eloff se werk uitlig en half in die verbygaan lof daaraan toeswaai: “Eloff identifiseer die sterkste met die aktiewe bevorderaars en glo hul denke en optrede kan die beste reaksie gee op die vraag: Wat nou, Suid-Afrika? Hy gee ook ’n lys van 11 stellings oor versoening en verdraagsaamheid. Die dikwels erge rassistiese en onverdraagsame kommentare in die sosiale media en oor radio bewys Suid-Afrikaners sal baat vind by kennisname van dié 11 stellings.” Kon hy nie maar die elf stellings genoem het nie?

Nes Eloff se voete vas geplant is op dopperaarde is Claassen se kritiese blik gevoed deur sy anti-metafisiese sienings. Sy sterkste kritiek spreek hy binne hierdie raamwerk uit, laat in die resensie, wanneer hy as resensent sy kruisspoed bereik het. In daardie stadium het hy eintlik reeds sy  rol as resensent gespeel, en so saam met die sug, “George is terug” neem mens dan die bekende argumentasie in.

Ek vind dit nie negatief nie, maar die leeswaarde in die slotparagrawe is skraler. Soos mens kon verwag, is hierdie laaste paragrawe van die resensie ook dié wat reaksie uitlok by die opwenbare kaders van die neolitiese Afrikanerdom.

Daniel Hugo stel lesers bekend aan ’n nuwe stem in die geledere van digters met ’n nering in die medisyne – Hendrik J. Botha met sy bundel Afropos (Boeke24). Dit is goed om weer ’n beoordelaar  uit ’n ander hoek te hoor praat oor die skoonste woordkuns. Hugo is bekend as die man met die mees bedaarde radiostem in die geskiedenis van die SAUK, en dit is vir my al asof daardie toon ook in sy literêre kritiek oorheers.

Sy inval is sag, innemend; Botha se digkuns word vir jou aanloklik deur die wyse waarop Hugo rustig opgewonde is oor die aard en gehalte daarvan.

’n Ewe welkome terugkeer na die resensieblaaie is Deborah Steinmair, wat vir Boeke24 skryf oor Anel Heydenrych se Malhuis.

Mens kan dadelik sien dat sy daarvan bewus was dat ’n paar onbedagsame woorde die potensiële lesers sou kon vervreem – Malhuis is ’n ongewone sielkundige riller. Steinmair se aanhalings is goed gekies en sy is ingestem op die introduksie van ’n skrywer aan lesers met ’n spesifieke behoefte.

Daar is duidelik geen behoefte hevoel om die verhaal in kapsule-vorm oor te vertel nie, wat een van die redes is hoekom Steinmair my aanstaan as resensent van populêre fiksie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.