Profile photo of crito

by

Twee soorte reaksie

Maart 29, 2016 in Uncategorized

Soms, onverwags, haal Joan Hambidge ’n resensie uit wat verdien om geraam te word. Haar bespreking in Rapport Boeke van Fransi Nieuwoudt se ’n Vlerkslag van kleur is een van daardie rersensies.

Mens kan jou voorstel dat sy eintlik gedink het dat mens so-iets nie moet resenseer nie. Maar iemand het die moeite gedoen om die verse te skryf, iemand anders het dit uitgegee – so wat bly daar dan anders vir die resensent oor as om te skryf presies waarvoor ’n vrot publikasie goed is?

“Dit word ’n handleiding vir alle dosente in kreatiewe skryfwerk om presies uit te wys wat die moets en veral moenies is van die digkuns,” sê Hambidge.

En lys dan alle aanwysbare soorte foute. Mag die digter daaruit leer, was my onmiddellike reaksie. Moontlik wel. Hambidge maak egter ook ’n ander opmerking wat my gedagtes in ’n ander rigting stuur: “’n Mens is wat jy eet. ’n Digter is dit wat sy of hy lees. Hierdie bundel getuig van min leeswerk in die digkuns.”

Lees, lees, lees!

In Boeke24 volg Hambidge dit op met ’n resensie van HIlda Smits se die bome reusagtig soos ons was. Hier is die ander sy van die saak. Iemand het die moeite gedoen om die verse te skryf, iemand anders het dit uitgegee – so wat bly daar dan anders vir die resensent oor as om te skryf presies waarom ’n goeie publikasie goed is?

Hambidge gee al die wegwysers vir die diegene wat die bundel gaan lees; sy gee analises van die digter se werkswyses, maar ook ’n vinnige blik oor die verwysingswêreld van hierdie bundel. Hambidge is resensent as ontsluiter – dít alreeds is ’n aanduiding van haar evaluatiewe bevinding: Goeie bundel.

So, wat sê dit alles?

Om te dig is nie ’n swymelende omgang met mooi beelde en fraaie woorde nie. Dit is harde werk. Vir Joan Hambidge om te skryf wat sy van die bome reusagtig soos ons was is dit nodig om super-speurder te wees en te gaan soek vir semantiese en estetiese verfyning.

En, anders as wat mens mag dink, kan niemand ’n resensie skryf soos die een wat Hambidge van ’n Vlerkslag van kleur geskryf het sonder jare van intense verdieping in die tradisies en gebruike van die digkuns nie.

2 antwoorde op Twee soorte reaksie

  1. Die probleem is nie die inhoud van die bundel “n Vlerkslag van kleur nie”. Die probleem is dat Joan ‘n kleintjie dood het aan Cordis Trust wat die bundel uitgegee het. Sy laat dit duidelik blyk in die resensie, asook in haar resensie oor Neels Jackson se bundel. ‘n Mens hoef nie baie skerp te wees om die motief agter haar resensie te sien nie.

  2. crito het gesê op April 20, 2016

    Ek het ‘n antwoord van “Tertius” ontvang, wat nie wil hê sy profielfoto moet verskyn nie, en ook nie weet hoe om dit te verwyder nie. Ek het ook geen sukses nie, en plaas dus Tertius se repliek op Jannie van die Kaap hierbo soos dit aan my gestuur is – Crito

    “Baie dankie, Jannie van die Kaap dat jy die moed gehad het om dit te sê!! Dit is algemene kennis dat die dwarsklappe eintlik vir Cordis Trust bedoel is en die meeste van ons weet ook hoekom.”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.