Jy blaai in die argief vir 2016 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Twee soorte reaksie

Maart 29, 2016 in Uncategorized

Soms, onverwags, haal Joan Hambidge ’n resensie uit wat verdien om geraam te word. Haar bespreking in Rapport Boeke van Fransi Nieuwoudt se ’n Vlerkslag van kleur is een van daardie rersensies.

Mens kan jou voorstel dat sy eintlik gedink het dat mens so-iets nie moet resenseer nie. Maar iemand het die moeite gedoen om die verse te skryf, iemand anders het dit uitgegee – so wat bly daar dan anders vir die resensent oor as om te skryf presies waarvoor ’n vrot publikasie goed is?

“Dit word ’n handleiding vir alle dosente in kreatiewe skryfwerk om presies uit te wys wat die moets en veral moenies is van die digkuns,” sê Hambidge.

En lys dan alle aanwysbare soorte foute. Mag die digter daaruit leer, was my onmiddellike reaksie. Moontlik wel. Hambidge maak egter ook ’n ander opmerking wat my gedagtes in ’n ander rigting stuur: “’n Mens is wat jy eet. ’n Digter is dit wat sy of hy lees. Hierdie bundel getuig van min leeswerk in die digkuns.”

Lees, lees, lees!

In Boeke24 volg Hambidge dit op met ’n resensie van HIlda Smits se die bome reusagtig soos ons was. Hier is die ander sy van die saak. Iemand het die moeite gedoen om die verse te skryf, iemand anders het dit uitgegee – so wat bly daar dan anders vir die resensent oor as om te skryf presies waarom ’n goeie publikasie goed is?

Hambidge gee al die wegwysers vir die diegene wat die bundel gaan lees; sy gee analises van die digter se werkswyses, maar ook ’n vinnige blik oor die verwysingswêreld van hierdie bundel. Hambidge is resensent as ontsluiter – dít alreeds is ’n aanduiding van haar evaluatiewe bevinding: Goeie bundel.

So, wat sê dit alles?

Om te dig is nie ’n swymelende omgang met mooi beelde en fraaie woorde nie. Dit is harde werk. Vir Joan Hambidge om te skryf wat sy van die bome reusagtig soos ons was is dit nodig om super-speurder te wees en te gaan soek vir semantiese en estetiese verfyning.

En, anders as wat mens mag dink, kan niemand ’n resensie skryf soos die een wat Hambidge van ’n Vlerkslag van kleur geskryf het sonder jare van intense verdieping in die tradisies en gebruike van die digkuns nie.

Profile photo of crito

by crito

Verposing

Maart 24, 2016 in Uncategorized

NOU, KKNK. Götterdämmerung met ‘n biertuin. So, kortliks:

Dankie Danie Botha vir die resensie van Adam Small se Maria, moeder van God. Ons wag dan vir die opvoering.

Ek is besig om Marinda van Zyl se Amraal te lees. Sal daarna oor hierdie resensie skryf.

Feesgroete.

Profile photo of crito

by crito

‘n Bielie van ‘n resensie

Maart 15, 2016 in Uncategorized

Soms het ek geen ander keuse as om boekresensies op Netwerk24 se webwerf te gaan lees nie. As ek dit gelukkig tref, is daar ’n bonus. Soos pas die geval was met Jean Oosthuizen se resensie van 558 dae deur Yolande Korkie.

Om mee te begin is dit die soort resensie wat nie té gereeld verbykom nie – ’n reaksie op die inhoud van ’n boek waardeur die resensent aandui watse kwelvrae die boek by hom gewek het, en hoe hy die opgelos het. Hy het behoorlik engage daarmee nè? Hy het slaags geraak. Dit gee ’n aanduiding van die inhoud van die boek, maar dit bevraagteken ook die vaste oortuiginge waarvolgens die outeur haar skrywe gemaak het as verslag van geloofsbelewenis. En jy kry ’n baie goeie idee van die kaliber mens wat Jean Oosthuizen is.

Toegegee, Oosthuizen sou ook ’n gewone verslag kon geskryf het van wat met Yolande Korkie en haar eggenoot gebeur het, en lof geswaai het oor almal wat haar heelhuids uit dié beproewing laat kom het.

Maar hy het nie. Oosthuizen se uitgangspunt is dié van iemand wat glo dat daar meer genuanseerd gekyk moet word na alle uitgangspunte en aannames. Hy sien dan ook baie dinge in die  boek raak wat hom dermate prikkel dat hy baie krities met die boek omgaan sonder om verdoemend of vooringenome te klink.

Uiteraard maak 558 dae daarna. Dit sal bitter moeilik wees om digbundels en storieboeke op hierdie manier te benader. Sekerlik sal ’n skrander resensent ’n baie verwikkelde digbundel op hierdie manier kan bespreek, maar nie alle bundels regverdig dit nie, en nie alles resensente is skrander nie.

Die bonus? Albert van Jaarsveld se kommentaar onmiddellik ná die resensie. Lees dit hier:
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/verhaal-boei-en-laat-jou-nadink-20160312

Riëtte Rust se Vlees en bloed word op die Sondag in Rapport bespreek deur Rachelle Greeff, en op die Maandag in Boeke24 deur Donnay Torr. Albei is positief oor Rust se poging om twee “cleaners”, om ’n Pulp Fiction-term te gebruik,  aan die woord te stel. Albei bou die noodsaaklike  inligting vir die resensielesers in.

Greeff skryf uitvoeriger, Torr maak die sterkste kritiese opmerking (oor die bydrae van ’n AfriForum-kundige). Torr had duidelik ’n lengte-beperking; Greeff het die groter spasie wat haar gegun is, uiters goed gebruik om ’n stuk joernalistiek te lewer wat onderhoudend is en lekker lees.

Dit bring my by Cas van Rensburg, ’n veteraan-joernalis, wat Bettina Wyngaard se Slaafs vir Boeke24 resenseer. Ek het al in die verlede geskryf oor sy goeie hoedanighede as resensent en stilis; ek was bly om te sien dat hy Slaafs onder hande gehad het.

Ek weet nie of ek té veel inlees in die resensie nie, maar dis vir my al asof Van Rensburg dit wil laat deurskemer dat hy nie baie verwag het van die roman nie, en toe tot sy verrassing besef het dat hy hier afgekom het op ‘n groot skrywerstalent. Maar selfs wanneer hy in die slot sê dat dit mag lyk of hy té geesdriftig is in sy resensie, swaai hy dit om om die fokus te plaas op die skrywer en dit wat sy vermag het.

En drie hoera’s vir Van Rensburg se aanvaarding, sonder om ophef daarvan te maak, van ‘n lesbiese hoofkarakter in die vorm van Nicci, die speurder waaraan Wyngaard lesers in die speurroman Vuilspel bekend gestel het. Binne die Afrikaanse leeskonteks ‘n unieke figuur.

Profile photo of crito

by crito

Lank en lekker, kort en kragteloos

Maart 8, 2016 in Uncategorized

”N Goeie titel kan ‘n resensent lelik pooitjie. Dink maar wat iets soos watse vrees Unbearable Lightness of Being in sy resensente ingejaag het. Maar toe lees hulle die boek, en dis skielik makliker.

Ek glo nie Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva het vrees ingeboesem nie; ek sal wel verbaas wees as Elmari Rautenbach nie ‘n effense krieweling gevoel het wat haar dadelik op haar pasoppens geplaas het nie.  Die boek se titel resoneer lekker met dié van ‘n huidige blitsverkoper in die VSA – Luc ia Berger se A Manual for Cleaning Women. Die vrou in die fokus is miskien net ‘n groter helleveeg as daardie kortverhale s’n.

Aanvanklik reageer Rautenbach op die vonk wat die titel verskaf. Sy voer dit verder en draai dan flink weg uit die resensiepatroon: “Kapp se Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva is onverdunde plesier. Dit het my laat terugverlang na Desembervakansies op hoër­skool, toe ek smiddae in die koel stilte van Hermanus se biblioteek stapels liefdesverhale kon uitneem om dit dan in ons agterkamer te lê en verslind.”

Die bespreking wat dan volg is ‘n opgaaf van hoe lekkerlees-romans deur die jare verander het, en hoe dit die nuwe era eerliker weerspieël. Belangriker nog: Dit spruit uit ervaring, nie verbeeldingsvlugte nie. Ons is dus weg van ontsnapping en deurgedruk tot by aanvaarding van die moderne lewensdilemma as medium vir die verkneukeling.

Ek glo nie Kapp kan kla oor die kaliber resensent wat sy hier gekry het nie. ‘n Resensent wat substansieel ‘n bydrae maak, en sowel boek as skrywer respekteer.

Karla Janse van Rensburg se bespreking van Vir ewig en altyd saam deur Danny Fourie (Boeke24) is duidelik in die beste gees geskryf, met meegevoel vir ‘n outeur wat ‘n moeilike afsterwe van ‘n geliefde weens kanker moes verwerk.

Janse van Rensburg doen niks verkeerd nie – maar aaklig soos dit ook mag klink, doen sy weinig reg. Haar resensie is eintlik ‘n onkritiese inligtingstuk, met die laaste drie paragrawe variasies op ou gemeenplasighede:

“Dit is hartseer dat sy op 49 moes sterf, maar deur die boek is dit duidelik dat haar dood, net soos haar lewe, nog baie mense se lewe gaan aanraak.

“Die laaste drie hoofstukke van die boek is veral vol wyshede oor die rouproses en hoe om die dood van ’n geliefde te hanteer deur op God staat te maak.

“Mense wat ’n geliefde verloor het, sal baie vertroosting uit dié boek kan put.”

Is dit nodig om publikasies soos Vir ewig en altyd saam te resenseer as dit op hierdie manier gedoen word? Ek glo nie. As die resensent wel ‘n kans en ruimte kry om dieper in te dring in die boek, en vir ons te vertel hoekom hierdie boek anders as die derduisende soortgelyke boeke wat deur die jare gepubliseer is, nou ja, dan is dit ‘n proposisie. Wie is Danny Fourie en wat maak die dimensies van sy belewenis só wetenswaardig anders?

Helen Schöer het duidelik ook min ruimte gekry vir Marga en Henriëtte: In die skadu van skisofrenie, geskryf deur Marga van Rooy en Henriëtte Boot. Ook hier kan ‘n mens sê dat die bespreking wat Boeke24 geplaas het, niks verkeerds gedoen het nie – maar ek is wel vies dat Schöer nie die ruimte gegun is om meer te vertel van die boek nie.

Van Rooy se wedervaringe, asook die manier waarop haar dogter, ‘n skisofreen, sake gesien het, verdien vir die resensieleser meer toeligting. ‘n Mens kry op verskeie plekke die gevoel dat Schöer eintlik brand om meer inligting te gee, maar dan sou die resensie té lank wees. Ek wens hierdie resensie het meer ruimte gekry – trouens, ek kan nie begryp hoekom ‘n heruitgawe van ‘n geskiedkundige werk oor Slagtersnek wel heelwat meer ruimte gegun is nie. ‘n Heruitgawe! Vaderland …

Profile photo of crito

by crito

Speelsheid en humor

Maart 1, 2016 in Uncategorized

Karel Schoeman is lank beskou as een van die heilige beeste van die Afrikaanse letterkunde. Die resensie wat Wium van Zyl ’n week gelede gepubliseer het van Imperiale Somer: Suid-Afrika tussen oorlog en unie 1902-1910 beskou ek as ’n goeie een. Ná Fransjohan Pretorius se bespreking in Boeke24 voel ek geneig om te sê dat Van Zyl vir Schoeman die voordeel van die  twyfel gegee het, omdat hy ’n onaantasbare skrywer geword het.

Pretorius maak ’n paar kritiese opmerkings wat sy resensie onmiddellik op ’n hoër vlak van kritiese bespreking plaas. Nie dat Pretorius blind is vir die boek se goeie eienskappe nie, allermins. Hy swaai Schoeman baie lof toe.

Maar sy kritiek handel oor die lang en baie aanhalings wat Schoeman gebruik. Pretorius is bewus dat sulke aanhalings effektief kan wees by die oproep van ’n spesifieke tydsgees, maar hy dink ook baie duidelik dat Schoeman besig is om lui te wees. Schoeman kon minder aanhalings gebruik het en self meer geskryf het. Hy kan mos.

En dan doen Fransjohan Pretorius die ondenkbare. Hy spreek die heilige bees aan oor ’n spesifieke woordkeuse:

“En dan is dit vir dié resensent onduidelik waarom Schoeman die Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog tot 1905 as “Hollandssprekendes” bestempel. My bevinding is dat die Boere in die Anglo-Boereoorlog reeds Afrikaans gepraat het – soos wat talle buitelandse vrywilligers in hul geskrifte aangedui het. Dit was kennelik nie, soos hy aandui, ‘n “ontluikende Afrikaans” nie.”

Pretorius vermoed dat Schoeman se standpunt vir ’n interessante debat sal sorg. ’n Mens hoef net sy Die laaste Afrikaanse boek te gelees het om te weet dat Schoeman homself met woeligheid sal verdedig.

Iets anders in die resensie het my aandag getrek. Pretorius sien iets raak wat, meen ek, nog geen resensent ooit van ’n Karel Schoeman-boek gesê het nie: “Daar is ‘n speelsheid by Schoeman te bespeur, humor, ‘n glimlag …”

Die moderne lewe lewer die een verrassing na die ander.

Nou nie op dieselfde vlak as humor in ’n Schoeman-werk nie, maar Clinton V. du Plessis se toetrede as resensent in die groter media is te verwelkom. Die poel van digkuns-resensente wat deur Rapport Boeke en Boeke24 gebruik word, is baie wit. Om Du Plessis die nuwe bundel van Ronelda Kamfer, Hammie, te laat bespreek, was ’n baie goeie idee.

Sy resensie omseil die patroonmatigheid wat daar te bespeur is in die resensies van Afrikaanse digbundels. Sy aanloop is ’n opgaaf van die digter se lewe tot dusver, die tematiese eienskappe van die bundel, met aanhalings daaruit. Uiteindelik sluit hy met ’n kort evaluerende samevatting van sy gevoelens jeens die bundel:

“Wat tref in hierdie bundel is die eerlike, pretensielose skryfstyl, die oopskryf van die lewens van gewone mense, die outentieke stem, die onopgesmuktheid, die naatlose, natuurlike manier waarop die Engelse woorde, uitdrukkings, seggings langs die Afrikaans plek inneem. Hier is geen literêre truuks of banale belese vertoon nie. Die digter het geen illusies oor die taal, digterskap, oor mense en ­literêre groupies nie.”

Ja, dit handel oor Kamfer se bundel, maar in hierdie opmerkings lê ook opgesluit ’n soort beleidsverklaring deur Du Plessis.

Hopelik word hy ’n gereelde besoeker aan die Afrikaanse boekeblaaie. Ek hou van die dinge waarvan hy hou.