Profile photo of crito

by

Probleme probleme probleme

Februarie 4, 2016 in Uncategorized

Hierdie rubriek is begin, so word ek vertel, omdat daar liefhebbers van die Afrikaanse boek was wat besorg was oor die peil van resensies op blaaie waar sulke boeke geresenseer word. Só is dit vandag nog. Die uwe skuil steeds agter ’n skuilnaam, al is dit hóé ’n laakbare, slegte gewoonte. Al wat verander het, is dat die getal boekeblaaie verminder het van vier na twee, met LitNet al hoe meer ’n toevlug vir die ernstige resensent. Huisgenoot het heel verrassend ’n goeie bron vir boekenuus geword, en die Taalgenoot se boekresensies  groei in statuur.

Die afgelope week en ’n paar dae het ’n groot diskoers ontwikkel oor wat resensies is; wat boekeblaaie níé moet wees nie; en wat ’n boekeredakteur behoort te doen. Dit alles na aanleiding van JB Roux se bespreking van Channette Paul se Offerlam.

Tot in die verste hoekies van Facebook is mense sleggesê. Nuwe drome het ontstaan, bondgenootskappe is gesmee.

Ek kry hoop hieruit. Staan ons op die vooraand van ’n oplewing in die boekekritiek? Mag dit so wees!

Maar ek moet ook na alle kante toe vermaan. Die aard van koerante het nie verander nie. Hul behoefte is steeds groeiende lesersgetalle. Boekresensies se plek binne hierdie raamwerk is om boeiende, informatiewe leesstof te bied wat mense elke week die Boekeblad heel eerste sal opsoek.

Daar word gesoek na resensente wat die soort kopie lewer wat alle lesers van dié taal aanspreek en week na week sal teruglok vir meer van dieselfde. Die onderwerpe mag verskil, maar die resensente se persoonlikhede raak bekend, en mense keer gereeld terug Boekeblad toe, op soek na hierdie nuwe kennis van hulle, die prikkelende boekresensent.

Hou die hart vas vir die Boekeredakteur. Dié het te kampe met resensies wat laat of glad nie opdaag. Meeste van hulle is met weinig flair geskryf – wie gaan nou meesterklasse opdis teen die huidige tariewe wat vir resensies betaal word?

Maar dit is nie al dilemma vir die Boekeredakteur nie. Soos enige redakteur van ’n koerant-afdeling weet, soek hy/sy vir elke uitgawe ’n hoofresensie. Dié kan enersyds ’n bespreking van ’n baie belangrike publikasie wees, of andersyds ’n belangwekkende resensie deur ’n uitnemende resensent. Hoe nou gemaak as alles min of meer besluit is vir ’n spesifieke uitgawe, en die nuus kom dat die hoofresensie nie meer betyds geskryf gaan word nie? (Of hoegenaamd geskryf gaan word nie – nadat prof dr Slim al meer as twee maande met die boek tuis sit?)

Dan is daar ook die gevalle waar die hoofresensie aankom, en dit is vrot geskryf of afgerammel – of só skeefgetrek negatief dat die Boekeredakteur skielik weet dat al die skinnerstories wat rondlê oor die resensent se vete met die skrywer, toe al die tyd waar was?

Dit is dan wanneer Boekeredakteurs gate toestop met resensies oor liefdesverhale en speurverhale wat al maande lank in die rekenaar se Limbo-legger lê en wag om ongebruik geskrap te word. Dít is waarvoor die Limbo-legger daar is. Vir die dag van hoogste nood.

Laastens is daar ook die Boekeredakteur se nagmerrie – resensente wat ongevraag resensies instuur. Dit kos baie tyd en energie vir die Boekeredakteur om dan eers vas te stel of daar sinistere motiewe en kleinlike literêre politiek agter die skryf van die betrokke resensie lê, en dan eers kan besluit word of die resensie aanvaar word. (In die jare toet was ek by ’n boekebylaag in die Noorde betrokke – en ons staande reël was dat ongevraagde/“unsolicited” resensies nie aanvaar word as hulle negatief is nie.)

Met die Offerlam-debakel het die ander sy van die saak goed belig geraak: Wat verwag skrywers van Boekeredakteurs? Ek dink skrywers sal deur die bank sê dat hulle tevrede sal wees met ’n deeglik beredeneerde bespreking waarin die resensent insig toon in die problematiek wat deur die boek opgewerp word.

Natuurlik is lof en prysgesange baie welkom  – maar moet net nie ’n dom resensent kies wat om den brode skryf en geneig is om die reklamepamflet se inhoud te gebruik as riglyn vir sy/haar manier van lof betuig nie. ’n Negatiewe resensie kan ’n skrywer gevlei laat voel as dit duidelik is dat die boek die resensent diep en deeglik laat nadink het.

Selfs as die resensent iemand is wat baie lief is vir hom/haarself, maak dit nie baie saak nie, net solank hy kundig en knap genoeg is om die boek na waarde te skat. En as daardie resensent se ego die dryfkrag agter die resensie is, laat hy/sy ten minste aan die boek se kant uitkom, eerder as daarteen.

Só kan ek aangaan, maar dit alles kom uiteindelik terug na ’n paar sleutelgedagtes, naamlik dat skrywers dankbaar is vir resensies, en nog meer dankbaar as die resensent die boek kan takseer vir wat dit wil wees, en nie vir wat die resensent dink dit sou wees as hy/sy dit geskryf het nie.

Implisiet hierin is uiteraard ’n paar baie ontstellende insigte. Die belangrikste daarvan is dat skrywers meen baie van vandag se resensente is nie opgewasse vir hul taak nie. Ek is geneig om saam te stem – maar die punt is vir my dat ’n knap Boekredakteur sulke resensente kan lei tot die punt waar hul menings wel gesaghebbend is.

’n Mens moet aanvaar dat die resensente-poel nie baie groot is nie. Dít is vir my nog meer angswekkend as die feit dat daar net twee amptelike boekeblaaie by koerante oor is. ’n Mens kan net hoop dat die huidige geslag Boekeredakteurs al begin het aan ’n oplossing hiervoor.

Daar is darem een positiewe gedagte waarmee ek kan afsluit – dit gaan slegter met Engelse boeke en resensente in Suid-Afrika as met hul Afrikaanse eweknieë.

2 antwoorde op Probleme probleme probleme

  1. Ek stem hartlik met Crito saam en sou graag wou vra of elke boek ʼn behoorlike kans kry? As die boekeredakteur nie van ʼn spesifieke skrywer hou nie, of hom of haar geringskat gaan hy (of sy) nogtans sorg dat so ʼn boek behoorlik geresenseer word?

  2. Goed geskryf, hierdie moet ook as leesstof vir joernalistiekstudente gegee word. NS: Terloops, die Offerlam-drama was ook ‘n puik voorbeeld van ‘group/mass hysteria’, iets waaroor die digterpsigiater dr. Casper Schmidt reeds jare terug geskryf het. Maar dit daar gelaat, ek is al klaar in die moeilikheid.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.