Jy blaai in die argief vir 2016 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

‘n Ander geskiedenis

Februarie 23, 2016 in Uncategorized

Een van die vrae waarmee meeste Suid-Afrikaners worstel, en wat daagliks uiting vind in die politiek, ongeag mens se invalshoek, is: Hoe anders kon dit nie gewees het nie? As die regte mense op die regte tyd nugtere, versiende besluite geneem het, sou ons geskiedenis veel anders verloop het.

Byvoorbeeld: Gestel die “Naturellen Grond Wet” van 1913 is nooit deur die Volksraad aanvaar nie. Gestel dat daar in sy plek voorsiening gemaak is vir grondbesit deur almal?

Volgens resensent Wium van Zyl beskryf Karel Schoeman in Imperiale Somer: Suid-Afrika tussen oorlog en unie 1902-1910 presies hoe sleg die toestande in daardie tyd was, “. . . die armblankes van Fordsburg of lokasiebewoners van Beaufort-Wes, die werkloses van Kaapstad, die bywoners en onteiende swart kleinboere van die binneland.” En dat dit slegs die imperiale bewindhebbers was wat voordeel getrek het uit die situasie.

Wat ek van Van Zyl se bespreking hou, is die skalkse oog waarmee hy die skeppende skrywer van die historikus onderskei. Uiteraard dui hy die struktuur van die argumentasie aan – niemand sal ’n Schoeman-werk kan lees sonder om bewus te wees van die rigsnoere wat die betoog onderlê nie.

En betoog is dit sekerlik wel. Sê Van Zyl: “Die skrikbeeld waarop die boek aanstuur ….” Enersyds erken Van Zyl die bewustheid by Schoeman van die sosiale opset, andersyds die geskiedkundige belang van daardie verfoeilike wet van 1913.

Hoe anders kon dit gewees het? Wium van Zyl dui aan dat mens daardie vraag ten beste sal kan antwoord as jy hierdie boek van Karel Schoeman as agtergrond lees. ’n Baie goeie resensie.

Na die poësie. Waar Joan Hambidge in Boeke24 vir Ronelda S. Kamfer se Hammie bespreek. En daarin die interessante opmerking maak dat Kamfer haar waarskynlik nie veel sal steur aan Hambidge se bespreking  nie: “’n Mens kan jou voorstel hoe my resensie eweneens versnipper sal word met ’n hoonlag en ’n gevoel van wat weet jy van my situasie.”

Wat beteken dit? Dat daar onafbreekbare skanse tussen veskillende groepe mense in Suid-Afrika is? Dat Kamfer dalk voel dat as mens nie dáár was nie, jy haar emosies en gedigte nie volledig kan begryp nie?

Ek gaan nie antwoorde hierop probeer uitlê nie. Wat ek wel kan sê, is dat ek ná daardie sin van Hambidge die resensie klaargelees het, en toe verskeie male herlees het.  Volpunte vir Hambidge se weiering om haar kritiese blik op die digkuns ondergeskik te stel aan die emotiewe aanslag van Kamfer se kuns. En volpunte aan Kamfer vir haar eie verskansing in “slapende honde”.

Daniel Hugo het dit eweneens in Boeke24 oor Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, saamgestel deur Fanie Olivier. Ek voel min of meer dieselfde daaroor as oor Marius Crous se resensie van dieselfde boek. Hugo se bespreking is formidabel, en sy waarskynlike lesers is die samesteller van die bundel en literatore.

Hy het dit sekerlik besef, want op ’n punt gee hy toe dat hy besig is om op leemtes te fokus. Ek wens hy het net daar gestop, en die hele resensie oorgeskryf om te verduidelik hoekom die bloemlesing vir hom ’n “dubbele plesier” is.

Ek sal André Pretorius nie verkwalik as hy voel dat hy aan die agterste speen suig met Helen Schöer se resensie van sy Italiaanse Intermezzi (Boeke24) nie. Schöer spreek haar goedkeurend uit oor die deel van die boek wat vertel van Pretorius se bewegings van Rome suidwaarts. Duidelik dinge waarby sy aanklank vind.

Maar sy erken ruiterlik dat Pretorius haar “agterlaat” wanneer hy oor die “hoërorde-plesiere” soos opera, kuns en argitektuur skryf. Ek respekteer haar eerlikheid hieroor. Tog vra ek myself af hoekom daar nie gesoek is na ’n ander resensent vir ’n boek van hierdie aard nie, iemand soos die veteraan musiekjoernalisteThys Odendaal, Nic de Jager of Louis Heyneman?

Die antwoord lê waarskynlik in ’n mate daarin dat die boek self ’n veeltal van hoeke het. Hoekom nie twee boeke skryf, een oor die verhewe kunste, en die ander oor die gewone vreugdes van ’n Italiaanse reis nie? Nouja, die uitgewer had seker goeie redes om die boek in sy huidige vorm te publiseer, en die boekeredakteur se keuse van resensent het oorgehel in die rigting van iemand wat tot die grootste aantal lesers sou spreek.

Maar op hierdie manier beweeg ’n boekeblad in die rigting van “dumbing down”, ’n beskrywing wat tot joernaliste se ergernis dikwels koerante ten laste gelê word. In hierdie geval is dit die uitgewer wat moet pa staan vir die moles.

Profile photo of crito

by crito

Die regte resensent

Februarie 16, 2016 in Uncategorized

Die Offerlam-gedoente dwing my om die soort vrae oor resensies te vra wat deur ’n klompie leesliefhebbers  op Facebook gestel is. Die een wat my vandag interesseer, is: Is dit die regte resensent vir dié spesifieke boek?

In die besprekings van Sondag en Maandag in Rapport Boeke en Boeke24 verskyn het, is daar een waarvan ’n mens kan sê dat dit 100% in die kol is wat die resensent betref. Dis nou Isabel Uys se Afrikaans vir almal wat deur Ilza Roggeband bespreek is. Ilza is ’n enkelouer wat die berge en dale van kind-grootmaak op Facebook rapporteer. Ek het al baie vir myself gesê ek wens ek is klein Zac.

Roggeband sit met die uitdagings wat ouers het om kinders in die digitale era groot te maak terwyl die grootste deel van ons onderwysstelsel nog net gerat is vir papier. En soms onder leiding van onderwysers wat self leiding nodig het. Dit is hoekom ’n boek soos Afrikaans vir almal haar nuttig te pas kom.

Roggeband se bespreking van die boek se inhoud getuig van iemand wat al deeglik daarmee slaags was, en weet hoe die vurk in die hef bymekaar kom. Sy beveel die boek aan, ten sterkste, met ’n laaste gedagte wat tot my spreek: “Maar die meeste volwassenes en studente sal waarskynlik net soveel hieruit kan put.” As ek kyk hoe droewig dit sommige oggende met my en Beter Afrikaans se vrae gaan, het ek hierdie boek nodig.

Die keuse van Marius Crous om Fanie Olivier se nuwe Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (Boeke24) te bespreek, is vir my minder suksesvol.

Crous steek homself nie in die skande nie, trouens, hy lewer een van die heel beste resensies wat ek hom nog sien skryf het. Sy ontleding van die stof voor hom is uitstekend, en die maniere waarop daaroor gedink kan word, is vir my van werklik hoogstaande gehalte.

Hou mens egter in gedagte dat hierdie bloemlesing eintlik ’n populêre inslag het, is Crous nie besig om vir die bloemlesing se teikengehoor te skryf nie. Sy resensie is eerder gerig op akademici en mede-digters, en nie op die hordes verliefdes buite die akademie nie.

Daniel Hugo was, lei af ek uit een van sy opmerkings in die bespreking van Om Hennie Aucamp te onthou (Rapport Boeke), goed bevriend met Aucamp. Hy is een van die bydraers in hierdie bundel, saamgestel deur Danie Botha. Wat ’n mens dan onmiddelik laat wonder hoekom hy ingestem het om die resensie te skryf.

Dit is ’n vraag wat my bly hinder, al is die resensie hóé goed en vernuftig geskryf. Hugo is een van die mees onderbenutte resensente, en ek kan my nie herinner dat hy al ooit drooggemaak het met enige van sy boekbesprekings nie.

Hy gee jou ’n paar dosyn indrukke wat jou sal nuuskierig maak; hy weet wat die interessantste hoeke is om Aucamp te benader, gegee die feit dat ons reeds feitlik alles van hom weet wat daar moontlik te wete kan wees. Een saak opper hy nie – is daar ’n bydrae deur Ria en wyle Johan Smuts – die mense wat hom seker die beste geken het in sy Stellenbosse dae. Hierdie bundel is sekerlik voor Johan Smuts se dood aangelê.

Waar die resensie dan uitsondefrlik knap geskryf is en onderhoudend lees, laat hy iets weg wat mens dwing om ten minste in ’n boekwinkel te gaan kyk wat die volle inhoudsopgaaf is. En dan, of jy nou koop of nie, bly daardie een kwelvraag wat pla.

Profile photo of crito

by crito

Probleme probleme probleme

Februarie 4, 2016 in Uncategorized

Hierdie rubriek is begin, so word ek vertel, omdat daar liefhebbers van die Afrikaanse boek was wat besorg was oor die peil van resensies op blaaie waar sulke boeke geresenseer word. Só is dit vandag nog. Die uwe skuil steeds agter ’n skuilnaam, al is dit hóé ’n laakbare, slegte gewoonte. Al wat verander het, is dat die getal boekeblaaie verminder het van vier na twee, met LitNet al hoe meer ’n toevlug vir die ernstige resensent. Huisgenoot het heel verrassend ’n goeie bron vir boekenuus geword, en die Taalgenoot se boekresensies  groei in statuur.

Die afgelope week en ’n paar dae het ’n groot diskoers ontwikkel oor wat resensies is; wat boekeblaaie níé moet wees nie; en wat ’n boekeredakteur behoort te doen. Dit alles na aanleiding van JB Roux se bespreking van Channette Paul se Offerlam.

Tot in die verste hoekies van Facebook is mense sleggesê. Nuwe drome het ontstaan, bondgenootskappe is gesmee.

Ek kry hoop hieruit. Staan ons op die vooraand van ’n oplewing in die boekekritiek? Mag dit so wees!

Maar ek moet ook na alle kante toe vermaan. Die aard van koerante het nie verander nie. Hul behoefte is steeds groeiende lesersgetalle. Boekresensies se plek binne hierdie raamwerk is om boeiende, informatiewe leesstof te bied wat mense elke week die Boekeblad heel eerste sal opsoek.

Daar word gesoek na resensente wat die soort kopie lewer wat alle lesers van dié taal aanspreek en week na week sal teruglok vir meer van dieselfde. Die onderwerpe mag verskil, maar die resensente se persoonlikhede raak bekend, en mense keer gereeld terug Boekeblad toe, op soek na hierdie nuwe kennis van hulle, die prikkelende boekresensent.

Hou die hart vas vir die Boekeredakteur. Dié het te kampe met resensies wat laat of glad nie opdaag. Meeste van hulle is met weinig flair geskryf – wie gaan nou meesterklasse opdis teen die huidige tariewe wat vir resensies betaal word?

Maar dit is nie al dilemma vir die Boekeredakteur nie. Soos enige redakteur van ’n koerant-afdeling weet, soek hy/sy vir elke uitgawe ’n hoofresensie. Dié kan enersyds ’n bespreking van ’n baie belangrike publikasie wees, of andersyds ’n belangwekkende resensie deur ’n uitnemende resensent. Hoe nou gemaak as alles min of meer besluit is vir ’n spesifieke uitgawe, en die nuus kom dat die hoofresensie nie meer betyds geskryf gaan word nie? (Of hoegenaamd geskryf gaan word nie – nadat prof dr Slim al meer as twee maande met die boek tuis sit?)

Dan is daar ook die gevalle waar die hoofresensie aankom, en dit is vrot geskryf of afgerammel – of só skeefgetrek negatief dat die Boekeredakteur skielik weet dat al die skinnerstories wat rondlê oor die resensent se vete met die skrywer, toe al die tyd waar was?

Dit is dan wanneer Boekeredakteurs gate toestop met resensies oor liefdesverhale en speurverhale wat al maande lank in die rekenaar se Limbo-legger lê en wag om ongebruik geskrap te word. Dít is waarvoor die Limbo-legger daar is. Vir die dag van hoogste nood.

Laastens is daar ook die Boekeredakteur se nagmerrie – resensente wat ongevraag resensies instuur. Dit kos baie tyd en energie vir die Boekeredakteur om dan eers vas te stel of daar sinistere motiewe en kleinlike literêre politiek agter die skryf van die betrokke resensie lê, en dan eers kan besluit word of die resensie aanvaar word. (In die jare toet was ek by ’n boekebylaag in die Noorde betrokke – en ons staande reël was dat ongevraagde/“unsolicited” resensies nie aanvaar word as hulle negatief is nie.)

Met die Offerlam-debakel het die ander sy van die saak goed belig geraak: Wat verwag skrywers van Boekeredakteurs? Ek dink skrywers sal deur die bank sê dat hulle tevrede sal wees met ’n deeglik beredeneerde bespreking waarin die resensent insig toon in die problematiek wat deur die boek opgewerp word.

Natuurlik is lof en prysgesange baie welkom  – maar moet net nie ’n dom resensent kies wat om den brode skryf en geneig is om die reklamepamflet se inhoud te gebruik as riglyn vir sy/haar manier van lof betuig nie. ’n Negatiewe resensie kan ’n skrywer gevlei laat voel as dit duidelik is dat die boek die resensent diep en deeglik laat nadink het.

Selfs as die resensent iemand is wat baie lief is vir hom/haarself, maak dit nie baie saak nie, net solank hy kundig en knap genoeg is om die boek na waarde te skat. En as daardie resensent se ego die dryfkrag agter die resensie is, laat hy/sy ten minste aan die boek se kant uitkom, eerder as daarteen.

Só kan ek aangaan, maar dit alles kom uiteindelik terug na ’n paar sleutelgedagtes, naamlik dat skrywers dankbaar is vir resensies, en nog meer dankbaar as die resensent die boek kan takseer vir wat dit wil wees, en nie vir wat die resensent dink dit sou wees as hy/sy dit geskryf het nie.

Implisiet hierin is uiteraard ’n paar baie ontstellende insigte. Die belangrikste daarvan is dat skrywers meen baie van vandag se resensente is nie opgewasse vir hul taak nie. Ek is geneig om saam te stem – maar die punt is vir my dat ’n knap Boekredakteur sulke resensente kan lei tot die punt waar hul menings wel gesaghebbend is.

’n Mens moet aanvaar dat die resensente-poel nie baie groot is nie. Dít is vir my nog meer angswekkend as die feit dat daar net twee amptelike boekeblaaie by koerante oor is. ’n Mens kan net hoop dat die huidige geslag Boekeredakteurs al begin het aan ’n oplossing hiervoor.

Daar is darem een positiewe gedagte waarmee ek kan afsluit – dit gaan slegter met Engelse boeke en resensente in Suid-Afrika as met hul Afrikaanse eweknieë.