Jy blaai in die argief vir 2016 Januarie.

Profile photo of crito

by crito

Gaan verby

Januarie 25, 2016 in Uncategorized

My groot nuwejaarsvoorneme is dat ek my vanjaar nie gaan steur aan resensies wat my irriteer of verveel nie. Ignoreer hulle net.

Daarom gaan ek net sê dat Chanette Paul se Offerlam sekerlik ’n behoorlike resensie in Rapport Boeke verdien, en nie die halfgebakte verslaggie wat in die naweek verskyn het nie. Is dit te veel gevra, in hierdie tye waarin ’n Afrikaanse skrywer kan hoop op twee besprekings van sy/haar boek, om van ’n resensent wat tot ’n negatiewe slotsom oor ’n boek kom, te verwag om dit behoorlik te motiveer? Chanette Paul het nie hierdie hovaardige oppervlakkigheid verdien nie.

Riëtte Grobler vaar heelwat beter met ’n essensieel negatiewe resensie van Kristel Loots se  ’n Ander vrou se rok. Toegegee, dit is ’n heelwat yler boek as Offerlam, met aansienlik nederiger ideale. Grobler probeer om die roman se tekortkominge te bespreek sonder om bitsig of gemeen te wees, en kry dit reg ook. Kristel Loots sal presies weet wat sy volgende keer moet vermy.

Joan Hambidge se bespreking van die vertalings van Wilhelm Knobel se gedigte, Die ongewapende man op 80 val ’n bietjie buite die raamwerk van hierdie rubriek, maar dit het my nogtans laat wonder of mens nog van Knobel se bundels in die hande kan kry? Ek’s nou goed nuuskierig.

Profile photo of crito

by crito

Wonderskoon

Januarie 20, 2016 in Uncategorized

Die eerste keer dat ek Randall Wicomb  hoor sing het, het ek my aan hom verwonder. Só eksoties – soos ’n sigeuner, het ek gedink. Kitaar, bandana, jeans, T-hemp en kruisbande, as ek reg onthou.Dalk was dit ’n beret, nie ’n bandana nie.
Sy sang was iets wonderskoons. Anders as baie van sy tydgenote op die verhoog, kon mens elke woord hoor wat hy sing. Elke infleksie was beplan vir maksimum emosionele effek. Randall Wicomb het die Afrikaanse taal ’n taal met trots gemaak.
Van watter Wimcombs is hy, het ek gewonder?
Dít is die vraag waarop ek destyds nie ’n antwoord gehad het nie – en om heeltemal eerlik te wees, daar in die Oude Libertas-Amfiteater het ek nie langer daaroor nagedink nie.
Maar die antwoord het uiteindelik uitgekom, in ’n tydstip wat dit eintlik nie meer saakgemaak het nie. Wicomb is met ope arms ontvang deur mense wat hom nie sou gekoester het in die dae toe hy nog streng bruin geklassifiseer was nie.
Amanda Botha gee in haar resensie van Kleur: My lewe, my lied deur Randall Wicomb saam met Amos van der Merwe (Rapport Boeke) ’n blik op die smet wat apartheid nie alleen op Wimcomb se lewe gelaat het nie, maar ook op diegene wat aan die ander kant van die lyn staan.
Die boek het duidelik baie emosies by haar gewek, oorwegend skaamte vir dít wat Wimcomb en almal wie se velle nie wit was nie aangedoen is. Die resensie is nie lank nie, maar Botha kry dit reg om mens te laat besef hoe diep ontroer sy is deur die lees van die boek.
Wat vir my baie betekenisvol is, is dat sy erken dat sy nie woorde kan vind om haar gevoelens oor die tragiek van só ’n lewe vas te vang nie. Ek lees daarin iets waarmee ek kan identifiseer – die ongemaklike, diep steurende skaamte vir die dinge wat ek weens wit bevoorregting nooit gekonfronteer het nie.
As dít Botha se doel was met die resensie, slaag sy uitnemend daarin.
Nicol Stassen se navorsing oor die Dorslandtrek het uiteindelik Die Dorslandtrek 1874-1881 opgelewer. Te oordeel na Wium van Zyl se bespreking in Rapport Boeke ’n grootse werk.
Van Zyl se reaksie op die boek laat my vermoed dat dit die moeite loon om dit te lees, maar dat daar nog boeke hieroor geskryf kan word. Stassen se navorsing, sê Van Zyl, het baie vrae opgewerp, soveel so dat hy gelukkig voel om die vrae net te verstaan. Dít eerder as om finaal te kan sê of daardie trek die moeite werd was.
Chris Jones se bespreking van Geagte Jahwe, elf briewe deur Willie Esterhuyse, lees onderhoudend. Jones het begrip vir die geestelike dimensie wat ’n reeks besoeke aan Malta vir Willie Esterhuyse geopen het. Terwyl ek die resensie lees, veral waar Jones verduidelik hoe dinge mens wil help glo dat die mens en die wêreld anders kan wees, kom die gedagte by my op dat resensies soos hierdie soms net by mens verbygaan omdat die resensent té hoflik is. Jy is bewus van die implisiete veronderstelling dat die leser gelowig is, en ’n nuuskierigheid het oor Willie Esterhuyse se geestelike insigte. Maar vir die agnostikus en ongelowige is daar geen argumenterende kern in die resensie wat hulle sal laat begin lees en end-uit lees nie.
Daar is iets te sê vir ’n polemiese inslag.