Jy blaai in die argief vir 2015 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Afstand en verwydering

Desember 9, 2015 in Uncategorized

Dis ‘n aardige gevoel om in ‘n deel van die wêreld te sit waar daar oorstromings is, en op die internet te lees dat dit tuis al droeër word. Hierdie gevoel van afstand en verwydering is nog verder aangedryf deur Paul Boekkooi se resensie van Neels Hansen: Van plaasseun tot operaman (Boeke24).

Dit het ‘n ou hunkering na die dae van die streekrade weer laat wakker word, en daarmee saam ‘n irritasie met die kulturele provinsialisme wat daarmee gepaard gegaan het. Wie se balletgeselskap was die beste, wie se simfonie-orkes?

Om Boekkooi dan te sien skryf dat Neels Hansen die belangrikste opera-regisseur en –ontwerper in die tydvak van die gesubsidieerde teater in Suid-Afrika was, is net om van voor die ou bolla los te skud en gillend in die strate af te storm. Ek bedoel, het die man nog nie van Angelo Gobato en Dicky Longhurst gehoor nie?

Maar grappies op ‘n stokkie. Boekkooi weet hoeveel sorge en verdriet opgesluit lê in selfpublikasies soos hierdie een van Tinus Kühn.

Boekkooi noem in die verbygaan welke leemtes daar in die boek is (baie), maar speel dit voortdurend af teen die totaliteit van ‘n lofwaardige publikasie met ‘n aantoonbare waarde vir die geskiedskrywing oor ‘n era wat al te maklik deur moderne “historici” verwerp word omdat dit onder die vlerk van die apartheid-regime geskied het.

Die vraag wat vir my bly hang, en wat Boekkooi nie vermeld nie, is hoekom die hoofstroom-uitgewers nie meer waag met boeke van hierdie aard nie.

Boeke24 dra ook Susan Cilliers se bespreking van ‘n boek uit die stal van ‘n vir my onbekende uitgewer, Erfenis Publikasies. Die boek is Nellie Alberts se Geitjievoet en hondebal, ‘n versameling kontreivertellinge uit die Noord-Kaap.

Cilliers het duidelik ‘n sagte plek in haar hart vir daardie streek en sy mense, en die boek  geval haar ook. Maar heel onwetend (of is dit dalk onnadenkend?) raak sy in die openingsparagraaf iets aan wat eintlik deel is van ‘n baie ernstige debat. As dit so is, soos Cilliers beweer, dat Engels daar in die Noord-Kaap net deur toeriste gebesig word, dan beteken dit mos dat hierdie streek se mense dit nooit gaan maak in universiteite waar die voertaal Engels is nie. Dan moet die regering mos omsien na hul behoeftes, of wat praat ek alles, kameraad Blade?

Ja, daai storie …

Annemarie van der Walt se resensie van Anderkant uit het my nogal laat wip. En dit toe weer laat lees. Slim vang sy baas, na alle kante toe.

Vir eers het Van der Walt dit heeltemal reg: Mens lees Hanlie Retief se onderhoude vir die insig en vermaaklikheidswaarde. Jy lees dit nie as gevallestudies waaruit sielkundiges sekere lesse en analises kan tap nie.

Maar aan die ander kant verloor Van der Walt dit heeltemal uit die oog dat Louis Awerbuck en Lise Swart, die twee kenners wat Retief se onderhoude as gevallestudies moet hanteer, aanbieders is van ‘n radioprogram waarvan die formaat die aanpak van hierdie boek eggo.

Maar die kern van die resensie spreek eintlik ‘n verpakkingsprobleem aan. Die boek is nie deur Hanlie Retief (groot geskryf) met Louis Awerbuck en Lise Swart (heelwat kleiner geskryf) nie. Dit is deur Louis Awerbuck en Lise Swart, met onderhoude deur Hanlie Retief.

Toast Coetzer se oorrompelende resensie van Jou Krugerwildtuin-gids van Frans Rautenbach (Boeke24) het my laat besef hoe belangrik dit is vir iemand soos Rautenbach dat hy Coetzer as resensent gekry het. Coetzer se skryfwerk in ‘n verskeidenheid publikasies het van hom ‘n gesaghebbende gemaak op die onderwerp van reise deur Suid-Afrika.

Met hierdie resensie kanoniseer hy in effek Rautenbach se werk.

‘n Bykomende rede hoekom die resensie dadelik my oog getrek het, is die feit dat ek onlangs met twee Amerikaanse toeriste aan die gesels geraak het op ‘n lughawe buite New York. Ons aanknopingspunt? Hul Engelse weergawe van hierdie boek, via Amazon gekoop, en reeds voos geblaai. Hul lof had geen einde nie.

Soos Coetzer sê, pure grasdak.

In Rapport Boeke het Kerneels Breytenbach geskryf oor Vlam in die sneeu, Die liefdesbriewe van André P. Brink en Ingrid Jonker. Breytenbach het Brink baie jare as uitgewer geken, en hy benut die kans om nog namens Brink ‘n saak in die reine te bring betreffende Anna Jonker se aanslag op Brink. Interessante leesstof, maar was dit nodig?

Wat wel die resensie noemenswaardig maak, en sy plek verseker rondom die dokumentasie oor Brink, is die manier waarop Breytenbach die oorsprong van die deurlopende vrouefiguur by Brink naspeur uit verskeie bronne. En wys hoe Ingrid Jonker vir Brink die matrys geword het omdat sy so sterk ooreengestem het met ‘n vrouekarakter wat hy toe pas geskep het vir Die ambassadeur.

Die hoender of die eier …

Sekerlik, maar Breytenbach sien saam met Amanda Botha raak dat dit om idealisering gaan, iets wat hy in ander gedaantes later in sy lewe herhaal het. ‘n Onderwerp vir Awerbuck en Swart?