by

Ná die storm

Oktober 27, 2015 in Uncategorized

Wie sê daar is nie humor in boekbesprekings nie? Irma Venter se Skarlaken het skynbaar die manier om resensente snaakse dinge te laat skryf. Verlede week het Helen Schöer in Boeke24 vertel dat sy die boek in die bad gelê en lees het, vandeesweek sê Deborah Steinmair in Rapport Boeke dat sy na die lees van Skarlaken besluit het Irma Venter is ons eie Stieg Larsson.

Tussen die twee resensente sê hulle genoeg dinge oor Skarlaken om uitgewer, skrywer en leser te tintel. Mens plaas dit dadelik op jou Kerslys, naas die nuwe Chris Karsten. Maar ek kon steeds nie ophou giggel oor die Larsson-konneksie nie. Die man is so dood soos ’n mossie. Ek hoop nie Irma Venter is bygelowig nie.

Dit by wyse van inleiding. Ek het die boekeblaaie vandeesweek met ’n mate van emosionele kneusing benader. Die gebeurde van die voorafgaande week by Suid-Afrikaanse universiteite het ons almal geraak, en mens voel nie heeltemal gerat om byvoorbeeld BY op ’n Saterdagoggend oop te slaan en oor ’n nuwe dig-debuut te moet lees nie. Dit voel effens irrelevant.

Sondag se resensies bevat toe darem een wat in ’n ander rigting beur – Jean Oosthuizen se bespreking van Donker stroom, die nuwe biografiese studie van Eugène Marais deur Carel van der Merwe. Ek weet daar is mense wat nou reeds sê dit is die boek van die jaar, die soort ophemeling my altyd met sinisme laat reageer. Nie hierdie keer nie.

Omdat ek so sterk saamstem met Oosthuizen se taksering, is dit vir my belangrik om te sien op watter gronde hy sy aanprysing grond. Hy stel nie teleur nie. Dit gaan vir hom oor die reikwydte van die navorsing, en die mate waarin Van der Merwe nie wegskram van die feite nie. En natuurlik die feit dat Van der Merwe dinge openbaar maak wat Leon Rousseau nie in Die groot verlange kon nie.

Die verloop van Oosthuizen se argumentering verseker dat mens die resensie wil lees, maar dit het my tog opgeval dat hy nie daarvan teruggedeins het nie om die oordeel wat sy hele bespreking deursuur as openingsparagraaf te gebruik:

“Met die verskyning van die jongste boek oor die enigmatiese Eugène Marais het die skrywer Carel van der Merwe die bykans onmoontlike reggekry: hy lewer ’n bydrae tot die Marais-oeuvre wat selfs Leon Rossouw nie kon regkry in Die groot verlange nie.”

Koerantresensies, veral dié in Sondagkoerante, moet sorg dat die leser se aandag deur geen beuselagtighede weggelei kan word nie. Deur op hierdie manier te begin, en daarna voort te gaan op ’n manier wat mens vaspen, het Oosthuizen die boek op die beste moontlike manier opgehemel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.