Jy blaai in die argief vir 2015 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Ná die storm

Oktober 27, 2015 in Uncategorized

Wie sê daar is nie humor in boekbesprekings nie? Irma Venter se Skarlaken het skynbaar die manier om resensente snaakse dinge te laat skryf. Verlede week het Helen Schöer in Boeke24 vertel dat sy die boek in die bad gelê en lees het, vandeesweek sê Deborah Steinmair in Rapport Boeke dat sy na die lees van Skarlaken besluit het Irma Venter is ons eie Stieg Larsson.

Tussen die twee resensente sê hulle genoeg dinge oor Skarlaken om uitgewer, skrywer en leser te tintel. Mens plaas dit dadelik op jou Kerslys, naas die nuwe Chris Karsten. Maar ek kon steeds nie ophou giggel oor die Larsson-konneksie nie. Die man is so dood soos ’n mossie. Ek hoop nie Irma Venter is bygelowig nie.

Dit by wyse van inleiding. Ek het die boekeblaaie vandeesweek met ’n mate van emosionele kneusing benader. Die gebeurde van die voorafgaande week by Suid-Afrikaanse universiteite het ons almal geraak, en mens voel nie heeltemal gerat om byvoorbeeld BY op ’n Saterdagoggend oop te slaan en oor ’n nuwe dig-debuut te moet lees nie. Dit voel effens irrelevant.

Sondag se resensies bevat toe darem een wat in ’n ander rigting beur – Jean Oosthuizen se bespreking van Donker stroom, die nuwe biografiese studie van Eugène Marais deur Carel van der Merwe. Ek weet daar is mense wat nou reeds sê dit is die boek van die jaar, die soort ophemeling my altyd met sinisme laat reageer. Nie hierdie keer nie.

Omdat ek so sterk saamstem met Oosthuizen se taksering, is dit vir my belangrik om te sien op watter gronde hy sy aanprysing grond. Hy stel nie teleur nie. Dit gaan vir hom oor die reikwydte van die navorsing, en die mate waarin Van der Merwe nie wegskram van die feite nie. En natuurlik die feit dat Van der Merwe dinge openbaar maak wat Leon Rousseau nie in Die groot verlange kon nie.

Die verloop van Oosthuizen se argumentering verseker dat mens die resensie wil lees, maar dit het my tog opgeval dat hy nie daarvan teruggedeins het nie om die oordeel wat sy hele bespreking deursuur as openingsparagraaf te gebruik:

“Met die verskyning van die jongste boek oor die enigmatiese Eugène Marais het die skrywer Carel van der Merwe die bykans onmoontlike reggekry: hy lewer ’n bydrae tot die Marais-oeuvre wat selfs Leon Rossouw nie kon regkry in Die groot verlange nie.”

Koerantresensies, veral dié in Sondagkoerante, moet sorg dat die leser se aandag deur geen beuselagtighede weggelei kan word nie. Deur op hierdie manier te begin, en daarna voort te gaan op ’n manier wat mens vaspen, het Oosthuizen die boek op die beste moontlike manier opgehemel.

Profile photo of crito

by crito

Die nimmereindigende stryd

Oktober 20, 2015 in Uncategorized

Die nimmereindigende stryd tussen die Goeie en die Bose voltrek hom nie alleen in die strate, huise en tuine van voorstedelike Suid-Afrika nie, maar laat ook sy merk op die boekeblaaie. Van al die Afrikaanse boeke wat die afgelope naweek in Rapport Boeke en Boeke24 bespreek is, het slegs een te make met die mooi dinge in die lewe.

Dit is Joan Hambidge se bespreking van D.J. Opperman se Versamelde Poësie – die res is in en om misdaad.

Selfs Amore Bekker (haar naam rym met lekkerny) se Hartstories word voorgehou (deur die resensent, Annemarie van der Walt, in Boeke24) as iets wat “balsem vir die gemoed” is. ’n Soort Afrikaanse Chicken Soup for the Soul uit die sfeer van Afrikaanse huistoegaantyd-stories. Dus die antitese van die reeds genoemde nimmereindigende stryd tussen die Goeie en die Bose, ook bekend as die alledaagse Suid-Afrikaanse lewe.

My boekhandelaar in Andringastraat vertel dat hierdie soort boek in kruiwavragte verkoop omdat dit sulke positiewe Kersgeskenke maak. Dank jou die duiwel, maar ek is eerder op die uitkyk vir boeke wat ek aan myself as geskenk kan gee.

Een van hulle is sekerlik Ingrid Winterbach se Vlakwater, wat deur resensent Chris van der Merwe in Rapport Boeke die hoogste lof ontvang. Ek wil nie nou uitwei oor hoe uitnemend goed Van der Merwe se resensie geskryf is nie. Wat vir my saak maak, is dat hy vir my ’n aanduiding gegee het dat die eienskappe van Winterbach se skryfwerk wat my die meeste geval, wel deeglik in Vlakwater teenwoordig is. Dit sluit tematies en struktureel aan by die roman se twee voorgangers, en dit neem ’n bekende  gegewe en ondersoek dit van binne-uit. Wie anders as Winterbach sal die twee moontlike slagoffers van ’n demoniese karakter gebruik gebruik as aanknopingspunt? En as jy die slagoffers as uitgangspunt het, spreek dit amper vanself dat die demoniese personasie nie ontmasker hoef te word nie. Dit gaan oor die tekstuur van hul angs.

Terloops, Deborah Steinmair is die ander Afrikaanse skrywer wat hierdie van-binne-uit benadering op besonder verbeeldingryke manier hanteer. Altyd ’n uitdaging vir die leser – en dít is wat oënskynlik ook by hierdie nuutjie van Ingrid Winterbach tot die leser se verrukking bydra.

Die ander boek vir my geskenkesak aan myself is Chris Karsten se Die verdwyning van Billy Katz. Volgens einste Deborah Steinmair se bespreking in Rapport Boeke het Karsten hierdie keer ’n goeie dosis calamity ingewerk in sy nuwe Ella Neser-roman. Ella se romantiese lewe kry ’n knou weens ’n stoute hokkiespeler, en hierdie keer is ’n disfunksionele gesin met ’n liefde vir home movies die bron van ergernis in die nimmereindigende stryd tussen die Goeie en die Bose.

Wat Karsten betref – is hy nie reeds die voorste Afrikaanse skrywer van prosedurele misdaadverhale nie? Deon Meyer se romans is van geheel ’n ander aard en gevoel; Karsten is die een wat die bloed en harsings van mekaar skei.

Deborah Steinmair is, saam met Gerda Taljaard, as samesteller betrokke by Skrik, ’n bundel bangmaak-stories. Johan van Zyl maak in sy resensie in Boeke24 ’n baie geldige punt (wat ek kan beaam omdat ek Skrik reeds gelees het), en dit is dat hierdie die soort versameling is wat veral tot diegene sal spreek wat reeds ’n voorliefde vir bangmaak-stories het. Hy sê ook heel tereg dat sy broek nooit werklik gebewe het nie – aan die ander kant is dit egter ook ’n versameling waar alles insluiting regverdig.

Nou ja. Dis die kleiner aangesig van nimmereindigende stryd tussen die Goeie en die Bose.

Ten slotte het Helen Schöer haar resensie van Irma Venter se Skarlaken (Boeke24) op ’n baie eienaardige manier afgeslit. Nadat sy jou goed nuuskierig oor die boek gemaak het, verklap sy dat sy die boek in die bad gelees het. Ek dink nie dis nodig om daai een te probeer top nie.

Profile photo of crito

by crito

Byt en skop

Oktober 6, 2015 in Uncategorized

Die Kruger-Wildtuin is een van ons grootste nasionale bates. Suid-Afrikaanse uitgewers het deur die jare pragtige foto-boeke oor die plek gepubliseer – ek neem aan hoofsaaklik gemik op die buitelandse toeriste, want jy sou daardie boeke op al die lughawes merk in die winkeltjies met toeristiese goeters.

Dit verg egter meer van ’n skrywer om dié wildtuin vir ’n plaaslike gehoor te ontsluit. Mooi foto’s alleen doen dit nie vir die locals nie.

Die manier waarop Sarel van der Walt sy resensie van Frans Rautenbach se Jou Kruger-wildtuin gids, met stories (Boeke24) aangepak het, bring dit gou tuis dat jy hier met daardie sonderlinge boek te doen het. Iets wat behoorlik aangepak is om mense te help wat die wildtuin met rande benader, en nie soseer met dollars nie. (Ek vermoed die Engelse uitgawe sal intelligente toeriste as lesers vind.)

Van der Walt is duidelik geen vreemdeling in daardie toeriste-magneet van ’n wildtuin nie. Wat hy raaksien in Rautenbach se boek, is dit dinge wat saak maak: reuke, plekke, gevoelens. Uiteraard probeer hy as resensent die boek en sy inhoud reflekteer, wat hy goed doen; wat saak maak, is of hy daarin sal slaag om die essensie van die boek vas te vang.

En dié kry hy wel deeglik reg. Die Kruger-wildtuin is ’n groot plek, en wanneer Van der Walt noem dat Rautenbach sy fokus laat val van die Krokodilbrug tot by Punda Malia in die noorde, dan weet jy dat daar ’n rede is. En vir ou wildtuin-reisigers is dit kodetaal: Rondom ondeskeidelik Punda Malia en die Krokodilbrug is vreemd genoeg nie geweldig baie wild versamel nie. (Dis ondervinding wat hier praat.) En by Punda Malia is daar ook die ondraaglike hitte waarmee mens worstel.

Wat Van der Walt dus doen, is om Rautenbach deeglik te toets. Gee hy aandag aan alles? Van der Walt se betoog loop moeiteloos voort, maar jy weet hy gaan iets moet doen met sy slotparagraaf om alles vas te bind.

“Dêmmit, nou verlang ek wildtuin toe!” is die stempel van geesdrif, van goedkeuring.

Jaco Botha en Ingrid Lehnmensich-Botha bespreek vir Boeke24 die nuwe Chris Karsten-roman, Die verdwyning van Billy Katz. Karsten stel as skrywer sulke hoë standaarde dat ’n mens die opskrif net vinnig scan om te sien wat die algemene indruk is – jy weet intuïtief dit gaan positief wees. Vraag is net hóé positief.

Is dit dan nog nodig om die resensie te lees?

In hierdie geval is die antwoord ’n dawerende ja. Die resensente het die model-resensie vir boeke van hierdie aard geskryf, en op die koop toe vorendag gekom met ’n opsomming wat nog baie jare gaan draal: “Waar Meyer Coca-Cola is – ’n goeie, gawe internasionale produk – is Chris Karsten brandewyn en Coke – min of meer dieselfde ding, maar met so ’n bietjie meer skop, byt en onverhoedse onderstrominge.”

Arme drommel wat die volgende Chris Karsten moet resenseer!