Jy blaai in die argief vir 2015 September.

Profile photo of crito

by crito

Wie om te glo

September 29, 2015 in Uncategorized

Die stem van gesag. Twee resensies wat die afgelope naweek verskyn het, gee twee verskillende vorms daarvan. Die een is deur Amanda Botha, ’n oud-joernalis en kulturele werker. Die ander is deur Koos Kombuis, ’n rebelse figuur uit die kontra-kultuur rondom Voëlvry se dae, lank gelede.

Botha se resensie in Rapport Boeke van Die onbekende Van Gogh, ’n boek deur Chris Schoeman, is aangepak in ’n skryfstyl wat min ruimte vir lighartigheid laat. Sy weeg, ondersoek, en besluit. Schoeman kom daar goed uit.

Mens sal egter ’n fout maak as jy dit as ’n dor, semi-akademiese resensie beskou. Botha het gans te veel ervaring om die resensie ’n eenvlakkige leeservaring te maak. Sy weet dat kunshistorici by die verskyning van ’n boek soos hierdie onmiddelik sal wonder of daar van primêre of sekondêre bronne gebruik gemaak is.

Botha se ingesteldheid teenoor die boek is vreindelik, dit lei mens wel af wanneer jy sien dat sy meld dat die Van Gogh onder bespreking geen goeie briefskrywer of bewaarder van dokumentasie was nie. Daar is dus geen primêre bronne nie. Ook verwys sy nie na Schoeman se bronnelys nie, maar praat wel met goedkeuring oor Schoeman se deeglike navorsing. Mens kan hieruit aflei dat die beeld van Cor van Gogh wat Schoeman aanbied, ’n aftreksel is wat saamgestel is uit ’n magdom sekondêre bronne, publikasies oor die Van Goghs waaruit dan gefokus is op die inligting wat oor Cor gegee is.

Daarmee is uiteraard geen fout nie – dit is die procedé van historici wat ’n meer populêre aanpak het. Wat wel belangrik is, is die pad wat Amanda Botha volg om uiteindelik te kan sê Die onbekende Van Gogh is ’n goeie publikasie.

Koos Kombuis se bespreking van Jack Parow: Die ou met die snor by die bar (Boeke24) maak aanspraak op gesaghebbendheid, maar wát hy sê, werp net ongemaklike vrae op.

Mnr. Kombuis beroep hom op die onderskeiding tussen Koos Kombuis en André Letoit, oftewel André le Roux du Toit. Die musiekster wat eens dagga gerook het en later rooiwyn op die verhoog gedrink het tussen die sing van liedjies, en die man wat getroud is en pa is van twee kinders. Tussen daardie openbare persona wat almal wat sy boeke gelees, sy musiek beluister en sy verhoogoptredes geniet het op een manier sien, en die private mens wat bitter min mense ken en wat kliphard probeer om ’n “normale” lewe te lei.
Al die dinge wat hy aanhaal uit Jack Parow se biografie, is die soort aweregse dinge waarmee ’n jong Koos Kombuis ook die konstruk van sy openbare persona gebou het. Aanvegbare stellings waarmee die “karakter” agter die mikrofoon vir sy luisteraars leidrade na sy openbare persona se waardesisteem gegee het.

Koos Kombuis sien dwarsdeur dié gesmous met ploertigheid – “Ons harte bloei vir jou!” Hy geniet dit om die boek te lees, maar hy is ook nie ’n dom  resensent nie. “Is dit nie AWESOME nie,” sê Kombuis oor Parow se buitengewoon oppervlakkige oplossing vir ons land se probleme, en maak nie saak hoe vergoelikend hy daarna aangaan nie, sal dit ’n onnoselheid van baie groot dimensies verg om nie die lading ironie in daardie hoofletter-woord te snap nie.

Wanneer hy uiteindelik struikel, is dit onverwags.

Kombuis wil verduidelik hoekom hy Parow se boek nie vir sy kinders sal gee om te lees nie (oor Parow daggarook te lekker laat klink) maar om dit te doen, moet hy dadelik die Kombuis-konstruk laat vaar en skryf as die bekommerde ouer, André watsevan, wat ook sy eie eerste boek vir sy kinders moes wegsteek. Eens, maar nou is hulle ouer. Hy ook.

En dit is die probleem. Ou sterre, as hulle gelukkig is, raak nie weg nie, hulle raak net verantwoordelik. Die vraag is net, watter een moet ons nou glo?

Profile photo of crito

by crito

Naspers Lite

September 23, 2015 in Uncategorized

Twee weke se resensies ….

Tobie Wiese se resensie van ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange, saamgestel deur Lizette Rabe (Rapport Boeke) verskyn in dieselfde week dat dit rugbaar word dat Koos Bekker, voorsitter van die Naspers-direksie, ‘n ruk gelede dermiljoene rande se Naspers-aandele verkoop het. In my huis, waar die mans meer belang stel in die aandelebeurs as in boeke, het laasgenoemde stukkie nuus meer wenkbroue laat lig as Wiese se resensie.

Sondag oor etenstafel is die saak reggestel. Ek het die resensie voorgelees. Skielik is daar nie meer gepraat oor die boodskap wat mens moet inlees in Bekker se verkoop van Naspers-aandele nie.  Wie is Tobie Wiese, is gevra. Ken hy die maatskappy se binnewerkinge? Is hy iemand met ‘n beiteltjie te slyp?

Ek het, sover ek kon, verduidelik dat Wiese ‘n oud-werknemer is, dat hy betrokke was by die beroemde/berugte uitval wat 130 joernaliste met Naspers-hoofbestuur had oor ‘n voorgestelde submissie voor die WVK. En dat ‘n mens kan verstaan hoekom hy in die resensie soveel klem laat val op Ton Vosloo se huidige standpunt, wat eintlik neerkom op ‘n versoenende gebaar jeens die 130 skeibrekers van destyds. (Daar het glo destyds net een Nasperser voor die WVK gaan getuig, ene Jannie van Deventer.)

Vir my gevoel sou Wiese se resensie meer doeltreffend gewees het as hy voorbeelde van die transformasie, waaroor die meeste essays in die bundel handel, in meer kritiese detail kon bespreek het. Nee, sê die mans aan tafel, Wiese se resensie is meer as net ‘n klein seuntjie wat sê dat die keiser nie klere aanhet nie.

Deur te sê dat ‘n Konstante revolusie ‘n soort “Naspers Lite” is omdat dit nie die volle verhaal/waarheid vertel nie, vestig hy net weer die aandag op ‘n feit wat fondsbestuurders, makelaars en sakelui al lankal weet, en dit is dat die media-sy lank nie meer so sentraal staan as die beleggingsy van Naspers nie.

Dit is belangrik dat Wiese daarop wys dat hierdie versameling van essays nie die volle waarheid vertel nie. Aardige ironie, nè? Daardie volle waarheid is nie meer belangrik genoeg om vertel te word nie. Wat belangrik is, is hoe goed dit gaan met Naspers se beste belegging, naamlik dié in China se Ten Cent-maatskappy.

Wiese sê dit nie, maar mens vermoed dat sy uitlig van Ebbe Dommisse se bydrae baie betekenisvol is, dat dit moontlik dié feit in konteks plaas. Maar ons sal seker eers weet presies hóé slim Wiese se resensie geskryf is wanneer mens die boek self gelees het. Hy staan in té min detail by die essays stil. Waarskynlik omdat hy ’n langer, omvattende betoog lewer.

Louise Viljoen het ook afgelope naweek onverwags opgeduik as resensent – altyd ’n welkome naam bo-aan ’n resensie. ’n Waarborg van insig en gebalanseerde betragting. Ingrid Winterbach se nuwe roman, Vlakwater was op die bladsye van Boeke24 in Viljoen se fokus. Haar slotsom, dat dit ’n hoogtepunt in Winterbach se onlangse werk is, is van die beste nuus wat ek vanjaar op letterkundige gebied gehoor het.

Dit is interessant om te sien hoe Viljoen die roman stelselmatig oopvlek, maar ook net soveel inligting verskaf dat sy nie die roman se geheimenisse verklap nie. Viljoen is al in die verlede daarvan beskuldig dat sy nooit die “uitklophou”, of die evaluering, gee nie. Hierdie keer doen sy dit wel deeglik. Is daar ’n terugbeweeg na die New Citicism te bespeur? Te vroeg om te sê. Die hele resensie is in ’n ander sleutel geskryf; dis die evaulering wat mens aan ’n eeu gelede se metodes laat dink.

Rachelle Greeff se resensie van Lien Botha se Wonderboom (Rapport Boeke) is ook knap hanteer, maar sy begaan myns insiens een groot mistasting – sy wil opsluit Botha se konneksie met Pik Botha, haar pa, by die gesprek insleep. Ek kan nie dink dat Louise Viljoen ooit so iets sou aanvang nie.

Ek geniet Jean Oosthuizen se boekbesprekings as ’n reël, omdat hy nie ’n dweper is nie. Vir Willie Esterhuyse het ek eweneens baie ooghare. Maar albei sal mens maar moet verskoon as jy nie kans sien vir Oosthuizen se bespreking van Esterhuyse se Geagte Jahwe op die oggend ná Japan die Springbokke verneder het nie. Dán sien mens net kans vir iets soos Tobie Wiese en Naspers Lite, en die res gryp jou aandag moeilik vas.

***

Ek het nogal simpatie met Regardt van den Bergh. Om Gert en Dulcie van den Bergh se kind te wees, kon seker nie die maklikste ding onder die son gewees het nie. En om dan met die mooiste vrou in die land te trou …

Dit sal net koerantlesers van sestig en ouer wees wat nog ’n idee het wie Gert en Dulcie  was. Die onder sal weet van Jana Ciliers. Albei groepe sal weet dat Regardt van den Bergh hom uit die greep van die sondige lewe losgewikkel het. Sy geloof het sy borswering geword.

Sou hy ’n verhaal hê wat lesers sal verslind? ’n Boek wat met ander outobiografië en biografië van ons era vergelyk kan word?

JB Roux, wat Van den Bergh se Regardt vir Boeke24 resenseer, draai daai idee nek-om met een van die vreemdste put-downs wat ek nog vanjaar gelees het. “Hier is geen aardskuddende onthulings nie” (hoekom dan die boek lees?), maar dis darem ’n “lekkerleesboek”. Nou ja toe. Hoekom mens Roux se ander raad moet volg, naamlik om die nie-aardskuddende boek te koop, sal net hy weet.

Joan Hambidge se bespreking van Perspektief & profiel (Boeke24) is een van haar beste pogings, maar ek was teleurgesteld om in BY te lees dat mens aanlyn meer oor die prosa wat in Perspektief & profiel bespreek word kan lees, maar jy moet waaragtig goed wees om dit op te spoor. Ek is nie goed nie.

Rudolf Stehle roep – moontlik onwillig – die debat oor selfpublikasie op met sy bespreking van Hans Pienaar se Uitoeke/Outcorners (Boeke24). Mens kan aanvoel dat hy Pienaar dikwels die voordeel van die twyfel gee, maar uiteindelik moet hy hom aanspreek oor slordighede wat verhoed kon gewees het as Pienaar ’n ekstra paar oë gehad het wat na die teks gekyk het.

Ek bewonder Pienaar vir sy waagmoed, maar wanneer ’n resensie die draai maak wat hierdie ene maak, gaan dit uiteindelik die hele projek beduiwel. Pienaar se wedervraag sal waarskynlik wees dat geen Suid-Afrikaanse uitgewer sou waag met ’n publikasie van hierdie aard (fotogedigte) en omvang nie, en dat hy dit nie anders sou kon deurvoer nie.

Omslae kry nie dikwels aandag by resensente nie. Daarom is ek bly Deborah Steinmair (Rapport Boeke) praat sonder terughou oor die oninteressante omslag van André Krüger se Komplot. Veral omdat sy dan voortgaan en die inhoud op dieselfde peil plaas as internasionaal gerekende spioenasieromans. Jy weet die boek gaan die koop werd wees – maar jy sou verbygestap het, was dit nie vir die resensie nie.

Martie Retief Meiring raak (ook in Rapport Boeke) slaags met Koos Kombuis se Ver in die wêreld, sushi. Wanneer ’n koerant die geluk tref om ’n resensie uit haar pen te kry, glimlag die godin ekstra bright, omdat sy so spitsvondig reageer op mnr. Kombuis. Dit is die essensie van haar skryfwerk – die leser kom ewe seer onder die indruk van hierdie formidabele intellek as van haar flambojante persoonlikheid.

Hierdie resensie is ’n meestersklas in die kleine.

Profile photo of crito

by crito

Hersiening

September 8, 2015 in Uncategorized

Nou ja, wat wil jy vir my sê?

Dít is die vraag wat gewoonlik oor alles hang wanneer mens met ’n boekressensie te make kry wat nie die maklike uitweg van verhaal-samevattying volg nie. Frederick J. Botha se bespreking van Francois Loots se In sneeu geskryf (Boeke24) koggel mens eintlik op ’n manier; die hele aanpak is dié van ’n resensent wat meer wil sê as net die boek resenseer.

Wat hy wil sê, en heeltemal oortuigend doen ook, is dat die resepsie van Francois Loots as skrywer hersien moet word. Botha dink dat Lots se skrywerstatuur hoër is as wat hy tans aangeslaan word.

Só ’n benadering kan nie anders as saamgaan met ’n analise van die redes hoekom Loots te lig gevind word deur die leserspubliek, en ’n aanduiding van hoekom hy op meer respek aanspraak kan maak.

Botha gee toe dat daar steeds ’n effense logiese swewing is rondom een van die onderdele van In sneeu geskryf, maar ek is geneig om met hom saam te stem dat wanneer ’n skrywer die vakmanskap vertoon wat mens gewoonlik assosieer met meer ervare skrywers, dan is dit nodig dat daar ’n herwaardering kom. Dit is die aard van die literêre bedryf.

***

Riaan Grobler se bespreking van Koos Kombuis se versameling rubrieke, Ver in die wêreld, sushi (Boeke24) is een van daais waaraan ek my altyd verkneukel. Nes Gé Korsten en Frank Sinatra oud geword het, só ook Koos Kombuis. En die dinge waarmee ek moes saamleef en verwerk terwyl my kinderhelde bejaardheid behaal het, kom mooi netjies in Grobler se visier – die wete dat net net die kunstenaar aangestap het in jare nie, maar ook sy gehoor, die groot kollektiewe gryse uwe.

Grobler hanteer dit netjies, plooi die resensie vernuftig sodat die kollig op Koos Kombuis bly, en nie op sy resensent nie. Wat honderd persent in die kol is. Daar is niks so vervelig soos ’n resensent wat homself ouliker ag as die kultusfiguur nie.

Profile photo of crito

by crito

Wilde geweld

September 2, 2015 in Uncategorized

Soms slaan ek BY op ’n Saterdagoggend oop en alles is wonderlik en lekker namate ek die resensies op die twee boekeblaaie die een na die ander verslind. Soms sink my gemoed in die ander rigting in. En dan is daar ook die sonderlinge Saterdae waar dinge heeltemal ontspoor – nóg ’n resensie oor nóg ’n “digbundel”, en ’n resensent wat dermate sukkel dat mens wens Joan Hambidge is die taak gegee. Sy sou die bundel in ’n paar paragrawe gemeet en weggepak het.

Candess Kostopoulos, wat by Wits in die opvoedkundige filosofie doseer, bespreek Erna Jo Kritzinger se Delirium vir Boek24 op ’n manier wat, gegee die situasie, sin maak. Sy konsentreer op die inhoud, en vind dit ”die tipe poësie wat ons in ’n land van wreedheid en verwoesting, maar ook van sintuiglike plesier en uitbundige lewe, nodig het”.

Die resensent meen dis ’n “intens esteties-bevredigende bundel waarin ’n donker dekadente sadomasochisme sigself konsentreer én ontknoop”. Dan gaan sy voort om dit tematies te ontleed en dinge aan te teken wat vir my uiteindelik laat wonder hoe juis haar tematiese lesing wel is. Maak dit nog sin, gegee die situasie? Esteties-bevredigend?

Só byvoorbeeld beweer die resensent dat Kritzinger ’n “wilde geweld in die Afrikaanse poësie” loslaat met:

Maar jy, my merrie, jou wil ek spiere
gee wat tril, en bloed. Skud jou trotse
kop, pluim jou maanhaar oor dié
bleekwit blad, laat drif en onheil onder

jou hoewe vonk en donder, jou fyn enkels
dans op die dissonante strand waar steriele
ore, dowe oorskotskulpe lê en luister

Ek is jammer, hierdie soort geweld is al in meer as die Afrikaanse poësie losgelaat, in die boeke van Louis L’Amour byvoorbeeld. Tussen al daardie clichés is daar ook ’n  “dissonante strand”. Nie eens Annelise Carstens het van dissonante strande gedig nie.

Baie van die opmerkings wat die resensent maak, word nie gerugsteun deur aanhalings nie. Dit sou help om te weet wat presies sy onder “Khtoniese gedigte” verstaan – handel hulle oor die Griekse gode, of oor die dinge bo, op en onder die grond? Mens moet die resensent se woord aanvaar dat sy vind dat die geweldgedigte die toon aangee in die bundel, en dat die gedigte die leser dikwels in verskrikking lei?

Maar dan deins mens terug vir die volgende:

“Op dié wyse wentel die bundel op duiselingwekkende wyse om die spilpunt van ’n intense literêre ­sadomasochisme, met veral “Clarens” as toonbeeldgedig in hierdie verband:

Saans weer berkebome die nag
met bleek, slank stamme af, staan
bedags met oë oop, kyk verby die son
se ylgeel loop en sien hoe word die horison ’n groot blou pot vol helder
berg en persrooi skaduwee.

’n Koue wind vroetel ’n plataan
se goue blare los en wikkel om ’n
huis se hoek waar verlede jaar
se rankroos soos ’n blinde klouter-
dief verby ’n vensterraam op sukkel.

Die dorp is ’n lied, ’n gedig, in al vier
seisoene ’n lewendige paradys:
Oom Daan is hier gemartel en vermoor.”

Intense literêre sadomasochisme? Jongie! Wat van digterlike pretensie?

Laat maar verbygaan.

Van toon gepraat: Marietie Louw-Carstens handhaaf die neutraalste toon wat ek in baie mande in ’n resensie gelees het. Haar bespreking van Carla van der Spuy se Bloed op haar hande (Boeke24) is merkwaardig in die sin dat sy baie min aanduiding gee van hoe sy oor die boek voel. Dis eers driekwartpad deur die ressensie dat sy erken een groep verhale in die boek interessanter is as ander.

Dan gee sy, uiteindelik, in haar slotsin ’n aanduiding dat die boek haar ontstel het: “Bloed op haar hande is nie ligte leesstof nie en glad nie vir sensitiewe lesers nie.” Die neutrale toon wat sy deurentyd volhou is wat my laat vermoed dat sy een van daardie sensitiewe lesers is; dit strek tot haar eer dat sy besef dat ander lesers dalk nie so ontstel sal word deur die boek nie, en dit daarom nie uit die staanspoor afgeskiet het nie.

Dewald Koen ontsier ’n andersins knap resensie van Francois Loots se In sneeu geskryf (Rapport Boeke) met een opmerking. In die manier waarop hy sy reaksie op die roman voor jou uitsprei stem hy ’n mens baie positief jeens die roman. Maar dan sê hy dat sommige van die sekstonele party lesers dwars in die krop mag steek. Nou, as ek ’n ou sensuur-begrip mag gebruik, is In sneeu geskryf se waarskynlike leser nie iemand wat sal seur oor gay sekstonele in ’n roman wat die Sizzlers-moorde as agtergrond het nie.

Vir my tel die dinge wat Koen sê oor die uiteenlopende karakters en die dele van die roman waar Loots se kreatiwiteit vol in bloei staan veel meer as ’n klein groepie mense se negatiewe reaksie op gay seks.