Profile photo of crito

by

Stof tot nadenke

Augustus 25, 2015 in Uncategorized

Die grootleraar van Kaapstad het my netjies gewys waar ek opgeslip het, self in die proses opgeslip deur van my ‘n man te maak, en in dieselfde proses ‘n resensie geskryf wat mens by wyse van ’n verandering stof tot nadenke gee.

Joan Hambidge se bespreking van die sesde uitgawe van HAT (Boeke24) raak kant en wal, met ‘n sin vir die leksikografiese omgewing en heelwat illustrasie van die genot wat in die voue van dié taalakkordion skuil. Daar is genoeg humor en speelsheid in haar resensie, wat te verwelkom is; dit is ook lekker om te sien hoe haar argument in skakelende paragrawe ontwikkel.

Die stof tot nadenke kom teen halfpad, wanneer sy sê dat ‘n woordeboek ‘n stuk kultuurgeskiedenis is. Dit neem haar noodwendig na transformasie en die manier waarop ‘n woordeboek die norme van ‘n tydvak vaslê. Dit is ‘n baie geldige argument – ek is seker tussen die eerste en sesde uitgawe van HAT sal ‘n leser kan agterkom hoe die taal sy politieke boeie afskud, hoe dit ‘n neutrale houding jeens sy tyd inneem.

Daar is ook ‘n verwysing na die transformasieproses wat onlangs by UK uitgespeel het, met studente wat die Rhodes-monument laat verwyder het ter ondersteuning van hul anti-kolonialistiese oortuigings.

Hambidge rig die gesprek na die oorlewing van die Afrikaanse taal, met die konklusie dat die taal nie aan ‘t sterwe is nie omdat té veel mense praat, dig en sing in Afrikaans.

Ek stem met haar saam, maar die lang swaai van haar diskoers het my laat wonder wat die beeldstormers moet maak van die feit dat daar geen soortgelyke verklarende woordeboeke vir Zoeloe, Xhosa, Sotho, Venda en so meer is nie – met blykbaar geen planne om dit tot stand te bring nie. En hoe hang dié gewaarwording saam met Afrikaans as veranderende taal (“woorde transformeer omdat mense verander,” sê Hambidge) in die tyd waarin die anti-kolonialiste Afrikaans as doseertaal aan ’n universiteit soos Stellenbosch (waar Afrikaanse leksikografie gedy) wil uitknikker en vervang deur Engels?

Hoe kan Afrikaans só gelukkig én ongelukkig wees? Wel, mens moet seker ook vra waar monumente vandaan kom, en wat hou hulle staande?

Baie slim, die gesprek wat Hambidge aan die gang sit voordat sy afsluit, maar ek is seker nie die een wat dit vir haar moet sê nie.

***

’n Goeie resensent kry dit reg om mense by boeke uit te bring wat hulle in die gewone gang van sake nie sou gelees het nie. ’n Resensent weet sy/haar stryd is om die leser by enige moontlike vooroordele te laat verby kyk. Dít is presies wat Helen Schöer vermag met haar bespreking van Opdrag van oorkant, deur Alta Cloete.

Haar aanloop ontwapen jou behoorlik, maak jou ontvanklik vir die verhaal van twee ouer vrouens en hul wedervarings op ’n Karooplaas. Schöer verklap nie te veel van die verhaal nie, en teen die einde van haar resensie het sy die saad van nuuskierigheid by jou geplant en laat ontkiem.

1 antwoord op Stof tot nadenke

  1. “…die lang swaai van haar diskoers het my laat wonder wat die beeldstormers moet maak van die feit dat daar geen soortgelyke verklarende woordeboeke vir Zoeloe, Xhosa, Sotho, Venda en so meer is nie – met blykbaar geen planne om dit tot stand te bring nie.”

    Bg. stelling van Crito oor verklarende woordeboeke is nie heeltemal korrek nie. Die staat het, deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), in Maart 2001 Nasionale Leksikografiese Eenhede vir elk van die amptelike tale as Artikel 21-maatskappye ingestel. Teen 2003 is bestuurstrukture en direksies vir elke eenheid gevestig met ten minste een personeellid vir elke eenheid. Die eenhede is per geolinguistiese gebied aan bepaalde universiteite gekoppel.

    Die vordering wat sedertdien in die nege Afrikatale gemaak is, is weliswaar wisselend. So het die Xhosa-eenheid, IZiko leSizwe IoChazo-magama lesiXhosa, in 2006 byvoorbeeld die Greater Dictionary of IsiXhosa gepubliseer, ‘n drietalige woordeboek (Xhosa, Engels en Afrikaans), wat ‘n uitbouing was (met staatsgeld) van die eerste drietale Xhosa-woordeboek wat in 1989 verskyn het. Die Zulu-eenheid, Isikhungo Sesichazamazwi
    SesiZulu, se Zulu-woordeboek (verklarend) verskyn in ook 2006 en is eweneens ‘n voortsetting en uitbouing van werk wat in 1980 ‘n aanvang geneem het. Werk aan woordeboeke in die ‘kleiner’ Afrikatale duur voort. ‘n Tweetalige (Venda-Engels) woordeboek is byvoorbeeld ook in 2006 gepubliseer, maar die status van die eentalige woordeboek-in-wording is nie aan my bekend nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.