Profile photo of crito

by

Draaiboeke sonder flieks

Augustus 12, 2015 in Uncategorized

Die publikasie van draaiboeke is só ’n sonderlinge gebeurtenis dat ’n mens verwag dat ’n resensent behoorlik sal baljaar met al die moontlike invalshoeke. In Afrikaans het daar pas twee draaiboeke van Karel Schoeman onder die titel Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboeke verskyn. Dis twee meer as wat daar in meeste tale die afgelope tien jaar verskyn het – in Engels alleen word sulke publikasies alleen aangepak wanneer ’n rolprent buitengewoon gewild is en/of kultus-status verwerf het. ’n Goeie voorbeeld daarvan is die publikasie van die draaiboek van Robert Altman se Short Cuts, waarby daar die bykomende allure was dat die draaiboek saamgeflans is uit verwerkings van nege Raymond Carver-kortverhale.

Maar draaiboeke van rolprente wat nooit gemaak is nie? Dit gebeur net nie. Sou ’n uitgewer so ’n groot finansiële belegging maak as daar nie ’n buitengewoon goeie motiverings is vir die publikasie nie? Soos byvoorbeeld dat die werk ’n nuwe lig sal werp op die betrokke skrywer se oeuvre, of tematies van betekenis sal wees binne ons tyd?

Met hierdie vrae wat reeds by my opgewerp is deur die uitlig-paragrafie in die begin van Wium van Zyl se resensie oor hierdie boek in Rapport Boeke, het die lees van die resensie spoedig ’n baie groot teleurstelling geword.

Van Zyl is bedrewe genoeg om reeds met die intrapslag genoeg te sê om Schoeman-bewonderaars te laat regop sit: “Bodemlae waarin klein versteurings ’n ingrypende effek kan hê. Dít is die verhoudingswêrelde van Karel Schoeman se twee draaiboeke in sy Die vrou wat alleen bly.”

Daarna plaas hy die twee werke, en gee ’n aanduiding van die dinge wat hom opgeval het van hulle. Met sy slot maak hy sy pakkie netjies toe: “Die twee werke dateer van ‘omstreeks 1984’ en is nooit verfilm nie. Die tweede was trouens ’n aanset tot ’n roman wat nooit geskryf is nie. Die historiese rekonstruksie in laasgenoemde is al interessant. Die lees van ’n draaiboek is ’n uitdaging, maar dié publikasie sal Schoeman-liefhebbers beslis nie teleurstel nie.”

Die vraag is nou net of ’n mens ’n hele resensie wil lees om dít te weet. Vir die Schoeman-liefhebbers én die Schoeman-ignoreerders: Hoekom uitwei oor ’n publikasie sonder om te probeer uitpluis wat dit so besonders maak dat dit hoegenaamd gepubliseer is? Daar moet tog iets meer in die teks steek as net die feit dat dit uit die pen van Karel Schoeman gekom het, anders sou die uitgewer nie gebodder het met dié boek nie.

Die band met Hierdie lewe – wat Van Zyl ook uitwys – kan sekerlik nie al wees nie. ’n Mens begin die vermoede kry dat Schoeman se kruidenierslyste ook binnekort aan die bod sal kom. Hoekom nie liewer geld belê in nuwe jong stemme nie?

Daniel Hugo maak weer sy verskyning as resensent in Rapport met ’n bespreking van die jongste uitgawe van die HAT. Ek wil nie met hom skoor soek nie, maar ek dink hy verdien ’n antwoord op sy verklaring dat “Kaaps is ’n variëteit wat nog afgeskeep word in die HAT”.
Ek is geen leksikograaf nie, maar sover my kennis strek haal ’n woordeboek soos hierdie meeste van die woorde uit die geskrewe of bedrukte taal, met die gesproke taal as bykomende bron in soverre dit aangeteken word deur belangstellendes.

Dit is dus vir my ’n wesentlike vraagstuk of Hugo se opmerking gesien moet word as ernstige beletsel. Hoeveel Kaaps kry mens te lese? Sou daar hoegenaamd van ’n vorm van standardisering by Kaaps sprake wees?

Interessante vraagstuk.

Dit was ’n goeie idee van Boeke24 om ’n oud-Bat te kry Rooiplaas te resenseer – Rooiplaas synde die opleidingsterrein van 1 Valskermbataljon. Ek besef dis ’n erg gespesialiseerde werk, en neem aan dat die resensent, Omri van Zyl, al die tersaaklike dinge raakgesien het en belig. Die enigste eiertjie wat ek wil lê, is dat ek wonder of die skrywers van die boek, Renier du Toit en Ronnie Claassen, ook reaksies op die Bats gekry het by oud-lede van Swapo, die enigste soldate wat aan die ontvangkant was van ons valskermmanne se gevegsvernuf.

Neffens dié resensie staan Tom Gouws se uitvoerige bespreking van Marlise Joubert se nuwe bundel, Bladspieël. Gouws skryf in amper gedrae trant – sy hele aanslag is dié van iemand wat graag sy agting en bewondering vir die digter van die verse voor hom wil oordra. Wanneer hy dit ’n “allerheerlike digbundel” noem, of uiteindelik oordeel dat die digter van hierdie “kosbare en ryk onthoubare skat” kan saampraat met die beste liriese digters in Afrikaans, is dit die kulminasie van ’n lang betoog. Ek hou meer van hierdie soort resensie as die versameling sporadiese indrukke wat soms deur resensente aangebied word as resensies.

André Gouws se bespreking van Die dag van die lord, deur Johan Kruger, is myns insiens té bondig. Die kritiek wat hy uitspreek (oor kontinuîteitesffoute) is nie verdoemend nie, en ek het die gevoel gekry dat daar heelwat meer oor die werk gesê sou kon word, veral oor die gebruik van sekondêre bronne.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.