Jy blaai in die argief vir 2015 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Stof tot nadenke

Augustus 25, 2015 in Uncategorized

Die grootleraar van Kaapstad het my netjies gewys waar ek opgeslip het, self in die proses opgeslip deur van my ‘n man te maak, en in dieselfde proses ‘n resensie geskryf wat mens by wyse van ’n verandering stof tot nadenke gee.

Joan Hambidge se bespreking van die sesde uitgawe van HAT (Boeke24) raak kant en wal, met ‘n sin vir die leksikografiese omgewing en heelwat illustrasie van die genot wat in die voue van dié taalakkordion skuil. Daar is genoeg humor en speelsheid in haar resensie, wat te verwelkom is; dit is ook lekker om te sien hoe haar argument in skakelende paragrawe ontwikkel.

Die stof tot nadenke kom teen halfpad, wanneer sy sê dat ‘n woordeboek ‘n stuk kultuurgeskiedenis is. Dit neem haar noodwendig na transformasie en die manier waarop ‘n woordeboek die norme van ‘n tydvak vaslê. Dit is ‘n baie geldige argument – ek is seker tussen die eerste en sesde uitgawe van HAT sal ‘n leser kan agterkom hoe die taal sy politieke boeie afskud, hoe dit ‘n neutrale houding jeens sy tyd inneem.

Daar is ook ‘n verwysing na die transformasieproses wat onlangs by UK uitgespeel het, met studente wat die Rhodes-monument laat verwyder het ter ondersteuning van hul anti-kolonialistiese oortuigings.

Hambidge rig die gesprek na die oorlewing van die Afrikaanse taal, met die konklusie dat die taal nie aan ‘t sterwe is nie omdat té veel mense praat, dig en sing in Afrikaans.

Ek stem met haar saam, maar die lang swaai van haar diskoers het my laat wonder wat die beeldstormers moet maak van die feit dat daar geen soortgelyke verklarende woordeboeke vir Zoeloe, Xhosa, Sotho, Venda en so meer is nie – met blykbaar geen planne om dit tot stand te bring nie. En hoe hang dié gewaarwording saam met Afrikaans as veranderende taal (“woorde transformeer omdat mense verander,” sê Hambidge) in die tyd waarin die anti-kolonialiste Afrikaans as doseertaal aan ’n universiteit soos Stellenbosch (waar Afrikaanse leksikografie gedy) wil uitknikker en vervang deur Engels?

Hoe kan Afrikaans só gelukkig én ongelukkig wees? Wel, mens moet seker ook vra waar monumente vandaan kom, en wat hou hulle staande?

Baie slim, die gesprek wat Hambidge aan die gang sit voordat sy afsluit, maar ek is seker nie die een wat dit vir haar moet sê nie.

***

’n Goeie resensent kry dit reg om mense by boeke uit te bring wat hulle in die gewone gang van sake nie sou gelees het nie. ’n Resensent weet sy/haar stryd is om die leser by enige moontlike vooroordele te laat verby kyk. Dít is presies wat Helen Schöer vermag met haar bespreking van Opdrag van oorkant, deur Alta Cloete.

Haar aanloop ontwapen jou behoorlik, maak jou ontvanklik vir die verhaal van twee ouer vrouens en hul wedervarings op ’n Karooplaas. Schöer verklap nie te veel van die verhaal nie, en teen die einde van haar resensie het sy die saad van nuuskierigheid by jou geplant en laat ontkiem.

Profile photo of crito

by crito

Finesse

Augustus 18, 2015 in Uncategorized

Boeke24 en Rapport Boeke is albei deel van Media24. Hoe dan ’n boek benader waarin die geskiedenis van van Nasionale Pers en sy oorgang na Naspers en uiteindelik Media24 deur 22 verskillende skrywers bekyk word? Daarmee saam hang die groot vraag: Wie sal dit resenseer? Iemand van Stellenbosch of Potchefstroom se mediastudie-departemente?

Arrie de Beer, wat ou bande met Naspers het en ná termyne by Noord-Wes Universiteit en Universiteit van die Vrystaat tans buitengewone hoogleraar in joernalistiek by die Universiteit van Stellenbosch is – dis op hom wat die keuse geval het vir die resensie in Boeke24.

In die krimpende Afrikaanse mediabedryf is daar ballasmandjies vol van uiteenlopende menings oor Naspers en Media24 wat deur oud- en huidige werknemers gehuldig word. Maak die nuwe boek – wat opgesaal is met die titel ’n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange en saamgestel is deur Lizette Rabe – voorsiening vir die ou maatskappykultuur, en gee dit genoeg ruimte vir die visioene van die huidige geslag?

De Beer se resensie is een wat getuig van finesse. Hy laat hom nie uit oor die onderstrominge nie, maar noem wel die belangrikste uitsprake (deur Ebbe Dommisse, Ton Vosloo, Farial Haffajee, Willie  Esterhuyse, Chris van Wyk en Esmaré Weideman). Uit die manier wat De Beer die argumente en sienings uitlê, maak ek die afleiding dat hy heeltemal in sy skik is met die rol wat die samesteller, prof. Lizette Rabe gespeel het en dat hy uit die 22 stukke ’n intelligente diskoers kon lig.

Ek sou graag wou gesien het dat hy meer oor Rabe gesê het, en die wyse waarop sy die bydraers gekies het. Rabe is een van die reuse onder die geslag joernaliste wat via die Departement van Joernalistiek by US hul weg na Naspers gevind het en daar diep spore getrap het.

Ek kan nie dink dat iemand met haar ondervinding en insig sou nagelaat het om enige kritiese hoeke in te sluit onder die sienings nie, net so min as wat sy sou nalaat om die prestasies van die Nasionale Pers deur die jare behoorlik te laat besing.

De Beer gee nie duidelikheid hieroor nie – die enigste punt waarop ek sy resensie sou wou kritiseer. Mens kan beslis nie fout vind met dít wat hy alles die moeite werd ag om te noem nie.

Hy is uiteraard uitstekend geplaas om te weet dat geen koerantleser regtig ’n aftellysie van al die bydraers en hul sienings verwag nie. Deur Dommisse, Vosloo en Esterhuyse se standpunte aan te haal, dek De Beer die kernvrae oor die verlede, die hede en die toekoms. Dit is die wese van ’n boek wat ’n honderd jaar van hierdie mediamaatskappy wil gedenk, en De Beer maak dit heel gepas die belangrikste punte in sy betoog.

Oor een saak bly ek nuuskierig, al is dit om persoonlike redes vanweë die feit dat ek dikwels in die afgelope jaar onder vriende en kennisse moes luister na ’n gestryery oor wat presies van Nasionale Pers geword het sedert die koms van Koos Bekker.

Kry Bekker self kans om sy siening oor Naspers met die lesers van Rabe se boek te deel? En indien wel, sê hy iets oor die feit dat Naspers deesdae eerder ’n beleggingsmaatskappy is met Media24 ’n baie klein onderdeel daarvan?

Sal dié vrae seker net kan beantwoord kry deur die boek te koop.

Die Het Jan Marais Nationale Fonds het vanjaar by die Woordfees ’n byeenkoms gehou. Prof. Andreas van Wyk en Ton Vosloo het by daardie geleentheid opgetree. Baie is daardie dag gesê oor Jan Marais, wie se largesse tot die totstandkoming en welsyn van sowel die Nasionale Pers as US gelei het.

Jan Marais is ook die onderwerp van Pieter Kapp se boek Nalatenskappe sonder einde, wat deur Fransjohan Pretorius in Boeke24 bespreek is.

Die waardering wat Pretorius vir Kapp se navorsing en die boek uitspreek, is vir my genoeg rede om te weet dat hierdie ’n onmisbare boek is vir diegene met ’n belangstelling in die Universiteit van Stellenbosch en die Nasionale Pers. Trouens, uit Pretorius se resensie kan mens die afleiding maak dat Kapp se boek ’n aanvulling vir Rabe se versameling essays kan wees, en selfs gesien kan word as die inligting-onderbou daarvan.

Ek wonder hoeveel mense daar wel nog is wat daardie belangstellings deel.

Profile photo of crito

by crito

Draaiboeke sonder flieks

Augustus 12, 2015 in Uncategorized

Die publikasie van draaiboeke is só ’n sonderlinge gebeurtenis dat ’n mens verwag dat ’n resensent behoorlik sal baljaar met al die moontlike invalshoeke. In Afrikaans het daar pas twee draaiboeke van Karel Schoeman onder die titel Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboeke verskyn. Dis twee meer as wat daar in meeste tale die afgelope tien jaar verskyn het – in Engels alleen word sulke publikasies alleen aangepak wanneer ’n rolprent buitengewoon gewild is en/of kultus-status verwerf het. ’n Goeie voorbeeld daarvan is die publikasie van die draaiboek van Robert Altman se Short Cuts, waarby daar die bykomende allure was dat die draaiboek saamgeflans is uit verwerkings van nege Raymond Carver-kortverhale.

Maar draaiboeke van rolprente wat nooit gemaak is nie? Dit gebeur net nie. Sou ’n uitgewer so ’n groot finansiële belegging maak as daar nie ’n buitengewoon goeie motiverings is vir die publikasie nie? Soos byvoorbeeld dat die werk ’n nuwe lig sal werp op die betrokke skrywer se oeuvre, of tematies van betekenis sal wees binne ons tyd?

Met hierdie vrae wat reeds by my opgewerp is deur die uitlig-paragrafie in die begin van Wium van Zyl se resensie oor hierdie boek in Rapport Boeke, het die lees van die resensie spoedig ’n baie groot teleurstelling geword.

Van Zyl is bedrewe genoeg om reeds met die intrapslag genoeg te sê om Schoeman-bewonderaars te laat regop sit: “Bodemlae waarin klein versteurings ’n ingrypende effek kan hê. Dít is die verhoudingswêrelde van Karel Schoeman se twee draaiboeke in sy Die vrou wat alleen bly.”

Daarna plaas hy die twee werke, en gee ’n aanduiding van die dinge wat hom opgeval het van hulle. Met sy slot maak hy sy pakkie netjies toe: “Die twee werke dateer van ‘omstreeks 1984’ en is nooit verfilm nie. Die tweede was trouens ’n aanset tot ’n roman wat nooit geskryf is nie. Die historiese rekonstruksie in laasgenoemde is al interessant. Die lees van ’n draaiboek is ’n uitdaging, maar dié publikasie sal Schoeman-liefhebbers beslis nie teleurstel nie.”

Die vraag is nou net of ’n mens ’n hele resensie wil lees om dít te weet. Vir die Schoeman-liefhebbers én die Schoeman-ignoreerders: Hoekom uitwei oor ’n publikasie sonder om te probeer uitpluis wat dit so besonders maak dat dit hoegenaamd gepubliseer is? Daar moet tog iets meer in die teks steek as net die feit dat dit uit die pen van Karel Schoeman gekom het, anders sou die uitgewer nie gebodder het met dié boek nie.

Die band met Hierdie lewe – wat Van Zyl ook uitwys – kan sekerlik nie al wees nie. ’n Mens begin die vermoede kry dat Schoeman se kruidenierslyste ook binnekort aan die bod sal kom. Hoekom nie liewer geld belê in nuwe jong stemme nie?

Daniel Hugo maak weer sy verskyning as resensent in Rapport met ’n bespreking van die jongste uitgawe van die HAT. Ek wil nie met hom skoor soek nie, maar ek dink hy verdien ’n antwoord op sy verklaring dat “Kaaps is ’n variëteit wat nog afgeskeep word in die HAT”.
Ek is geen leksikograaf nie, maar sover my kennis strek haal ’n woordeboek soos hierdie meeste van die woorde uit die geskrewe of bedrukte taal, met die gesproke taal as bykomende bron in soverre dit aangeteken word deur belangstellendes.

Dit is dus vir my ’n wesentlike vraagstuk of Hugo se opmerking gesien moet word as ernstige beletsel. Hoeveel Kaaps kry mens te lese? Sou daar hoegenaamd van ’n vorm van standardisering by Kaaps sprake wees?

Interessante vraagstuk.

Dit was ’n goeie idee van Boeke24 om ’n oud-Bat te kry Rooiplaas te resenseer – Rooiplaas synde die opleidingsterrein van 1 Valskermbataljon. Ek besef dis ’n erg gespesialiseerde werk, en neem aan dat die resensent, Omri van Zyl, al die tersaaklike dinge raakgesien het en belig. Die enigste eiertjie wat ek wil lê, is dat ek wonder of die skrywers van die boek, Renier du Toit en Ronnie Claassen, ook reaksies op die Bats gekry het by oud-lede van Swapo, die enigste soldate wat aan die ontvangkant was van ons valskermmanne se gevegsvernuf.

Neffens dié resensie staan Tom Gouws se uitvoerige bespreking van Marlise Joubert se nuwe bundel, Bladspieël. Gouws skryf in amper gedrae trant – sy hele aanslag is dié van iemand wat graag sy agting en bewondering vir die digter van die verse voor hom wil oordra. Wanneer hy dit ’n “allerheerlike digbundel” noem, of uiteindelik oordeel dat die digter van hierdie “kosbare en ryk onthoubare skat” kan saampraat met die beste liriese digters in Afrikaans, is dit die kulminasie van ’n lang betoog. Ek hou meer van hierdie soort resensie as die versameling sporadiese indrukke wat soms deur resensente aangebied word as resensies.

André Gouws se bespreking van Die dag van die lord, deur Johan Kruger, is myns insiens té bondig. Die kritiek wat hy uitspreek (oor kontinuîteitesffoute) is nie verdoemend nie, en ek het die gevoel gekry dat daar heelwat meer oor die werk gesê sou kon word, veral oor die gebruik van sekondêre bronne.

Profile photo of crito

by crito

Stadigaan

Augustus 5, 2015 in Uncategorized

Deon Maas. Dit neem my lank, maar ek begin die man se resensies op ’n manier waardeer – maar dit sal nog ’n ruk wees voordat ek dit heeltemal goepraat.

Sy jongste, oor Hans Pienaar se roman My China (Boeke24), is weer vol vreemde formulerings en struikelende styl, maar die kern van sy skryfwerk kom baie sterk tot mens deur. Dít is sy eerlikheid en die manier waarop hy dinge gesê kry.

Hy laat jou onder geen twyfel oor presies wat hy van dié boek dink nie. Swak uitgegee, maar die inhoud laat hom lekker terugdink aan die jare tagtig. Dan swaai hy deur na ’n slot waarin hy op ’n mooi manier vir die outeur sê dat hierdie boek jare gelede gepubliseer moes gewees het, want dit het weinig te sê vir vandag se jonger lesers.

Al het hy wat Maas is dit só geniet, op sy gevorderde ouderdom.

JB Roux se bespreking van Skuldig, die nuwe roman deur Martin Steyn (Boeke24), is doeltreffend en op die punt af. Tog het hy my laat glimlag met die manier waarop hy ’n oomblik van skerp kritiek inlei: “Plek-plek lok die teks wel ’n frons uit.” Wat? Die afstandelikheid van hierdie stelswyse laat my wonder of die teks nie ook plek-plek ’n krieweling van die kroontjie veroorsaak het nie. Of ’n insinking in die gemoed.

In Rapport het Joan Hambidge geskryf oor Skynskadu, ’n nuwe digbundel deur Christine Barkhuizen le Roux.

In dié bespreking val Hambidge terug op haar aforistiese styl. Dit lees soos ’n versameling los gedagtes oor die bundel. Modder teen die muur, nè? Dié benadering bied nuttige insette vir diegene wat voel hulle het begeleiding nodig by die lees van die bundel.

Vir mense wat ’n Sondagoggend in die wintersonnetjie wil indommel, terwyl hul kinders vir hulle die boekresensies in Rapport voorlees, sal dit wel Grieks klink.

Skakels:

http://www.netwerk24.com/netwerk24/vermaak/boeke/2015-08-03-my-china-soos-die-80s-se-paranoia

http://www.netwerk24.com/netwerk24/vermaak/boeke/2015-08-02-die-bloed-is-aan-die-muur-in-naelbyter

http://www.netwerk24.com/netwerk24/vermaak/boeke/2015-08-02-gestroopte-eerlike-verse-tref