Profile photo of crito

by

Ontsier

Julie 15, 2015 in Uncategorized

Dewald Koen se profiel as resensent groei met elke nuwe episode van Boeke24. In die jongste het hy Alexander Strachan se Brandwaterkom bespreek en met die uitsondering van ’n enkele opmerking ’n wesentlike bydrae gemaak tot die korpus van Strachan-ontledings. Boonop was dit die soort koerantresensie wat nie daarvan beskuldig kan word dat dit net ruimte vul nie.

Die uitsondering is ’n vraag wat Koen in erns stel vroeg in sy skrywe: “Lesers mag hulself egter afvra waarom juis nóg ’n roman oor die Anglo-Boereoorlog gepubliseer word?”

Dit is moedswillig van hom om só vroeg in ’n resensie só ’n twak-gedagte op mens te lanseer. Vra hy dit net om snaaks te wees, of om te dien as wegspringplek vir sy daaropvolgende opmerking, naamlik oor presies hoeveel onlangse publikasies oor daardie oorlog handel?

Moontlik is Koen se aandag as pedagoog op ander dinge gefokus, maar iets behoort tog agter in sy gedagtes te knaag: Skrywers skryf enersyds oor dié onderwerp omdat dit dankbare material is, en andersyds omdat die publiek oënskynlik ’n hunkering het daarna en dit bly koop.

Het enigiemand Willem Anker dit verkwalik dat hy oor Buys skryf nadat André P. Brink reeds oor hom geskryf het? Natuurlik nie – een onderwerp wek uiteenlopende reaksies by verskillende skrywers.

’n Vraag soos die een wat Koen stel, val uit toon met die res van sy resensie. Trouens, dit laat mens net besef hoe knap die res is – en hoe maklik ’n kletsery oor triviale vraagstukke ’n goeie stuk werk kan ontsier.

2 antwoorde op Ontsier

  1. Kelly het gesê op Julie 16, 2015

    Ek dink tog dit is ‘n geldige vraag, gesien uit enige van die perspektiewe.

  2. Crito, goeie insigte soos gewoonlik, maar met een punt stem ek nie saam nie. Hoekom is dit moedswillig van hom om só vroeg in ’n resensie daardie vraag te vra? Baie lesers sal dit wel wonder. Miskien nie jy of ek nie, maar daar is heelparty mense buite die letterkunde wat geen belangstelling daarin het nie. Natuurlik is daardie oorlog ‘n ryk bron van stories. Wonderlike stories wat vertel moet word en ook puik vertel (en oopgeskryf) word deur baie, baie knap skrywers. Maar dit is nie vir enigiemand om te wil voorskryf waaroor lesers mag wonder aldan nie. Glo my, tannie Elga Snyman van Koekenaap en al haar vriende in Lutzville sal presies daaroor wonder. En al dink baie mense nie so nie, lees baie van hulle ook resensies. Groete van huis tot huis.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.