Jy blaai in die argief vir 2015 Julie.

Profile photo of crito

by crito

‘n Reus van ‘n resensie

Julie 28, 2015 in Uncategorized

Ná Henning Snyman se resensie van Lien Botha se Wonderboom (LitNet) kan daar geen twyfel meer wees dat dié literêre webwerf ’n integrerende deel geword het van die Afrikaanse boekebedryf nie. Dit is ’n reus van ’n resensie, onbelemmer deur die beperkinge wat ruimte en teikengehoor aan die koerantresensent opdwing.

Dewald Koen se bespreking vir Boeke24 was nie sonder verdienste nie. Ek het dit trouens hoog getakseer, doen dit steeds. Maar hy raak net aan die dinge wat Henning Snyman so dramaties en uitvoerig uitpak in sy resensie-essay.

Die belangrikste is natuurlik wanneer mens die webblad oopmaak, en hier staar Anna M. Louw se Vos jou in die oë. En dit flits deur jou gedagtes – Magriet in Wonderboom se van is Vos. Natuurlik – daar is ’n konneksie.

Dán gee jy oor aan Henning Snyman, en  al lesende vou daar nog meer elemente van Wonderboom oop, dinge wat met die lees miskien ’n vae kropgevoel uitgelok het, maar geen sekere wete nie.

Hy trek die Bybel nader, en Etienne Leroux se Onse Hymie. Die reis deur die Karoo val netjieser in plek. Só, met die uitpak van sy analise, besef mens dat Snyman waarskynlik later verder sal kan/wil aanvul – Anna M. Louw se Vos lei op sy beurt na Faust, wat sekerlik strenger onder die loep geneem kan word in die kyk na Magriet se stroping.

Wag, ek’s effens in vervoering. Terug na die koerante.

Die interessantse resensie onder die naweek se oes, is Jacques Myburgh s’n oor Dana Snyman se In die blou kamp. Net Myburgh se afsluiting verraai sy relatiewe gebrek an ervaring, effe studentikoos. Andersins kry hy reg om van die treffendste oomblike in Snyman se versameling Facebook-aandenkings te gebruik sonder om sy spoed en argument te verloor. Kyk gerus hoe benut hy Ollie Viljoen se grap.

Lona Gericke se bespreking van Marita van der Vyver se Swemlesse vir ’n meermin is op sy manier ook merkwaardig. Gericke is een van die mees gerekende boekemense in die Kaap, ’n kenner met ’n baie wye leessfeer.

Haar taksering van Van der Vyver se nuwe jeugboek is negatief, al probeer sy kliphard om die slag te versag. Die opskrif by die resensie is ’n opsomming van wat Gericke binne die resensie op ’n effens sagter manier sê: Marita moet stories skryf, dis wat sy beste doen.
Rudolf Stehle se bespreking van Boekstaaf, ’n nuwe bundel deur Nini Bennett, is eweneens netjies beheersd. Hy het respek, maar kom so na daaraan as wat moontlik is om die werk as middelmoot-poësie te beskryf.

Profile photo of crito

by crito

Verandering

Julie 21, 2015 in Uncategorized

Een van die onderwerpe wat dikwels in my huis aan etenstafel bespreek word, is hoeveel Suid-Afrika al sedert 1990 verander het. Hoeveel is prysgegee, hoeveel is geneem. Hoeveel wrewel en verkwaliking bly oor in die harte van mense aan weerskante van die prysgee- en prysneem-lyn.

Daarom ook dat Ena Jansen se Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste in die rondte gelees en bespreek is. Ek kan bevestig dat almal saamstem met resensent Jean Meiring (Boeke24) dat hierdie boek ‘n gróót en onomstootlike prestasie is.

Jansen gebruik haar eie lewe en die letterkunde as vertrekpunt. Die boek lees lekker – onderhoudend, ontstellend, selfs krenkend. Dit is vir ‘n wit huisgesin onmoontlik om deur hierdie proses te gaan en nie te vind hoe absoluut waar Jean Meiring se reaksie is nie: “Eweneens gee sy haar sekerlik oorwegend wit Afrikaanse lesers ‘n spieël waarin hulle ‘n stuk van hulself te sien kan kry, dalk vir die heel eerste keer.”

Hoeveel keer ‘n mens ook vir jouself sê alles het in Suid-Afrika verander, dwing Jansen jou om alles te voer tot daardie een ongemaklike vraag: “Hoeveel het dit by my aan huis verander?”

Dit is verstommend om te hoor wat my kinders, in hul twintigs, te sê het oor my en my wederhelf. Daar is ou gewoontes – wat alles deur Jansen en skrywers aangeraak word, al is dit soms met ‘n omweg – wat bly, al is die eienaar van die hart daarvan oortuig die bedoelings is anders.

Jansen gebruik uiteenlopende tekste – skrywers oud en jonk, uit alle tersaaklike sfere – en die vreemde ding by die lees van die boek is dat dit juis, soos resensent Meiring aandui, vir die lesers in my klein kring gedwing het om die streep verder te trek, uit die letterkunde na die eie werf. Goed, nie altyd nie, maar meestal.

Wat Meiring nie noem nie, is dat Jansen se boek mens ook lei na skrywers wie se werk jy nie geken het nie – in my geval Zukiswa Wanner.

Wat vir my ook opvallend is van die resensie, is presies hoe gemaklik Jean Meiring ‘n probleem omseil het wat resesente gewoonlik ervaar wanneer hulle positief oor ‘n boek wil skryf: Hoe verpak jy die loftuitings, hoe kies jy jou emosionele sleutel?

Haar betoog is ‘n reaksie op Jansen se “meditasie” sonder ongemaklike nagalming. Sy analiseer Janse se procedé, sy loof haar vindingrykheid en haar ontwyking van sentimentaliteit. Haar oog is literêr gerig, en Meiring dui die voordele van dié benadering almal aan.

Sy gee nou wel nie maklik toe dat Jansen se taalgebruik dikwels erg deur Nederlands beïnvloed is nie, maar sy lig tog uit dat die boek nie in logge akademiese Afrikaans geskryf is nie.

Meiring verdien vir die geheel lof – een van die resensie-hoogtepunte van hierdie jaar.

Dis met ‘n gevoel van effense irritasie wat mens dan die ander resensie op die blad lees – André Bartlett s’n oor Dáárom glo ek! van Cas Vos.

Bartlett het al vantevore getoon dat hy baie genuanseerd oor geloofsake kan skryf. Hoewel ek weinig belangstelling kan bymekaarmaak vir Cas Vos se boek, was dit ‘n groot plesier om te sien met hoeke goeie maniere en selfbeheersing Bartlett verduidelik dat Vos met Dáárom glo ek! net vir die reeds bekeerdes predik.

Profile photo of crito

by crito

Ontsier

Julie 15, 2015 in Uncategorized

Dewald Koen se profiel as resensent groei met elke nuwe episode van Boeke24. In die jongste het hy Alexander Strachan se Brandwaterkom bespreek en met die uitsondering van ’n enkele opmerking ’n wesentlike bydrae gemaak tot die korpus van Strachan-ontledings. Boonop was dit die soort koerantresensie wat nie daarvan beskuldig kan word dat dit net ruimte vul nie.

Die uitsondering is ’n vraag wat Koen in erns stel vroeg in sy skrywe: “Lesers mag hulself egter afvra waarom juis nóg ’n roman oor die Anglo-Boereoorlog gepubliseer word?”

Dit is moedswillig van hom om só vroeg in ’n resensie só ’n twak-gedagte op mens te lanseer. Vra hy dit net om snaaks te wees, of om te dien as wegspringplek vir sy daaropvolgende opmerking, naamlik oor presies hoeveel onlangse publikasies oor daardie oorlog handel?

Moontlik is Koen se aandag as pedagoog op ander dinge gefokus, maar iets behoort tog agter in sy gedagtes te knaag: Skrywers skryf enersyds oor dié onderwerp omdat dit dankbare material is, en andersyds omdat die publiek oënskynlik ’n hunkering het daarna en dit bly koop.

Het enigiemand Willem Anker dit verkwalik dat hy oor Buys skryf nadat André P. Brink reeds oor hom geskryf het? Natuurlik nie – een onderwerp wek uiteenlopende reaksies by verskillende skrywers.

’n Vraag soos die een wat Koen stel, val uit toon met die res van sy resensie. Trouens, dit laat mens net besef hoe knap die res is – en hoe maklik ’n kletsery oor triviale vraagstukke ’n goeie stuk werk kan ontsier.

Profile photo of crito

by crito

Wrange insig

Julie 8, 2015 in Uncategorized

Maandagoggend het Willie Breytenbach op RSG ’n uiteensetting gegee van presies wat die knelpune tans in Lesotho is. Hy het ’n manier om dinge netjies en reguit oop te vlek en dan die kern vir jou uit te wys.

Hy doen min of meer dieselfde in sy bespreking van Dirk Mudge se Enduit vir ’n onafhanklike Namibië (Boeke24). Dis net dat hy hier ook ’n element van wrange insig vertoon, iets wat jou vanaf die eerste paragraaf laat besef dat jy stadig moet lees, moet uitpluis wat die implikasies is van wat hy sê.

Kyk byvoorbeeld na sy eerste sin: “Hierdie is die eerste boek in Afrikaans wat oor die onafhanklikwording van Namibië geskryf is.”

Hoekom is dit so belangrik dat hy heel in die begin noem dat dit die eerste boek is wat in Afrikaans oor die onafhanklikheidswording van Namibië geskryf word? Kyk gerus na die groter konteks – dink terug aan die stryd wat Suid-Afrika in die wêreldhof gaan stry het oor Suidwes-Afrika. ’n Stryd wat van Pik Botha ’n Nasionale held gemaak het, en Lang Dawid de Villiers onaantasbaarheid verleen het.

De Villiers is van die Wêreldhof af Nasionale Pers toe, welke mediamaatskappy tot op hede nog nie ’n boek in Afrikaans oor die onafhanklikheidwording van Namibië gepubliseer het nie. Dieselfde maatskappy wat ’n kantoor in Windhoek geopen het vir die duur van die Turnhalle-onderhandelinge.

Dit is dik stukke agtergrond wat Breytenbach met een sin oproep sonder om enigiets pront-uit te sê. As jy by jou bewussyn was in die jare tagtig, sal jy weet. Jy hoef dit nie met ’n lepel gevoer te word nie.

Daarna staan hy stil by Mudge se vraestelling en antwoorde. Sy manier van uitlig is vir enige persoon wat in die eietydse politiek en geskiedenis belang stel genoeg om te weet dat hierdie ’n hê-boek is, lank voordat Breytenbach dit in sy slotopmerking uitspel.

Dewald Koen se bespreking van Lien Botha se Wonderboom (Boeke24) is in meeste opsigte presies wat ’n debutant se hart kan begeer. Indringend, bereid om haar dadelik te probeer plaas binne die konteks van haar eweknieë, bewus van die roman se aansluiting by sy tyd en omgewing.

Soms neig hy na onodige wollerigheid in sy formlering (“Botha lewer indirek kommentaar op die kapitalisties georiënteerde verbruikersamelewing wat in hierdie postapokaliptiese Suid-Afrika tot ’n nuwe vorm van ekonomiese segregasie gelei het.”)  maar in die algemeen kry ’n mens die gevoel dat hy meer as bereid is om die waarde van die roman op intellektuele en estetiese vlak te probeer peil.

Die enigste fout wat daar wel in sy redenasie is, is sy konstatering dat Botha se skryfstyl beskryf kan word “as ’n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk”. Só ’n opmerking help net mooi niks. Met hierdie drie genoemde skrywers wissel die styl van roman tot roman – die Karel Schoeman van Op ’n eiland kan kwalik in verband gebring word met dié van Afskeid en vertrek; die Marlene van Niekerk van Triomf  met dié van Die vrou wat haar verkyker vergeet het; of die Ingrid Winterbach van  Niggie met dié van Die aanspraak van lewende wesens. Waar plaas hy dan vir Lien Botha?

Sulke opmerkings lyk imponered, maar beteken uiteindelik net mooi niks. Pleks dat hy fokus op die uniekheid van Botha se styl, en dié probeer tipeer.

Ek het ten laaste baie gehou van Riaan Grobler se resensie van Woudfontein, die debuut van Hannes Haasbroek (Boeke24). Dit verhoog die bekoring van die boek wanneer ’n resensent beken dat hy aanvanklik heeltemal om die bs gelei is deur ’n skrywer, en daarna deeglik onder die indruk van die boek se goeie hoedanighede kom.