Profile photo of crito

by

Die verwysingsraam

Junie 30, 2015 in Uncategorized

Daar word al hoe meer na ons tyd verwys as dié waarin daar dumbing down is. ’n Tyd waarin jy jou onkunde vergewe word. Dit is waar. As sportkommentators se gebrekkige Afrikaans jou hinder, gaan luister ’n bietjie hoe hulle Engels praat. Die kernwoordeskat krimp elke week.

Daarom is dit vir my so dikwels ’n plesier om Joan Hambidge op die lyf te loop, as ’t ware, waar sy in koerantresensies haar lesing van ’n boek ondersteun met verwysings na ’n groot verskeidenheid ander publikasies. Sy maak nie alleen die boek onder bespreking vir jou oop nie, maar gee vir jou aanduidings na al die rigtings waarin jy verwante leesstof kan opspoor.

Ek weet daar is mense wat nie van haar styl hou nie, dit as grootdoenerig beskou. Ek is nie een van hulle nie. Dit is haar belesenheid wat my aanstaan.

Wanneer sy dit in Rapport Boeke het oor Alexander Strachan se Brandwaterkom, verwys sy na die skryfwerk van Christoffel Coetzee, Karel Schoeman, Dan Sleigh, Marié Heese, Ingrid Winterbach en Willem Anker. Dit gee vir jou ’n gedagte- en verbande-raamwerk waarbinne jy weet jy Brandwaterkom gaan moet plaas, wanner jy (hopelik gou) by die lees daarvan uitkom.

In haar bespreking anker sy opmerkings aan name uit ’n ander sfeer – E.M. Forster, Wayne C. Booth. Sy kan Vilonel, die berugte Vrystaatse joiner, plaas in die spektrum  tussen Botha, Steyn en Hertzog enersyds, en Buller en Cronje andersyds. Ten opsigte van laasgenoemde sou sy ook die naam van Sonja Loots kon genoem het, en by Buller dié van Deon Opperman.

As resensent wat jou nuuskierig wil maak, sê sy ietwat meer oor Cronjé self – vermoedelik vanweë bande tussen hom en Vilonel?

Brandwaterkom is nou heel bo-aan die lysie boeke in my wensemmer. Alexander Strachan se Dwaalpoort is vir my een van die groot romans van die afgelope tien jaar en ek is baie nuuskierig om te sien hoekom Hambidge in hierdie resensie na die karakter Bullet verwys, en nie noem dat daar ’n soortgelyke persoon in Dwaalpoort is nie. Net toevallig dieselfde naam, of is daar ’n groter verband tussen Dwaalpoort en Brandwaterkom? Sy sou tog genoem het as daar was.

Boeke24 het Deon Maas gevra om Tinus Horn se  nuwe roman, Boas Mei is verward, te bespreek. Maas gee geen literêre verwysingspunte nie, en ’n mens kry soms die gevoel dat hy sy resensie gedikteer het en dit ook taamlik vinnig gedoen het. Dit lees lekker vlot, Maas se formulering is soms ’n belewenis, maar dit val té dikwels uitmekaar.

So argumenteer hy in ’n stadium dat Tinus Horn gegroei het as skrywer sedert sy vorige twee romans, en kom dan met ’n opmerking wat elke leser sal laat regop sit omdat dit daarop dui dat Maas werklik dieper oor Boas Mei is verward nagedink het as die drie hoeke wat hy tot in hierdie stadium geïdentifiseer het.

Maas se naamlik: “Hy het nie in dié slaggat geval nie. Boas Mei is verward sien Horn as skrywer ’n trappie hoër beweeg.” Nou wag ons, Maas gaan die hoër trappie verduidelik, literêre teoretici gaan ’n ankerplek kry vir die toekomstige taksering van Tinus Horn.

Maar nee, Maas val homself in die rede met iets tersyde oor die uitgewer, en vertrek dan volstoom verder sonder om weer terug te kom na daardie hoër trappie. Die indruk van ’n oppervlakkige woordvloed keer terug in ’n stukkie nonsens soos “Horn kry dit reg om jou partymaal te laat skuldig voel omdat jy lag, amper soos as iemand in ’n mangat val.” Hè? Slordige skryfwerk – waar is die subredakteurs wat hierdie dinge moet regmaak?

Die beste stukkie ploeterskryfwerk kom ’n paar paragrawe verder: “Die boek het 84 hoofstukke in 177 bladsye. Dis amper soos iemand wat jy sien deur ’n stroboskopiese lig.”

Pragtige beeld, dié van die stroboskopiese lig, en ek verstaan wat hy probeer sê. Maar die formulering laat dit lyk asof die twee opmerkings losstaande van mekaar is, en as jy nie weet wat ’n stroboskopiese lig is nie, sal jy nooit weet dat Maas sinspeel op die flitsende effek van hoofstukke wat verbysnel omdat hulle so kort is nie.

Lees maar self die res. Ek gaan nie weer nie.

André Krüger se nuwe roman, Komplot, word sterk deur Frederick J. Botha in verband gebring met sy debuut, Die twee lewens van Dieter Ondracek. Dit is vir my interessant dat hy op die strukturele ooreenkomste tussen die twee werke fokus. As mens hierdie resensie (in Boeke24) lees in samehang met Joan Hambidge s’n oor die nuwe Strachan-roman (in Rapport Boeke), is dit betekenisvol dat Krüger ook die historiese bakens van die Suid-Afrikaanse geskiedenis so sterk laat figureer.

Dit sou ook interessant gewees het as Botha Krüger se skryfwerk vergelyk met soortgelyke pogings in Engels, soos bv Forsyth se Day of the Jackal (gegee die opmerking wat Botha maak oor ’n verhaal waarvan die leser uit die staanspoor die uiteinde ken, maar steeds geboei genoeg bly om aan te hou lees).

Dis baie kalmerend om Botha se resensie te lees ná Deon Maas s’n. Ook Helen Schöer (Boeke24) is opmerklik rustig terwyl sy eintlik baie opgewonde is oor Dibi Breytenbach se debuutwerk, Saliger.

Sowel Rapport Boeke as Boeke24 het vandeesnaweek resensies geplaas van Juliana Coetzer se Bloedvreemd. Dewald Koen skryf in Rapport, en Riëtte Grobler in die oggendkoerante oor hierdie outobiografie, waarin Juliana Coetzer vertel hoe die siekte van ’n kind ’n gesin kan ontwrig en lewensplanne in ander rigtings stuur.

Ek het aanvanklik gedink Grobler takel dié moeilike opdrag die beste, omdat sy kort en bondig skryf. Hoe anders, het ek gedink, Grobler is ’n joernalis. Hoe kan Koen hierop verbeter?

Wel, hy het. Omdat hy meer ruimte tot sy beskikking het, kry hy dit reg om meer inligting oor die siekte wat aanleiding tot die skryf van die boek gegee het. Dit heet Landau-Kleffner-sindroom, en jy kry dié identifikasie net by Koen. Hy gee meer inligting daaroor, en ofskoon sy en Grobler se reaksie presies dieselfde is, sal syne uiteindelik meer waarde hê vir koerantlesers.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.