Profile photo of crito

by

Dankie Afrikaans

Junie 17, 2015 in Uncategorized

Verwarrend, al die dinge in en om die taaldebat. In Franschhoek krap ’n debuutskrywer almal om, op Stellenbosch gebruik die ou Britse empire nuwe buiksprekers …

Op Netwerk24 se twee boekeblaaie, Rapport Boeke en Boeke24, raak iets anders sigbaar wat my laat wonder of die hele Suid-Afrika op dieselfde bladsy is.

Ek verwys hier na twee resensies van Engelse publikasies wat in Afrikaans vertaal is: Joanne Macgregor se Skadustemme en Mike Nicol se Woes. Ek bespreek nie resensies van sulke vertalings nie, maar wat vir my hier interessant is, is die redes vir sulke vertalings.

Ek het by my gunsteling boekhandelaar in Kaapstad ’n draai gaan maak, en dáár moes ek verneem dat daar twee redes is vir sulke publikasies. Die eerste is dat selde meer as 2000 eksemplare van die oorspronklike Engelse uitgawes in ons land verkoop word, en ten tweede is daar tans in Afrikaans ’n baie sterk opbloei van misdaad-romans, en die uitgewers dikwels op dubbel daardie verkope laat hoop – en kry.

So, aan die een kant word daar gewroeg oor Afrikaans en aan die ander oor die reste van die kolonialisme (daai een kielie my steeds, want die kampanje word in Engels ten gunste van Rhodes se taal gevoer) – terwyl Afrikaans die toevlug word van Engelse skrywers wat darem ook meer as aalmoese uit hul skryfwerk wil verdien.

Op Boeke24 is daar een resensie van ’n nuwe Afrikaanse boek – Ilza Roggeband bespreek Solitaire van Vita du Preez. Roggeband het my simpatie. Haar probleem met die boek is dat dit vol “purple prose” is – niks nuuts by liefdesromans nie, sou ek sê. Maar was dit regverdig teenoor Roggeband en Du Preez om ’n boek wat in een paragraaf aanbeveel kan word vir liefhebbers van die liefdesverhaal, te moet resenseer en 400 tot 500 woorde kry waarbinne dit gedoen moet word?

Rapport Boeke het Pieter-Louis Myburgh se resensie van jeugverhaalskrywer Fanie Viljoen se eerste spanningsroman vir volwassenes, Prooi. Mens sal lank kan argumenteer oor presies wat dit is wat ’n skrywer ’n “jeugverhaalskrywer” maak, en wat dit is wat hom op ouer lesers rig. Die skeidslyne word al hoe hoe meer vaag, en uiteindelik soek die leser van ’n resensie na ander tekens en aanduidings as dié na die waarskynlike ouderdom van die boekleser. Wat Myburgh dan hier gee, is die argument dat die roman nie baie streng geredigeer is nie, veral nie die dialoog nie.

Ek is nie daarvan oortuig dat die aanhaling wat hy verskaf, bewys dat Viljoen eerder vir jonger lesers moet bly skryf nie. Dat dit vrot skryfwerk is, daarmee stem ek saam. En die uitgewer moes Viljoen beskerm het met meer kritiese redigering.

Joan Hambidge skryf vir Rapport Boeke oor Jan van Staden se Boer kry ‘n vrou. Ek dink Hambidge sou met my saamstem dat sy nie deel is van die boek se teikengehoor nie, en ek het tevergeefs gewag dat haar resensie moet vlam vat met die bekende Hambidge-geskater en vlymskerp relativerings.

Sy sê sy het die roman enduit gelees “om as genderteoretikus net weer daaraan herinner te word waarom daar vroue is wat reageer teen hierdie brutale oorheersing.” Wel, die resultaat is maar baie effens. Susan Sontag, Koekie Ziervogel en boerewors kom maak hul voorspelbare draai, en uiteindelik was ek verbaas dat sy só ernstig en omslagtig is oor ’n frivole publikasie kan wees.

Die opskrif by haar resensie sê vir my genoeg: “Storie is net ’n verskoning vir seks”.

Jan van Staden sal seker antwoord, “Wat is nie?” – maar laat dit maar daar.

3 antwoorde op Dankie Afrikaans

  1. Jennifer het gesê op Junie 19, 2015

    Thando Mngolozana is not a debut author.

  2. Tien uit tien vir hierdie opmerking: “So, aan die een kant word daar gewroeg oor Afrikaans en aan die ander oor die reste van die kolonialisme (daai een kielie my steeds, want die kampanje word in Engels ten gunste van Rhodes se taal gevoer).” Stem saam met jou, veral die gedeelte tussen hakies.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.