Jy blaai in die argief vir 2015 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Hier en daar

Mei 20, 2015 in Uncategorized

Maggie Marx bespreek Kamee, deur Roela Hattingh. (Rapport Boeke)
Ek dink mens sal nou kan sê Roela Hattingh het gearriveer. Marx se resensie is ’n aks minder akademies as Frederick J. Botha se bespreking van enkele weke gelede op Boeke24, maar dit eggo sy evaluering, en voeg nog meer lof en goeie begrip by. En tussen alles wat Marx skryf is daar ’n taksering wat mens onmiddellik laat aanvoel dat daar groter dinge op Hattingh wag: Sy is ’n storieverteller by uitstek.

André Wessels resenseer Die Dorslandtrek 1874-1881, deur Nicol Stassen. (Boeke24)
Mens wens nogal André Wessels het Piet du Toit en Wanda Smith se Stylboek, wat die vorige dag in Rapport bespreek is, gelees. Die resensie dwing gesag af danksy die respekvolle toon van die formulerings – maar daarin lê ook ’n probleem. Té veel loftuiting ondermyn uiteindelik die toon van eerbied. Die boek word besing, maar die inhoud bly op ‘n afstand. Omdat Wessels self ’n geskiedkundige is, sou dit vir hom moontlik gewees het om te bepaal watter materiaal uniek is, voorheen onbekend, en daaromheen ’n resensie opgebou het. Die aangewese uitweg vir akademici is kwasi-akademiese resensies, maar dit is só onnodig. Nicol Stassen het by die bekendstelling van die boek dinge gesê wat invalshoeke vir ’n halfdosyn ander resensies bied, en nie een daarvan sou kwasi-akademies van aard gewees het nie.

Profile photo of crito

by crito

‘n Sug van verligting

Mei 12, 2015 in Uncategorized

Erika de Beer bespreek Boomkastele, deur Schalk Schoombie. (Boeke 24)
Erika de Beer het meer aanklank by hierdie roman gevind as Joan Hambidge. Sy gee self ’n aanduiding hoekom: Die roman speel af in die voorstede van die Witwatersrand, wat vir De Beer haar na aan die hart lê. Gevolglik voel sy haar nie vervreem van die roman, soos van ander onlangse skryfwerk oor die buiteland, plaas of die vlug Kaap-toe nie. “Dis armoede-, oorlog-, apartheid- en droogtevry,” verklaar sy met groot tevredenheid. Genadiglik hang die De Beer-onderrok net vir die laaste vyf paragrawe van die resensie uit, en teen daardie tyd het sy al genoeg gesê om die roman ’n bekoring te gee wat selfs Kaapse intellektuele sal aanstaan. ’n Mens slaak saam met die outeur ’n sug van diepe verligting.

Profile photo of crito

by crito

Die groot spook

Mei 6, 2015 in Uncategorized

Riaan Eksteen bespreek Geheime revolusie: Memoires van ’n spioenbaas, deur Niel Barnard, met Tobie Wiese. (Netwerk24)
Leopold Scholtz resenseer Geheime revolusie: Memoires van ’n spioenbaas, deur Niel Barnard, met Tobie Wiese. (Rapport Boeke)
Piet Croucamp se bespreking van hierdie boek het skynbaar ’n sensitiewe saak aangeraak. Riaan Eksteen bevestig nie alleen alles wat Croucamp oor Barnard sê nie, hy neem dit selfs verder. Daar kan nou geen twyfel meer wees nie dat diegene wat dit met Barnard te doene gehad het, diep onder die indruk gekom het van sy narsisme. Lees mens Leopold Scholtz se bespreking, val dit op dat hy die boek en nie die man nie resenseer. Hy respekteer Barnard vir sy rol in die geskiedenis, en maak dit glad nie sy saak om, soos al in ’n ander verband oor veel groter figure geskryf is, aan te toon dat “he may have been a genius, but the man was a failure as a human being”. Die neerslag van hierdie drie resensies is interessant, veral as mens jou afvra of die besprekings voldoen aan dit wat mens van ’n resensent in ’n koerant verwag, naamlik om ’n persoonlike reaksie op ’n publikasie te gee waaraan ’n mens jou eie aanklank of behoefte aan besitting kan peil. Croucamp en Eksteen sorg sekerlik vir meer onderhoudende leesstof, terwyl Scholtz die behoeftes van ewewigtge geskiedskrywing vooropstel. Waar lê die waarheid? Sekerlik sou mens kan aanneem dat iemand wat sy rol in die verloop van ’n land se transformasie só hoog aanslaan dat hy sy herinneringe in twee bande groepeer, ’n sterk skoot selfbewondering onder lede het. Diegene wat al in die jare tagtig verstand gehad het, sal ernstige voorbehoude hê oor enigiemand wat, soos Barnard, die Rubicon-toespraak en sy impak met ’n enkele opmerking wegpak. Het ons nie nou genoeg gehad van die destydse maghebbers wat vrome praatjies maak oor die ellende waarin hulle ons land en sy mense gedompel het deur hul stiksienigheid nie?

Joan Hambidge resenseer Die stilte opgeskort, deur Heilna du Plooy. (Rapport Boeke)
Ek kry dikwels die gevoel dat die twee Afrikaanse boekeblaaie té veel aandag aan nuwe digbundels bestee. Wanneer Joan Hambidge ’n bundel soos hierdie bespreek, wens ek weer dat sy meer ruimte toegelaat is. Die resensie is voortreflik, maar ek sou haar graag verder wou sien delf. En buiten die plesier wat haar woordeskat bring (vgl “verloedering”) is daar ander formulerings wat ek bewonder. Pikant ook die een verwysing na André Brink se Anderkant die stilte.

Helen Schöer skryf oor Katerina se mojo,, deur Kristel Loots. (Boeke24)
Oorvertel is nie resenseer nie, dit weet ons wel. Maar ek moet sê, ek hou van Helen Schöer se trant, van die manier waarop sy oorvertel. Dit verklap iets oor die aanklank wat Loots se verhaal by die leser het, dat dit ’n lekkerlees-boek is.

Marius Crous resenseer Narokkong, deur Riël Franzen. (Boeke24)
Crous se resensie dawer nie, maar daar is begrip en waardering vir die digkuns van Riël Franzen.