Jy blaai in die argief vir 2015 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Loopgrawe en onderrokke

Maart 23, 2015 in Uncategorized

Lona Gericke skryf oor Chuck Norris kan deel deur nul, deur Annelie Ferreira, Uit, deur Fanie Viljoen, Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, deur Eric-Emmanuel Schmitt,  Moord per suurlemoen, deur Jelleke Wierenga, Bennie Boekwurm vertel lekker stories, deur Louise Smit. (Rapport Boeke)
’n Boekhandelaar vertel my by die Woordfees op Stellenbosch dat die eerste loopgraaf waaruit daar vir Afrikaans geveg word, dié van jeug- en kinderlektuur is. Dis daardie ou opvatting dat as kinders nie vroeg al ’n liefde vir boeke verkry nie, hulle nooit as volwassenes lesers sal word nie. Lona Gericke doen met hierdie vyf resensies haar deel vanuit daardie voorste loopgraaf. Op die oog af lyk dit of Gericke ’n beginselbesluit geneem het oor die manier waarop sy die resensies aangepak het. Sy moes besluit wie haar lesers is, en verstaanbaar, meen ek, het sy gemeen dit sal ouers eerder as jong lesers wees, heel prakties. Om dié rede is haar hele aanpak van só ’n aard dat mens in elke geval ’n idee van inhoud kry, asook van die vaardigheid van die skrywer. Die ouer kan dan self besluit of dit die soort boek is wat tot sy/haar kind sal spreek. Al wat ek mis by dié resensies is ’n aanduiding vir die ouers oor die beskikbaarheid van die boeke as e-boeke. Alles goed en wel? Kan enigiemand gerus wees as dit as vanselfsprekend aangeneem word dat kinders nie koerant lees nie?

Ilza Roggeband bespreek Stukke teater, deur Pieter-Dirk Uys. (Boeke24)
Roggeband fokus in haar resensie op Pieter-Dirk Uys se geskiedenis en hoe die vyf tekste wat in hierdie boek opgeneem is, bygedra het tot sy oeuvre. Goed en wel. Dit is sekerlik nie ’n slegte ding dat hierdie tekste beskikbaar bly nie, maar Roggeband is skynbaar onbewus van die problematiek rondom dramatekste: Wie lees dit? ’n Bloemlesing met dramatekste laat mens onmiddelik wonder of daar ’n prys van die SA Akademie na Pieter-Dirk Uys op pad is.

Marius Crous resenseer Oorsee, deur Tertius Kapp. (Boeke24)
’n Week later bevestig Marius Crous my vermoede – dit is weer vanjaar drama se beurt by die Hertzogprys. Crous bepaal hom meestal by die digkuns, maar die aanslag en gesag waarmee hy Oorsee benader, laat my dadelik voel hy moet meer dikwels oor ander genres as die poësie skryf. En vir Tertius Kapp, vir wie volvulling uiteindelik eers sal kom wanneer besprekings van die opvoering van Oorsee geplaas word naas hierdie resensie, is Crous se evaluering sekerlik van baie groot waarde. Baie dinge kan skeefloop met ’n opvoering, maar as die teks nie inhoudelik sterk is nie, beteken die opvoering nie baie nie. Crous weeg en vind Oorsee meer as voldoende.

Dewald Koen skryf oor Die potlooddief se bruid, deur Keina Swart. (Boeke24)
Vanjaar is die jaar van die rubriekskrywers, lyk dit my. Keina Swart is vir my ’n nuweling, en dis nie haar skuld nie – ek is net ’n baie sporadiese koerantleser en steek my neus nooit in tydskrifte nie. Dewald Koen se bespreking is gloeiend, maar ek is ’n bietjie skepties oor sy opmerking dat alle Suid-Afrikaners hulle met een van die mense in Swart se verhale sal kan vereenselwig. Almal? Hoe wyd reik Afrikaans?

Fransjohan Pretorius resenseer Rebelspoor, deur L.J. Bothma. (Boeke24)
Daar is nog baie mense wat belang stel in die geskiedenis van die Afrikaner. As mens kyk na al die twak wat die ver-regses op die sosiale media kwytraak oor die geskiedenis van die Afrikaner, soek ’n mens by ’n selfpublikasie soos hierdie ’n gesaghebbende mening om jou te oortuig dat die boek die koop en lees werd sal wees. Of nie. Fransjohan Pretorius is die ideale persoon vir dié taak, en sy bespreking is ook van so ’n aard dat mens dit net kan lees vir die inligting wat hy deurgee.

Martie Retief-Meiring bespreek Pruimtwak en skaduboksers, deur Danie Marais. (Rapport Boeke)
Een opmerking in hierdie baie positiewe resensie van Danie Marais se versameling rubrieke en essays trek onmiddelik die aandag. In die eerste paragraaf skryf Retief-Meiring dat die titel absoluut onaanvaarbaar is. Sy maak die opmerking, maar sê nie hoekom sy só negatief daaroor voel nie, en gaan onmiddellik voort om die bundel se goeie hoedanighede te bespreek. ’n Mens aanvaar alles wat sy sê, want as gesiene rubriekskrywer praat sy met gesag. Tog is dit daardie opmerking oor die titel wat bly smeek om ’n verduideliking, en wanneer dit wegbly, die indruk wek dat dit gewoon persoonlike smaak is wat daar praat.

Elmari Rautenbach resenseer Ikarus, deur Deon Meyer. (Rapport Boeke)
Resensies van Deon Meyer se romans is in baie opsigte “tasters”. Dit is noodsaaklike leesstof vir die ingewydes, wat ’n proeseltjie nodig het om te weet dat alles nog wel is met hul skrywer en dat die nuutste pennevrug op sy gebruiklike hoë peil is. Dit is ook vir diegene wat nu en dan ’n Meyer-boek sal opneem, of dit nog nooit gedoen het nie, ’n prikkel, ’n aanspreking – kyk, hier is waaroor dit gaan, wat keer jou? Elmari Rautenbach bevind haar in die aangename posisie dat dit eintlik nie nodig is om oor die gehalte van die skryfwerk te moet oordeel nie. Wat sy moet doen, is om haar twee lesersgehore iets te gee wat hulle end-uit sal lees, en dalk sal herlees, soos mens met resensies soos hierdie doen, vir implisiete leidrade wat die reeds bekeerdes daardie ekstra spoed boekwinkel-toe sal gee, en die ander sal laat wonder wat hulle mis. Rautenbach is ’n gesoute joernalis, en het haar resensie “verpak” met die wete dat sy ook moet oplet vir dinge wat ’n eietydse leser sal snap. Soos die verwysing na die kool-klankie in een karakter se kantoor, met net daarna die opklaring oor professor Tim. Dit is top-gehalte resensies soos hierdie wat lesers na ’n boekeblad lok.

Dineke Volschenk skryf oor Rewolusie van die hart, deur Adriana Falling. (Rapport Boeke)
Nog ’n ou hand in die boekewêreld, Dineke Volschenk, skryf oor ’n boek in ’n genre wat nie dikwels boekeblaaie haal nie: ’n Christelike roman. Ek wonder baie in watter rigting die letterkunde volgende gaan beweeg, en Volschenk se opmerking dat Christelike romans ook ’n plek in die letterkunde het, is daarom vir my opvallend. Ons het ’n lang pad gestap sedert C.M. van den Heever.

Riete Rust bespreek Pedale van papier, deur Rhona Scheepers. (Rapport Boeke)
Riette Rust teken dadelik aan hoekom Pedale op papier die aandag trek. Dis ’n debuutroman oor ’n kind wat deur ’n kerkman gemolesteer word. Rust skryf onderhoudend en begrypend, maar algaande begin mens vermoed dat haar moed eintlik in haar skoene is – weens swak redigering, taalfoute en uiteindelik iets onverwags, naamlik dat die geheel dweperig is. Dit laat my dadelik aan Dineke Volschenk se opmerking (hierbo) dink. Versigtig trap, Crito, dat jou onderrok nie uithang nie.

Profile photo of crito

by crito

Om van te glimlag

Maart 10, 2015 in Uncategorized

J.B. Roux skryf oor Van skoolbank tot bordeelbed, deur Jaco Hough-Coetzee en Elanie Kruger. (Boeke24)
Spreek J.B. Roux teen die einde: “’n Moontlike beswaar is die gr. 4-Afrikaans waarin die boek geskryf is.” Hoekom is dit so ’n aardige sin? Omdat dit verklap dat Roux bang is om kritiek uit te spreek teen die boek? Of omdat Roux dit gebruik as hewel vir ’n slotsin van lui en lui? As hy nie “moontlik” gebruik het nie, sou ek nie agterdogtig geword het nie. Snaaks hoe een woord ’n resensie se ewewig kan versteur.

Marius Crous resenseer drie titels van Mellet Moll: Heilige meetkunde; Swanesange; en Nalewe. (Boeke24)
Gee Marius Crous dit ter ere dat hy lankmoedig is, en dat hy nie Mellet Moll se digkuns-debuut as pseudo-digkuns gekategoriseer het en aanbeweeg het na iets minder pretensieus nie. Crous staan by talle dinge stil, maar uiteindelik besluit hy dat ’n bietjie meer selfkritiek aan die kant van die digter baie welkom sou gewees het. Had hy meer aangehaal uit die bundel, soos Joan Hambidge die vorige week in ’n resensie gedoen het, sou dit moontlik nie nodig gewees het om so netjies te formuleer aan sy uitsprake nie. En tog, dink ek sy besluit om te bespreek eerder as om te illustreer was die korrekte een. Dit is regverdig teenoor die digter en sy uitgewer, wat sekerlik groot verwagtings van die drie bundels koester – groot genoeg om die drie gelyktydig te publiseer. En dit gee hom die kans om besinnend na sy slotsom op te bou.

Herman Lategan resenseer Pruimtwak & skaduboksers, deur Danie Marais. (Boeke24)
Danie Marais glimlag seker breër as gewoonlik ná hy hierdie resensie gelees het. Tussen al die versigtigheid op die boekeblad klim Herman Lategan in en lewer een van daardie besprekings wat mens graag weer en weer wil lees. Marais se onderwerpe kom uit die verste hoeke van die kulturele uitspansel; Lategan geniet almal en besef dan dat daar een uitskieter in die ryke veelvoud van essays is, naamlik die denkbeeldige onderhoud met Peter Blum. Lategan se formulerings is oudergewoonte flink en fleurig. My gunsteling: “As jy hom sien, is sy glimlag soos ’n wegholveldbrand. Hy is so opgeruimd ek het al oorweeg om klasse by hom te loop.” Voer dié resensent met nuwe publikasies, meneer die boekeredakteur!

Marié Heese resenseer Verlore in stof, gegrond op die skilderyereeks deur John Meyer, deur Amanda Botha. (Boeke24)
Dit is ’n sonderlinge gebeurtenis dat ’n skrywer gevra word om ’n boek te skep om ’n reeks van vyftien skilderye van John Meyer toe te lig; Amanda Botha het dié opdrag gekry en ’n boek geskep wat Marié Heese in alle opsigte laat voel dat dit die leser ryklik beloon. Daar is afbeeldings van die vyftien skilderye in die boek – wat die opskrif by die resensie ietwat misleidend maak. Ek voel ook dat vir’n bespreking soos hierdie dit amper verpligtend is om ten minste een van die skilderye af te druk by die resensie, sodat die leser geen twyfel kan hê van die kaliber werk wat hier ter sprake is nie.

Profile photo of crito

by crito

Tienie se glips

Maart 4, 2015 in Uncategorized

Tom Gouws resenseer Assignaat, deur Willem Krog. (Boeke24)

Ek kan Tom Gouws se verwondering verstaan – Willem Krog se digbundel is deur sy uitgewer, Tienie du Plessis, geknelter met die opmerking dat sy uitgewery, HOND, gedigte publiseer vir gewone lesers, eerder as vir resensente. Buiten dat só ’n opmerking nie besonder skrander is nie, nooi dit ’n ernstige resensent uit om die bundel behoorlik te meet, die rooi doek voor die bul. Gouws mors geen tyd nie. Wanneer hy uiteindelik toegee dat Du Plessis gelyk had, dit ís nie ’n bundel vir resensente nie, het hy ook uitgelig dat die bundel uiters onprofessioneel uitgegee is, met min leiding aan die digter, en skynbaar nog minder redaksionele ondersteuning. Kan dit dieselfde HOND wees wat jare gelede Breyten Breytenbach so keurig gepubliseer het?

Helen Schöer resenseer My groot vet Griekse egskeiding, deur Pat Stamatélos. (Boeke24)
Mens kry die gevoel dat Helen Schöer hierdie resensie in een paragraaf sou kon afhandel. Soms doen mens die skrywer ’n guns as jy dit wel só bondig doen.

Joan Hambidge resenseer Takelwerk, deur Daniel Hugo. (Rapport Boeke)
Soms deug Joan Hambidge se broksgewyse benadering tot digbundels, soms nie. In hierdie geval, waar sy die geleenteid benut om baie uit die bundel aan te haal, slaag haar benadering skitterend. Die leser ontwikkel begrip vir Hugo se digterskap, vir die inhoud van die bundel en dinge wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van sommige van die verse. Maar uiteindelik is dit Hugo wat praatkans kry, en sodoende maak Hambidge jou net nuuskieriger om die res van die bundel te lees. In hierdie dae waarin die oorvloed van Afrikaanse digbundels ’n baie klein stroompie van verkope afgee, vermoed ek sal Takelwerk veel beter vaar as wat ’n indringende akademiese bespreking tot gevolg sou gehad het.