Jy blaai in die argief vir 2015 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Die gawe van die twee oë

Februarie 25, 2015 in Uncategorized

Koos Kombuis skryf oor Tant Pompie se oorlog, deur Deon Lamprecht. (Boeke24)
Ek lees altyd lekker aan meneer Kombuis se resensies. Hy het die gawe van die twee oë – een met ’n vonkel van humor, die ander effe blink van meegevoel met sy naaste. Mens tref dit dan ook mild aan in hierdie resensie. Aanvanklik effens stuurs, op ’n afstand. Maar dan begin die mense hom aanspreek, sien hy die fyner nuanses van Lamprecht se vertelling raak, en sleep hy jou as resensent die problematiek binne. Wat hy van die boek maak, is uiteindelik ewe interessant. Hy sien in dat die destydse grensoorlog nie veel verskil van die plattelandse lewe in hedendaagse Suid-Afrika nie. Dis ’n groot mondvol, en hy is as resensent bedrewe genoeg om jou ten volle te oortuig. En nog nuuskierigheid vir die boek self oor te hou.

Erika de Beer skryf oor Liefde in die kwepertyd, deur Dot Serfontein. (Boeke24)
Normaalweg skenk ek nie veel aandag aan resensies van heruitgawes nie, maar Erika de Beer s’n van Liefde in die kwepertyd verdien vermelding. Sy stel pertinente vrae oor die redes vir dié publikasie, tereg so, omdat sy gevind het dat die keiserin kaal staan. Hopelik sal haar laaste vraag aan die uitgewer nie onbeantwoord bly nie. Miskien moet die resensente van ander heruitgawes ’n blad uit De Beer se boek neem.

Riaan Grobler skryf oor Sonde van Lusinda, deur Anton Schoombee. (Rapport Boeke)
Mens moet rats wees om ’n beoorlike tong-in-die-kies resensie te skryf. Die gevaar is altyd dat jy nie die tong sy gewone werk ook laat doen nie. Riaan Grobler het hier sy humorskote netjies gekies, en trek dan terug om die nugter kritiek voort te sit. Maar hy gee elke nou en dan toe aan die versoeking – as mens oor seks in literatuur skryf, is dit feitlik onmoontlik om die versoeking van dubbelsinnighede en woordspelings te vermy. Grobler vind plek om die boek te weeg en sy swakhede uit te pluis, naas die sterker elemente. En dan sluit hy met ’n finale baldadigheid.

Profile photo of crito

by crito

Soetkoek

Februarie 10, 2015 in Uncategorized

Fransjohan Pretorius skryf oor Die kuns van oorlewing, deur Alexander Kok. (Boeke24)
Ek skryf nie oor resensies van vertalings nie, maar vermeld hierdie een graag as voorbeeld van ’n gedugte resensent wat wys hoe mens op ’n mooi manier nie alles vir soetkoek opvreet nie.Pretorius praat reguit, en bewys ons almal ‘n groot guns.

Ilza Roggeband skryf oor Moord per suurlemoen, deur Jeleke Wierenga. (Boeke24)
Dialoog so vinnig soos Dale Steyn? Die regte opskrif vir ’n resensie wat soos blits lees totdat jy by die Dale Steyn-verwysing kom. Goeie vermaak.

Pieter Kapp skryf oor Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die patriotjare, deur J.C. Steyn. (Rapport Boeke)
Ek kry die prentjie – hierdie is nog een van die werke van groot belang en omvang deur Jaap Steyn. Maar presies watse boek is dit? Naaslaanwerk? Kwasi-ensiklopedie? Feitegids? Argumenterende essays? ’n Bietjie té wollerig na my sin.

Profile photo of crito

by crito

Op ‘n galop

Februarie 4, 2015 in Uncategorized

Helen Schöer skryf oor eMajuba, deur Dawie Louw. (Boeke24)
En toe raak haar hartjie sag. Helen Schöer begin met die swaar agenda wat Dawie Louw in die roman inbou, en waarmee sy, lei ek af, nie noodwendig saamstem nie. Mens begin al ’n beeld kry van dit waarmee mens te doene gaan kry. Maar sodra sy gesê het die dialoog is lomp, besef sy dat sy eintlik geboei was deur die lees (buite die politiek om, blyk dit). Van sommige elemente in die roman hou sy soveel dat  sy vra dat hy volgende keer meer daarvan moet gee. Ek’s ’n bietjie deurmekaar gelees aan hierdie resensie.

Melt Myburgh skryf oor Kruispad, deur Deon Opperman. (Boeke24)
Melt Myburgh skryf met meer sekerheid as Helen Schöer – doelgerig, as jy dit só wil noem. Dis ’n groots opgesette roman (Kerneels Breytenbach se omskakeling van die teks van Opperman se TV-reeks na prosa) waarin Opperman ’n breë oorsig probeer gee het van die Afrikaner se reaksie op die veranderinge wat hom in 1994 en daarna getref het. Myburgh bly in beheer van die taksering van inhoud en hoe dit die sprong na ’n ander genre oorleef, en uiteindelik vind hy wil dinge wat hom hinder. Vir die student van resensies is dit insiggewend om Myburgh se aanslag met dié van Schöer te vergelyk.

Herman Lategan skryf oor Kruispad, deur Deon Opperman. (Rapport Boeke)
Waar Melt Myburgh nog ’n neutrale afstand tussen resensent en boek inbou in sy resensie oor Kruispad, het Herman Lategan die lees duidelik dermate geniet dat hy die boek op ’n manier beskryf wat die skrywers sekerlik besonder goed laat voel. Hy sê die skrywers “voer n pas de deux” uit wat hom na sy asem laat snak het. “Hier het ons twee storievertellers se geoefende stemme wat soos ’n duo alchemisties saamsmelt om ’n hoogs pakkende, boeiende duet te vorm”. En dan swaai hy sy resensie vernuftig om ten einde kritiek deur ’n ander resensent te beantwoord. Lategan bou dus wigte en teenwigte in sy resensie in – sy geesdrif vir die roman het as teenpool opmerkings oor die eendimensionaliteit van sommige van die karakters. Sy kritiek op genoemde ander resensent wat Donkerland ’n sepieroman genoem het word aangevul deur ’n omskrywing van inhoud, tematiek en sterk punte. En sy gebruik van een woord, “parvenu” (om ’n karakter te beskryf), was genoeg om my weerstand teen ’n werk soos hierdie af te breek. Daar’s ’n ou spreekwoord wat lui dat die parvenu altyd iemand anders is, en nou wil ek dit gaan toets.

Herman Lategan skryf oor Sonde van Lucinda, deur Anton Schoombee. (LitNet)
Teen die tyd dat ek hier by Lategan se laaste woorde gekom het, het ek eers sy Kruispad-resensie gaan herlees. En toe weer hierdie een. Herman Lategan is, wanneer hy van ’n boek hou, iemand wat ’n koerantredakteur se droom is, en sowel uitgewer as skrywer trots sal laat voel op die taalvlug wat hulle by Lategan ontlok het. Sy negatiewe resensies is goed, ongemaklik goed; sy positiewe resensies is eenvoudig skitterend. Enige ervare resensent sal weet dat dit makliker is om ’n negatiewe reaksie te verwoord as ’n positiewe een. Maar om onverskrokke positief te reageer, en te skryf op ’n manier wat laat blyk dat jy dit geniet het om die resensie te skryf – dít is ’n moeilike taak. Lategan gee inligting én dui die dinge wat vir lesers problematies kan word aan: “Die skrywer handhaaf ’n fyn balans tussen ’n wilde dierlike genaai waar die sop spat en ’n meer intieme, liefdevolle seksuele genuanseerdeheid. Wees tog voorbereid: al is hierdie katoolse sekseskapades goed en genotvol geskryf, is daar ook duister oomblikke gekenmerk deur onheilspellende sekstonele wat jou hoogs ongemaklik gaan laat voel, juis omdat baie lesers (behalwe psigopate) sal voel die mure tussen wat aanvaarbaar is en wat vinnig onaanvaarbaar kan raak (met alle seks, ook buite die blaaie van hierdie boek), baie dun is en dit gevaarlik maklik is om deur daardie skanse te breek.” Ander kere gee hy hom oor aan die soort woordkeuses wat dit vir hom moontlik maak om stilisties ’n suggestie te plant oor die soort taal-argitektuur wat jy in die boek onder bespreking mag aantref: “Dis die meedoënlose maanlandskap van die mensgemaakte lewelose waterfront, Jip de Jager- en Durbanweg-afrit, lang boulevards van rook en roet, groot rollende grasperke, skuldbult (ook die metaforiese knop voor in die hoofkarakter se broek) en die verskiklike deprimerende Tygervallei-sentrum met sy flikkerende, folterende neonlighel wat almal na kadawers laat lyk.” Sy beskrywing van die een vroulike hoofkarakter is weergaloos: “Ja-nee, iemand se kaiings gaan uitbraai, en die gode moes toe reeds “Götterdämmerung” in sy of haar ore gefluister het, maar hulle het nie. Sy is 20, sonder matriek, kamma ’n model, en net lus vir een ding: fornikeer, kafoefel; sy wil die slang van sonde in haar voel spoeg. Sý koperkapel is wat sy wil uitruik. Die boek beweeg vinnig, die tempo vat jou op ’n galop soos die skarniere van ’n ou katel wat vinnig kraak.“ Vermoedelik het die vryheid wat die Internet mens bied, Lategan laat voel dat hy maar kan laat waai. Moontlik sou hy nie ’n resensie vir ’n papier-medium op dieselfde manier aangepak het nie. Hoe ook al, só kan dit gedoen word.