Jy blaai in die argief vir 2015 Januarie.

Profile photo of crito

by crito

Verslaggerig

Januarie 27, 2015 in Uncategorized

Nicole Jaekel Strauss skryf oor Nuwe Stories 3, saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Letti Kleyn. (Boeke24)
Dis die eerste boekresensie wat ek vanjaar gelees het. Sal nie dadelik die vreugdevure aansteek nie, maar dit is darem verblydend om te verneem presies hóé die Afrikaanse kortkuns gestimuleer word. Daar is iets verslaggerigs aan die resensie; dit is duidelik dat die wenverhaal genoeg om die lyf het om as kapstok vir die hele resensie te dien – sou die resensie nie veel interessanter gewees het as Strauss meer aandag daaraan gegee het nie?

Riëtte Grobler skryf oor Die engel rook skelm, deur Kristel Loots. (Boeke24)
Daar is heelwat lekkerlees-oomblikke, sê Grobler. Dit is ook die tipe boek, sê Grobler, waarvan ’n mens soms ’n paragraaf wil oorslaan. Figureer dit self uit.

Joan Hambidge skryf oor Nomade, deur Johann Lodewyk Marais. (Boeke24)
Een digter met ’n liefde vir reis bespreek ’n ander digter se reisbundel. Dit lewer ’n baie leesbare resensie. Wat my wel laat regop sit het, is iets wat met die resensie niks te make het nie, en waaroor Hambidge tereg niks sê nie. Hoekom verskyn die bundel nie by ’n hoofstroom poësie-uitgewer soos Protea nie? Hoekom het Marais hom gewend tot ’n trust wat die publikasie deur die pos bemark? Ek is seker alle jong digters neem kennis hiervan – Johann Lodewyk Marais is immers ’n gevestigde digter.

Jean Oosthuizen skryf oor Terug na die Ou Testament, deur Adrio König. (Rapport Boeke)
Jean Oosthuizen moet ’n baie kalm mens wees. Adrio König seker ook. Ek twyfel of ek die boek ooit sal lees, maar ek is baie bly daar is mense soos König wat so baie tyd afstaan aan die stryd om gesonde verstand te laat oorleef.

Herman Lategan skryf oor Die vierde stem, deur Francois Bloemhof. (Rapport Boeke)
Is ’n gevestigde skrywer al ooit op ’n meer simpatieke manier vasgevat as wat Herman Lategan hier met Francois Bloemhof doen? Lategan skryf ’n argumenterende resensie, een waarin hy die goeie hoedanighede van die boek in ag neem, maar uiteindelik kan hy nie meer terughou nie, en spreek hy Bloemhof sterk aan: “Tyd vir sokkies optrek.” Ek kan nie wag om te sien hoe Bloemhof daarop reageer nie – dit sal waarskynlik ’n bliksem van ’n roman wees …