Jy blaai in die argief vir 2014 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Gedigte sonder prentjies

Desember 9, 2014 in Uncategorized

Rudolf Stehle resenseer Leiboom, deur Eunice Basson. (Boeke24)
Stehle kwyt hom betreklik goed van sy taak, maar hy wek ook soveel vrae dat ek nie weet waar om te begin nie. Mens aanvaar graag sy oordeel dat dit ’n indrukwekkende debuut is. Ook sy waarneming dat dit ’n digkuns van onderbeklemtoning is. Maar hoe maak mens met sy aanduiding dat die taalgebruik in ’n formele register is en dat die digter haar van argaëse woorde bedien? Sulke stellings vereis stawing, veral in die digkuns, waar taalargaïsmes ’n spesifieke funksie kan hê. Het hy dit raakgesien, elkeen geweeg en onfunksioneel bevind? Dan vind hy sekere verse bloot beskrywend sonder wending of insig in die slot. Nou, wat van die moontlikheid dat die hele gedig die insig is? Verderaan meen hy dat ’n gedig soos “Butcher Boys” meer impak sou hê as dit ’n afbeelding van Jane Alexander se bekende kunswerk naas die gedig gehad het. Interessante gedagte ja, maar is die gedagte dan nie juis dat die gedig die essensie van die kunswerk moet probeer vasvang nie? Of ten minste die digter se reaksie daarop nie? En wat beteken só ’n versoek vir die talryke gedigte wat deur die jare oor skilderye geskryf is sonder dat afbeeldings van die skilderye daarnaas nodig was? In die breë is Stehle se resensie sekerlik geldig. As dit sy bedoeling was om die leser te laat reageer, te toets hoe onderlê sy lesers is in die beginsels rondom die beeldende kunste waar dit met die woordkuns paaie kruis, dan het hy wel deeglik in sy oogmerke geslaag.

Rian Malan resenseer Buys, deur Willem Anker. (Rapport Boeke)
Die idee om iemand wat al ’n liedjie oor Coenraad de Buys geskryf het te kry om Willem Anker se roman te resenseer, getuig van vindingrykeid; dat daardie persoon Rian Malan is, is ’n buitengewone bonus. ’n Gesoute joernalis soos hy weet dat dit nie deug om ’n resensie met woorde vol te prop deur die verhaal te presiseer nie. En tog doen hy dit, wys hoe dit gedoen kan word én al die kritiek inbou wat jy wil, naas die verwysingspunte. Naas sy plasing van die historiese gegewe, en sy reaksie op Anker se benutting daarvan, gee hy een ander stukkie inligting wat meeste lesers dadelik sal laat aandag gee – hy plaas die roman as Afrikaanse ekwivalent van Cormac McCarthy se werk. Vir my is dit van die allergrootste belang – dit is die soort verwysing wat my gewoonlik die hand in die sak sal laat steek om die boek te koop. Miskien sal dit Anker self ’n bietjie senuagtig stem.

Jacomien van Niekerk resenseer Mede-wete, deur Antjie Krog. (Rapport Boeke)
Ek is al jare lank ’n bewonderaar van Antjie Krog. Ek het na haar gaan luister toe sy onlangs op ons dorp voorgelees het uit Mede-wete, en die eerste gedagte wat by my opgekom het, was hoe die kritici daarop sou reageer. Dit stel groot eise. Jacomien van Niekerk stel nie teleur nie. Dit is nie dat sy positief ingestelde lesers soos ek na die mond praat nie. Wat sy wel doen, is om aan toekomstige lesers van hierdie bundel te wys waar die wegspringblokke is. Nadat ek die koerant gekoop het waarin dié bespreking verskyn, het ek Van Niekerk se rigtingwysers gevolg. Hoogs bevredigend, dié oopvou van ’n bundel. Dankie daarvoor.