by

Fenomeen

November 4, 2014 in Uncategorized

Francois Smith resenseer Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Francois Smith is ’n skrywer en uitgewersredakteur. Dit is opmerkik dat hy daaraan gedink het dat mense wat sy resensie so op die Sondag gaan lees, waarskynlik ’n behoefte het aan ’n vorm van leesvermaak ná die politiek en sport. Sy hele resensie is gemik op twee dinge. Eers wil hy seker maak dat jy verstaan, Binnekring van spookasems is die moeite werd om te lees. En dít wil hy regkry deur jou  nuusierig te maak oor die mens agter die boek, en die wêreld waarin hy hom bevind. Dis ’n resensie met struktuur: Geleidelike aanloop en uiteindelik ’n klimaks van pragtige beskrywings. Luister net na die laaste twee paragrawe:
“Dit is die tyd toe sy ma nog Vrydagaande saam met vriendinne in die Ritz Plaza in Seepunt gaan dans het, of in Raffles in die President-hotel op ’n vloer van glas waaronder ligte in elke kleur van die reënboog geflits het. Dit is die era wat in sy gemoed bly gloei soos ’n konka onder ’n oorbrug. Later sou sy pa hom op die Kaapse stasie gaan aflaai om by sy ma en sy nuwe stiefpa op ’n plaas naby Lutzville te gaan kuier. Sy pa met sy swart Elvis Presley-leerbaadjie, stywe jeans, Aviator-sonbril, roetswart Brylcream-hare wat agtertoe gekam is, Gunston-sigaret in die mond. In Lutzville wag sy boheemse ma met haar heuningblonde hare wat ’n krul op elke skouer maak, ’n wilde groen lig in haar oë.
“Dit is die tog wat Herman Lategan se wandeltogte onderlê, hierdie skreiende hunkering van ’n jong seun onderweg tussen sy ma en pa. En dit is ironies genoeg die bron van die onweerstaanbare sjarme van sy skryfwerk.”
Ag, daardie gloeiende konka onder oorbrug – en die wilde groen lig in die boheemse ma se oë. Smith weet presies wat dit is wat in mens se gedagtes bly beier. Later vandag koop ek dié boek, en gaan soek na hierdie resonerende dinge.

Dineke Volschenk resenseer Vermis op Allesverloren, deur Anchien Troskie. (Rapport Boeke)
Volschenk loop ’n draai met haar bespreking. Eers die verhaal, dan die dinge waaraan dit haar laat dink, by wyse van aanknoping, om alles te begryp. Moontlik gee sy alles vir ons op een medisynelepel, maar ek dink Anchien Troskie glimlag baie breed oor die finale taksering van haar as een van die voorste eietydse Afrikaanse skrywers.

Ilse Salzwedel resenseer Vermis op Allesverloren, deur Anchien Troskie. (Boeke24)
Al ooit jouself afgevra wat presies in ’n spesifieke resensie jou laat besluit het om die boek tekoop en te lees? Ná Dineke Volschenk se resensie het ek Salzwedel s’n stip deurgelees, en dadelik die snellers raakgesien: “Vermis op Allesverloren is ’n misleidende boek.” ’n Sin soos: “Aanvanklik dink die leser dis ’n doodgewone speurverhaal, maar mettertyd word jy op ’n klomp kronkelpaadjies die verlede in geneem.” En: “anderste speurroman”. En: “Verhaal met vele lae.” So maklik soos dít.

Nico Geldenhuys resenseer Vermis op Allesverloren, deur Anchien Troskie. (Boeke24)
Iets wat Ilse Salzwedel glad nie gehinder het nie, haar trouens toegeneë tot die roman laat voel het, is vir Nico Geldenhuys die roman se groot swakheid: Die karakters is karikature en heeltemal eendimensioneel. Die probleem met die resensie is dat Geldenhuys dadelik laat blyk dat hy hierdie roman as plaasroman beskou en daarom het hy sekere verwagtinge. Vergeet maar hoe sy reaksie op Agaat sou wees, maar hier is hy dadelik negatief gestem omdat hy voel die tematiek is holruggery. Bes moontlik is daar ’n geldigheid in sommige van sy opmerkings (Salzwedel stem met hom saam oor die bekendheid van die karakters), maar die feit dat hy vooraf besluit het wat hy te wagte kan wees, en die roman daarvolgens beoordeel het, maak hierdie resensie minder oortuigend as dié van Salzwedel en Volschenk.

Rudie van Rensburg resenseer Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (Boeke24)
Dit begin nou vir my duidelik word dat Herman Lategan ’n fenomeen is. Nes Pieter-Dirk Uys, Gus Silber en Robert Kirby in ’n spesifieke tydsgewrig beskou is as die gewetes van hul era, só is Lategan die stem van ons tyd – ’n reuse teenwoordigheid op Facebook, ’n kersopsteker vir die siel in elke papier-publikasie waarvoor hy skryf. Hy is die segsman van die gatvolles, die siniese apologeet vir goeie smaak en een van die mense wat nog aggressief veg vir die sinvolle gebruik van Afrikaans. En hy is kampvegter vir almal wat deur die lewe ’n vuishou op die krop van die maag gekry het. Rudie van Rensburg se resensie probeer ’n idee gee van die flambojantheid van Lategan se taalgebruik, en slaag daarin. Hy probeer ook wys hoe Lategan se simpatie met mense die leser se hart raak. “Gewoonlik lees ek dié soort bundels rustig, ’n stukkie elke aand. Maar Lategan s’n het ek in twee sessies verslind.” Hy kon die resensie net dáár afgesluit het, maar hy gebruik die ruimte wat aan hom toegedeel is om absoluut seker te maak dat hierdie boek ’n groot gehoor gaan vind. Dis ’n knap bespreking, met genoeg inligting vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie om ook te kan saamgesels.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.