Jy blaai in die argief vir 2014 November.

Profile photo of crito

by crito

Eenders, dog anders

November 26, 2014 in Uncategorized

Deborah Steinmair (Rapport Boeke) en Dewald Koen (Boeke24) resenseer Ester, deur Kerneels Breytenbach.
Wanneer mens twee hoogs uiteenlopende reaksies op ’n boek kry, veral wanneer die evaluering uiteindelik min of meer dieselfde is, is dit vir die student in die resepsiologie baie insiggewend om ’n vergelyking te maak van die twee besprekings. Hoe verskil die retoriek? Hoe benader hulle die leser, watter aannames is implisiet in die aanbieding? Die vernaamste verskil tussen hierdie twee resensies is dat Steinmair haar resensie rig tot mense wat belang stel in Afrikaanse boeke. Sy praat nie op of af nie. Sy probeer haar opwinding en geesdrif deel sonder om te verval in ’n oorbeklemtoning. Die resultaat is taamlik oorweldigend. Koen se aanslag is positief, maar merkbaar meer gedemp in toon as Seinmair s’n. Sy resensie is meer in die trant van ’n lesing geskryf, begeleiding en lering vir die student miskien, en soms met ’n element van patronisering in sy opmerkings. Ek glo egter nie die skrywer sal ongelukkig wees daarmee nie; Koen se resensie is bedag geskryf, en nes Steinmair dra hy sorg om nie die geheime van Breytenbach se roman uit te lap nie. Ja, “spoiler alerts” het ’n oorweging geword.

Jean Oosthuizen resenseer Ontvang wat vir jou gegee is, deur Coenie Burger en Andries Cilliers. (Boeke24)
Ek betrap my soms dat ek uitsien na Jean Oosthuizen se resensies. Hierdie ene kom kort op die hakke van een van my vriendinne wat haar in die ouderdom van 62 laat grootdoop het. Dit het intense gesprekke afgegee. Oosthuizen se resensie van hierdie boek is nog ’n goeie onderdeel in die groeiende korpus van sy betragtings oor sake van dogma aan die hand van nuwe publikaies. Ek twyfel of ek die boek sal lees, maar Oosthuizen se kontekstualisering oor geloofsake rondom die doop druk op al die regte punte.

Susan Smith resenseer Fragmente uit die Ilias, vertaal deur Cas Vos. (Boeke24)
Hierdie resensie sal minder sports afgee as ’n onlangse een op Versindaba, en dit is deels toe te skryf aan Susan Smith se skerp fokus op die onderwerp. Dit sal moeilik wees om ’n wig hier in te slaan. Sy sou moontlik opmerkings soos “ondanks die hedendaagse toonaard, doen die digter die klassieke, onverganklike waarde van die oorspronklike teks gestand” kon illustreer met ’n aanhaling of twee – ’n mens voel eintlik dat sy op talle pleke aanhalings kon gebruik het, want die paar wat sy wel plaas, maak ’n mens baie nuuskierig vir die res. In dié opsig vermag Smith dan presies wat ’n mens hoop sy sou doen, naamlik om ’n koerantleser te laat besluit hy het genoeg rede om no die boek in die hand te neem.

Riëtte Grobler resenseer Ewebeeld, deur Chanette Paul. (Boeke24)
Net wanneer dit begin voel of dié resensie jou aandag gaan verloor, spring daar ’n beskrywing na vore wat jou wakker ruk: “Daar is ook JoJo, die vlymskerp navorser cum private speurder ­van Benoni wat lief is vir haar Southern Comfort …” Hè? Is Benoni dan nie campari-wêreld nie? Wat soek die soetlike Southern Comfort dáár? Gaaf. Ek’s wakker.

Profile photo of crito

by crito

Monumente en dinge

November 18, 2014 in Uncategorized

Herman Lategan skryf oor Die helder dae, deur Danie Botha. (Netwerk24)
Hoe skryf mens or die boek van jou oud-Sondagskoolonderwyser? Herman Lategan bieg dadelik dat dít is wat an die gang is. En hy sê reguit hoekom hy nie aanklank vind by die essays wat as rubrieke in die Kerbode verskyn het nie. Vir die res weet mens, omdat Lategan nie die soort mens is wat doekies omdraai nie, dat dit ’n onderhoudende, interessante bundel is. Ek dink die vriendskap sal hou.

Joan Hambidge bespreek Papegaaislaai, deur Theunis Engelbrecht. (Netwerk24)
Terwyl musiek ter sprake is: Joan Hambidge resenseer Papegaaislaai iewers tussen pianissimo  en sotto voce, voet swaar op die linkerpedaal.

Gilbert Gibson resenseer Al die lieflike dade, deur Charl-Pierre Naudé. (Netwerk24)
Kyk op terwyl jy lees, doer bo, dáár gaan Gilbert Gibson se resensie verby. Hy woel met woorde om sy reaksie vas te vang én die digkuns te beskryf. Werk nie vir my nie, ek’s jammer. Ek moes dit oor en oor lees om te verstaan. Dalk sou Versindaba se mense gemakliker toegang tot só ’n resensie vind; ek twyfel of gewone koerantlesers, selfs diegene met ’n belangstelling in die digkuns, gemaklik gevoel het by die lees van hierdie bespreking.

Helen Schöer skryf oor Stiletto’s van staal, deur Bernette Bergenthuin. (Netwerk24)
Wat ’n lekker resensie tot voor die laaste paragraaf. In daardie stadium werp Schöer haar kappie op die grond neer en sien ons haar daar staan, ’n volksmoeder wat die mense se sedes wil beskerm en dit goed vind dat hierdie boek “skoon” is van seks. Op jou bicycle, antie, en vat die pad.

Daniel Hugo resenseer Ons gaan ’n taal maak, deur J.C. Steyn. (Netwerk24)
’n Resensent soos Daniel Hugo weet seker voor sy siel dat daar mense is, soos ek, wat sekere soorte boeke doodgewoon vermy omdat die onderwerp nie vir hulle interessant is nie. Dit neem fynskryf om my te laat aanhou lees. En dit verg stip formulerings om my uiteindelik te laat voel dat dit die moeite werd was om langs hierdie weg met Jaap Steyn se jongste kennis te maak. Hugo sê dis ’n monument van ’n boek. Tsja, neef. Ek is seker kameraad Blade hoop jy’t die woord monument doelbewus gebruik.

Profile photo of crito

by crito

Somme en krete

November 11, 2014 in Uncategorized

AJ Opperman skryf oor Stiletto’s van staal, deur Bernette Bergenthuin. (Boeke24)
Alles wat AJ Opperman van die boek en sy inhoud sê, laat my dink dat hy oorvriendelik is in sy slot.

Tom Gouws resenseer Al die lieflike dade, deur Charl-Pierre Naudé (Boeke24)
Kan ’n mens anders as regop sit sodra jy hierdie resensie gelees het? “Daar verskyn selde in enige taal só ’n digbundel,” eggo Tom Gouws die taksering wat André P. Brink van Ernst van Heerden se Die swart skip gemaak het. Teen die tyd wat Gouws dié woorde skryf, weet mens presies hoekom hierdie bundel een van daardie gaan wees wat in die jare wat kom, gereeld afgestof sal word vir verdere kopreise. Maar nou, voordat jy dit in die hande het, wil jy darem ten minste ’n paar reëls lees om Naudé self te kan weeg – en dan is daar te min aanhalings. Dit sal my nie afskrik nie, maar terwyl Gouws, self ’n digter, ons aandag het, kan hy gerus meer van Naudé se meesterskap ten toon stel om ons te oortuig van sy eie argument.

Thys Human resenseer Buys, deur Willem Anker. (Boeke24)
Ek weet nie hoe ’n rifrughond se ysingwekkende tjank klink nie, maar as Thys Human sê Willem Anker se Buys sal op dieselfde manier as daardie tjank by mens spook, dan moet dit ’n skitterende roman wees. Nie alle resensente kan ’n klinkende slotsin skryf nie, en Human herinner mens hoe ’n integrerende en noodsaaklike deel dit van die hele resensie is. As die betoog wat die voorafgaan sterk is, soos hier, dawer daardie slotsin, 100% in die kol. As die betoog vooraf flou en onseker is, sal dit onvanpas klink en jou laat wonder oor die resensent.

Rudolf Stehle resenseer Woorde roes in die water, deur Clinton V. du Plessis. (Boeke24)
Stehle is die tweede resensent wat die digter daarop wys dat hy ’n ekstra paar oë nodig het om na sy gedigte te kyk voordat hy hulle publiseer. Veertig van die 120 gedigte is onafgerond en kort nog werk. Niks anders wat hy in die resensie sê weeg swaarder as daardie sommetjie nie.

 

Profile photo of crito

by crito

Fenomeen

November 4, 2014 in Uncategorized

Francois Smith resenseer Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Francois Smith is ’n skrywer en uitgewersredakteur. Dit is opmerkik dat hy daaraan gedink het dat mense wat sy resensie so op die Sondag gaan lees, waarskynlik ’n behoefte het aan ’n vorm van leesvermaak ná die politiek en sport. Sy hele resensie is gemik op twee dinge. Eers wil hy seker maak dat jy verstaan, Binnekring van spookasems is die moeite werd om te lees. En dít wil hy regkry deur jou  nuusierig te maak oor die mens agter die boek, en die wêreld waarin hy hom bevind. Dis ’n resensie met struktuur: Geleidelike aanloop en uiteindelik ’n klimaks van pragtige beskrywings. Luister net na die laaste twee paragrawe:
“Dit is die tyd toe sy ma nog Vrydagaande saam met vriendinne in die Ritz Plaza in Seepunt gaan dans het, of in Raffles in die President-hotel op ’n vloer van glas waaronder ligte in elke kleur van die reënboog geflits het. Dit is die era wat in sy gemoed bly gloei soos ’n konka onder ’n oorbrug. Later sou sy pa hom op die Kaapse stasie gaan aflaai om by sy ma en sy nuwe stiefpa op ’n plaas naby Lutzville te gaan kuier. Sy pa met sy swart Elvis Presley-leerbaadjie, stywe jeans, Aviator-sonbril, roetswart Brylcream-hare wat agtertoe gekam is, Gunston-sigaret in die mond. In Lutzville wag sy boheemse ma met haar heuningblonde hare wat ’n krul op elke skouer maak, ’n wilde groen lig in haar oë.
“Dit is die tog wat Herman Lategan se wandeltogte onderlê, hierdie skreiende hunkering van ’n jong seun onderweg tussen sy ma en pa. En dit is ironies genoeg die bron van die onweerstaanbare sjarme van sy skryfwerk.”
Ag, daardie gloeiende konka onder oorbrug – en die wilde groen lig in die boheemse ma se oë. Smith weet presies wat dit is wat in mens se gedagtes bly beier. Later vandag koop ek dié boek, en gaan soek na hierdie resonerende dinge.

Dineke Volschenk resenseer Vermis op Allesverloren, deur Anchien Troskie. (Rapport Boeke)
Volschenk loop ’n draai met haar bespreking. Eers die verhaal, dan die dinge waaraan dit haar laat dink, by wyse van aanknoping, om alles te begryp. Moontlik gee sy alles vir ons op een medisynelepel, maar ek dink Anchien Troskie glimlag baie breed oor die finale taksering van haar as een van die voorste eietydse Afrikaanse skrywers.

Ilse Salzwedel resenseer Vermis op Allesverloren, deur Anchien Troskie. (Boeke24)
Al ooit jouself afgevra wat presies in ’n spesifieke resensie jou laat besluit het om die boek tekoop en te lees? Ná Dineke Volschenk se resensie het ek Salzwedel s’n stip deurgelees, en dadelik die snellers raakgesien: “Vermis op Allesverloren is ’n misleidende boek.” ’n Sin soos: “Aanvanklik dink die leser dis ’n doodgewone speurverhaal, maar mettertyd word jy op ’n klomp kronkelpaadjies die verlede in geneem.” En: “anderste speurroman”. En: “Verhaal met vele lae.” So maklik soos dít.

Nico Geldenhuys resenseer Vermis op Allesverloren, deur Anchien Troskie. (Boeke24)
Iets wat Ilse Salzwedel glad nie gehinder het nie, haar trouens toegeneë tot die roman laat voel het, is vir Nico Geldenhuys die roman se groot swakheid: Die karakters is karikature en heeltemal eendimensioneel. Die probleem met die resensie is dat Geldenhuys dadelik laat blyk dat hy hierdie roman as plaasroman beskou en daarom het hy sekere verwagtinge. Vergeet maar hoe sy reaksie op Agaat sou wees, maar hier is hy dadelik negatief gestem omdat hy voel die tematiek is holruggery. Bes moontlik is daar ’n geldigheid in sommige van sy opmerkings (Salzwedel stem met hom saam oor die bekendheid van die karakters), maar die feit dat hy vooraf besluit het wat hy te wagte kan wees, en die roman daarvolgens beoordeel het, maak hierdie resensie minder oortuigend as dié van Salzwedel en Volschenk.

Rudie van Rensburg resenseer Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (Boeke24)
Dit begin nou vir my duidelik word dat Herman Lategan ’n fenomeen is. Nes Pieter-Dirk Uys, Gus Silber en Robert Kirby in ’n spesifieke tydsgewrig beskou is as die gewetes van hul era, só is Lategan die stem van ons tyd – ’n reuse teenwoordigheid op Facebook, ’n kersopsteker vir die siel in elke papier-publikasie waarvoor hy skryf. Hy is die segsman van die gatvolles, die siniese apologeet vir goeie smaak en een van die mense wat nog aggressief veg vir die sinvolle gebruik van Afrikaans. En hy is kampvegter vir almal wat deur die lewe ’n vuishou op die krop van die maag gekry het. Rudie van Rensburg se resensie probeer ’n idee gee van die flambojantheid van Lategan se taalgebruik, en slaag daarin. Hy probeer ook wys hoe Lategan se simpatie met mense die leser se hart raak. “Gewoonlik lees ek dié soort bundels rustig, ’n stukkie elke aand. Maar Lategan s’n het ek in twee sessies verslind.” Hy kon die resensie net dáár afgesluit het, maar hy gebruik die ruimte wat aan hom toegedeel is om absoluut seker te maak dat hierdie boek ’n groot gehoor gaan vind. Dis ’n knap bespreking, met genoeg inligting vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie om ook te kan saamgesels.