Profile photo of crito

by

Dankie

Oktober 14, 2014 in Uncategorized

Paul Boekkooi en Cilliers van den Berg resenseer Nagmusiek, deur Stephanus Muller. (Boeke24)
Dikwels moet mens hoor dat Afrikaanse boekresensies hul spierkrag verloor het, dat dit òf ’n akademiese vitterigheid òf oppervlakkige bekooksel rondom die uitgewers se reklame-pamflette is. Met die veranderinge by Media24 se koerante en webwerwe het die vrees ontstaan, ook by my, dat die bydrae van boekresensies tot kulturele rekordhouding deur koerantredakteurs geringskat word, en dat daar geen behoefte meer by joernaliste is om ’n ruimte te skep, op die boekeblad, waarin die lesers van Afrikaanse boeke ’n meting kan vind van die intellektuele hoogvlugte van Afrikaanse skrywers nie. Twee swaeltjies, sekerlik, maar Paul Boekkooi en Cilliers van den Berg se resensies van Stephanus Muller se grensverskuiwende (soos Boekkooi dit tipeer),  magistrale ( volgens Van den Berg) Nagmusiek laat mens weer moed skep. Ek het albei besprekings met opgehoue asem gelees. Boekkooi en Van den Berg benader die publikasie uit verskillende rigtings. Elk pak hul betoog rustig uit – en albei het skynbaar uit die staanspoor besef dat elke woord sal tel, en dat die lof suiwer en sonder verbale neonligte oorgedra sal word. Die resultaat is twee resensies wat die Muller-publikasie waardig is, Boeke24 se peil dadelik omhoog druk – en mens sommer net trots en goed laat voel oor wat met sowel die drie dele van Muller se publikasie as dié twee resensies bereik is. Ek lig my hoed vir Paul Boekkooi en Cillers van den Berg en sê dankie aan die redakteur van Boek24, Jo Prins.

Louise Ferreira bespreek Die dooies leef, deur SD Fourie. (Boeke24)
Ferreira het vir SD Fourie die binnevet van die boud gegee, kom mens weldra agter. Die verhaal en inhoud is vir haar lekker genoeg om die strukturele tekortkominge van die roman minder belangrik te maak. ’n Resensie sonder kritiese funksie.

Jean Oosthuizen bespreek Waarom soveel Bybel-vertalings? deur Jan van der Watt. (Rapport Boeke)
Oosthuizen se bespreking lees plek-plek soos ’n reklamestuk en eers in die laaste paragraaf kom hy by die saak wat ’n resensieleser wil weet, naamlik watter Bybelvertalers is die swendelaars? Die onderwerp het soveel polemiese potensiaal, dat ek eintlik verbaas is hoe mak en versigtig Oosthuizen se bespreking is.

Dineke Volschenk bespreek Kersfees op Wonderfontein, deur Gerrit Olivier. (Rapport Boeke)
Vermoedelik het iets in die boek die oud-uitgewer Volschenk se hart sag gemaak. Die opsommende taksering waarmee sy die bespreking afsluit is ’n resensie in die kleine, en dui vir my daarop dat sy die boek ’n kans wou gee om moontlike lesers te vind voordat sy uitkom met die waarheid.

Joan Hambidge bespreek rock&roll.karoo, deur Koos Kombuis. (Rapport Boeke)
Hambidge in ligte luim sorg vir onderhoudende koerant-kopie. Maar ons kry die boodskap: Gaan verby tensy jy ’n bewonderaar van Koos Kombuis is.

1 antwoord op Dankie

  1. Dankie. Ons naïwe lesers laat ons soms aan die neus lei. Ek glo die skrywer moet weet as daar tekortkominge is. Sonder konstruktiewe terugvoer kan die skrywer nie verbeter nie. Ons weet almal uitgewers sien tekortkominge oor die hoof solank hulle glo dit is “wat die leser wil he” en hulle baie boeke kan verkoop.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.