Jy blaai in die argief vir 2014 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Briljant

Oktober 28, 2014 in Uncategorized

Koos Kombuis skryf oor Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (LitNet)
Dit is nie bedoel as resensie nie, maar Koos Kombuis se storie oor die uitwerking wat Herman Lategan se Binnekring van spookasems op hom gehad het, is een van daardie sonderlinge stukkies wat meer bereik as ’n formele bespreking van die boek. Nie almal kan dit doen nie, trouens selfs Koos Kombuis sal waarskynlik nie gou weer ’n reaksie op ’n boek kan skryf wat dieselfde impak het nie. Hy begin deur te vertel hoe die uitgewer hom genader het vir ’n “shout line” vir die omslag, en hoe hy toe uiteindelik die boek gelees het. En hoe sy lewe onmiddelik daardeur verander is. Dit is uit-die-kassie skryfwerk, dis flambojant en onheilig en illuminerend en aards. Dit is joernalistiek in die tradisie van Lester Bangs. Behoorlik beskou, vra mens jou af hoekom daar nie meer resensente is wat probeer om só eerlik te reageer nie. Nou weet mens ook dat dit harde werk is om iets te skryf wat so natuurlik en spontaan lyk, en dat ons hier aan die ontvangkant is van Koos Kombuis wat as  woordkunstenaar sy spiere span. Die punt is dat hy dit laat lyk soos die spontane uitstorting van emosie, en ons, die lesers, wil onmiddellik daardie boek hê wat hom só laat reageer het.

Charles Smith resenseer Van sprokie tot tragedie in die kollig, deur Ilse Salzwedel, en Die staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood, deur Marida Fitzpatrick. (Rapport-Boeke)
Nadat Suid-Afrika tot satwordens Oscar Pistorius se loutering in die hof meegemaak het op TV, in koerante, tydskryfte en via die kollektiewe regsbrein aktief in die sosiale media, word daar twee boeke oor dié smartlikheid in Afrikaans gepubliseer. Charles Smith se reaksie is presies wat enige nugter mens sou vra:  Wil enigiemand dit weer alles deur middel van ’n boek herleef en herkou? Veral noudat alles afgeloop het? Smith vind sy antwoorde al argumenterend, en besluit dat elke boek wel om spesifieke rede bestaansreg het – én die moeite werd is om te lees. Wat hy nie doen nie, en mens kan hom nie daarvoor verkwalik nie, is om vas te stel of enige van die twee boeke diegene sal aanspreek wat uit die staanspor besluit het om nie te veel andag aan Oscar en sy saak te gee nie. Miskien dui hy, by implikasie, aan dat Salzwedel se boek tot daardie mense sal spreek.

Deborah Steinmair bespreek Die respektabele Meneer Hartslief, deur Chris Karsten. (Rapport Boeke)
Hierdie resensie sal nie onthou word vir die netjiese aanloop wat Steinmair neem nie, maar wel vir die voorspraak wat sy maak, berustend op ’n logiese denkfout, vir stereotipering. Ek ken ’n paar mense in Brixton wat die resensent tot ander insigte sal bring. Nie Steinmair se grootste oomblik nie.

Dineke Volschenk resenseer Die stormsee swyg, deur Annemarie J. Pieterse. (Rapport Boeke)
’n Bespreking waaraan mens jou kan verkneukel. Wat Volschenk op baie beleefde wyse sê, is dat sy as oud-uitgewer wéét dat sy hierdie boek nooit sou uitgegee het nie.

Daniel Hugo skryf oor Woorde roes in die water, deur Clinton V. du Plessis. (Rapport Boeke)
Nou ja. Danie Hugo se bespreking maak my nuuskierig oor Du Plessis, ’n digter wat sy oeuvre in die teken laat staan van sy verset teen die keurslyf wat Afrikaanse uitgewers vir hom wou aantrek. En dan verdwyn daardie belangstelling ook weer wanneer Hugo daarop wys dat Du Plessis die gehaltebeheer kort wat uitgewers hom sou verskaf.

Cas van Rensburg bespreek Die respektabele Meneer Hartslief, deur Chris Karsten. (Boeke24)
Skrywers steur hulle aan resensente, veral wanneer die resensent meer raaksien as die voor die hand liggende. Cas van Rensburg bied ter wille van die oningeligte koerantleser ’n oorsig van die verhaal aan; daarna lig hy die sluier oor die roman se voortreflikhede, die dinge wat mens nie gewoonlik van ’n spanningsverhaal verwag nie, soos die omvang van Karsten se taalregister, en die verwikkeldheid en uiteindelike menslikheid van die moordenaar in hierdie verhaal. Daarby verduidelik hy wat die basis is van Karsten se finesse, naamlik deeglike en uitgebreide navorsing. En ten slotte sê Van Rensburg pront die een ding wat mens nou al begin vermoed het: Chris Karsten is ’n misdaadskrywer van internasionae statuur. Dis groot lof, en gelukkig is die resensie op só ’n wyse geskryf dat mens nie twyfel oor die gesaghebbendheid van dié uitspraak nie.

Daniel Hugo skryf oor Die handdruk van die dood: Die onvertelde storie van Eugène Marais, deur Friedel Hansen. (Boeke24)
Herman Charles Bosman die kind van Eugène Marais? Sê weer … Daniel Hugo wys tereg daarop dat hierdie boek die opspraakwekkendste geskrif is wat al oor ’n Afrikaanse skrywer gepubliseer is – asook dat dit al ’n jaar oud is en nie die aandag getrek het van die literêre wêreld nie. Wat moet mens daarvan maak? Soms is resensies só aangebied dat dit nuuskierige agies die boek sal laat opsoek, en diegene wat meer sinies is oor skouspelagtige vindings sal laat wegdeins. Aan watter kant bevind Hugo hom? “Die groot probleem met hierdie boek is dat die skrywer te onkrities staan teenoor sy ontdekkings.” Ons hoor wat jy sê, Daniel.

Profile photo of crito

by crito

Strategie

Oktober 21, 2014 in Uncategorized

Ilse Salzwedel skryf oor Sondebok, deur Irma Venter. (Boeke24)
Ilse Salzwedel is ’n bedrewe kolporteur van die boek. Sy weet wat dit verg om mense se belangstelling te prikkel. Sy weet hoe om ’n boek te beskryf sodat die koerantleser dadelik voel dit is iets op sy vlak en na sy smaak. Hierdie bespreking sal ongetwyfeld ’n invloed hê op die verkope van Sondebok. Dit is duidelik dat Venter se naam nou in dieselfde asem as Deon Meyer s’n genoem moet word, en alles wat Salzwedel ter sprake bring, dui daarop dat Venter werk aan ’n reeks met deurlopende karakters. Maar iets bly my hinder. Ek vra my altyd af wat ’n uitsluitend positiewe resensent verswyg. Dit het my ’n bietjie kopkrap gekos, want die resensie is baie reguit en onopgesmuk geskryf, maar die sleutel is daar, tussen Salzwedel se sorg om nie geheime te verklap of te veel van die verhaal te vertel nie: Venter hou jou aan die raai – verby die laaste bladsy en waarskynlik die volgende boek se laaste bladsy ook. Die immer onopgeloste raaisel op die agtergrond se antwoord lê nog jare in die toekoms. Slim.

Joan Hambidge skryf oor Geloof sonder sekerhede, deur Anton van Niekerk. (Boeke24)
’n Verrassende keuse van resensent, maar Hambidge lewer ’n onderhoudende, genuanseerde reaksie op ’n boek wat oënskynlik sterk aansluit by die groot geloofdebat van ons tyd. Met ’n baie netjiese, relativerende verwysing na Julia Kristeva en die vorige pous in haar slotsom. Nie om dowe neute nie.

Riaan Grobler resenseer Draalnoot vir ‘n janfiskaal, deur Henry Jack Cloete. (Rapport Boeke)
‘n Resensie wat my dadelik aangespreek het. As mens in gedagte hou dat ‘n resensent nes die skrywer van ‘n boek ‘n strategie moet volg oor die lesers waartoe hy hom/haar wil rig, gee Grobler uit die staanspoor aanduidings dat hy hom rig tot diegene met ‘n belangstelling in die letterkunde, en veral hulle wat in ‘n moderne idioom dink. Die gonswoorde “distopiese drogdroom” is die eerste tekens, en daarna neem Grobler die leser eerstens deur die gegewe/verhaal en ten tweede gee hy sy reaksie, insluitend vertolking en kritiek oor tekortkominge. Dis ‘n resensie vir ‘n klein deel van Rapport se leserspubliek, maar ook een wat meeste  van die inhoud van afgelope Sondag se koerant lank sal oorleef omdat dit deel word van die groter literêre diskoers. Ek vermoed iewers gaan daar nog iemand ‘n tesis skryf oor die rol van lesersverwagting en skryfkonvensies, en dan sal hierdie resensie en boek ‘n vertrekpunt wees.

Mia Oosthuizen bespreek Nova: Eindspel, deur Fanie Viljoen. (Rapport Boeke)
‘n Lekker polemiese resensie, maar ook een wat my uiteindelik hard op die tande laat kners het. Oosthuizen se analise van die roman en haar taksering van sowel Fanie Viljoen se skryfwerk as die vrugte van sy verbeelding daag jou uit om jou eie leesreaksie aan haar respons te toets. Maar dan hang die onderrok skielik uit, begin sy sensor speel: Dié boek is nie geskik vir sensitiewe lesers nie. Wat is ‘n sensitiewe leser, dr. Oosthuizen? Hoe ken jy hulle uit, hoe meet jy hul reaksies? Kan mense nie maar self besluit of hule verder wil lees nie?

Profile photo of crito

by crito

Dankie

Oktober 14, 2014 in Uncategorized

Paul Boekkooi en Cilliers van den Berg resenseer Nagmusiek, deur Stephanus Muller. (Boeke24)
Dikwels moet mens hoor dat Afrikaanse boekresensies hul spierkrag verloor het, dat dit òf ’n akademiese vitterigheid òf oppervlakkige bekooksel rondom die uitgewers se reklame-pamflette is. Met die veranderinge by Media24 se koerante en webwerwe het die vrees ontstaan, ook by my, dat die bydrae van boekresensies tot kulturele rekordhouding deur koerantredakteurs geringskat word, en dat daar geen behoefte meer by joernaliste is om ’n ruimte te skep, op die boekeblad, waarin die lesers van Afrikaanse boeke ’n meting kan vind van die intellektuele hoogvlugte van Afrikaanse skrywers nie. Twee swaeltjies, sekerlik, maar Paul Boekkooi en Cilliers van den Berg se resensies van Stephanus Muller se grensverskuiwende (soos Boekkooi dit tipeer),  magistrale ( volgens Van den Berg) Nagmusiek laat mens weer moed skep. Ek het albei besprekings met opgehoue asem gelees. Boekkooi en Van den Berg benader die publikasie uit verskillende rigtings. Elk pak hul betoog rustig uit – en albei het skynbaar uit die staanspoor besef dat elke woord sal tel, en dat die lof suiwer en sonder verbale neonligte oorgedra sal word. Die resultaat is twee resensies wat die Muller-publikasie waardig is, Boeke24 se peil dadelik omhoog druk – en mens sommer net trots en goed laat voel oor wat met sowel die drie dele van Muller se publikasie as dié twee resensies bereik is. Ek lig my hoed vir Paul Boekkooi en Cillers van den Berg en sê dankie aan die redakteur van Boek24, Jo Prins.

Louise Ferreira bespreek Die dooies leef, deur SD Fourie. (Boeke24)
Ferreira het vir SD Fourie die binnevet van die boud gegee, kom mens weldra agter. Die verhaal en inhoud is vir haar lekker genoeg om die strukturele tekortkominge van die roman minder belangrik te maak. ’n Resensie sonder kritiese funksie.

Jean Oosthuizen bespreek Waarom soveel Bybel-vertalings? deur Jan van der Watt. (Rapport Boeke)
Oosthuizen se bespreking lees plek-plek soos ’n reklamestuk en eers in die laaste paragraaf kom hy by die saak wat ’n resensieleser wil weet, naamlik watter Bybelvertalers is die swendelaars? Die onderwerp het soveel polemiese potensiaal, dat ek eintlik verbaas is hoe mak en versigtig Oosthuizen se bespreking is.

Dineke Volschenk bespreek Kersfees op Wonderfontein, deur Gerrit Olivier. (Rapport Boeke)
Vermoedelik het iets in die boek die oud-uitgewer Volschenk se hart sag gemaak. Die opsommende taksering waarmee sy die bespreking afsluit is ’n resensie in die kleine, en dui vir my daarop dat sy die boek ’n kans wou gee om moontlike lesers te vind voordat sy uitkom met die waarheid.

Joan Hambidge bespreek rock&roll.karoo, deur Koos Kombuis. (Rapport Boeke)
Hambidge in ligte luim sorg vir onderhoudende koerant-kopie. Maar ons kry die boodskap: Gaan verby tensy jy ’n bewonderaar van Koos Kombuis is.

Profile photo of crito

by crito

Femelvry

Oktober 7, 2014 in Uncategorized

Nico Geldenhuys skryf oor Skoppensboer, deur Duanne Aslett. (Boeke24)
Geldenhuys skryf oor die verhaal en sy konteks, hou van die beskrywings van jaagtogte en aksie, maar sukkel om sy kritiek op die roman te verwoord. Wat nogal ’n probleem is, want dit klink vir my, as ek die resensie lees, dat ons hier te make het met ’n belhamel wat nie uit die teks wil opstaan sodat mens hom kan sien (soos Chris Karsten of Deon Meyer se booswigte doen nie) en vir hom skrik nie.

Toast Coetzer resenseer Die Alibi Klub, deur Jaco van Schalkwyk. (Rapport Boeke)
Wat so lekker is van hierdie resensie is die manier een woordkunstenaar reageer op ’n ander. Coetzer se beskrywing van die manier waarop Van Schalkwyk woorde gebruik, is openbarend. Hy stip die roman nie aan as meesterstuk nie, maar die feit dat hy geen negatiewe kritiek lewer nie, sê baie. Wil nou die boek lees.

Riette Rust resenseer Wie is ek? deur Louis Awerbuck en Lise Swart. (Rapport Boeke)
Dis soos om jou tong raak te byt terwyl jy iets wonderliks eet. Riette Rust laat knal in die eerste paragraaf ’n gruwel van ’n cliché, en die koerant se redaksie gryp dit aan as opskrif – maar lees jy verder, sien jy dat Rust ’n gewikste resensent is.

Jannie Malan resenseer Al die lieflike dade, deur Charl-Pierre Naudé. (Netwerk24)
Verruklik. Malan se resensie is vry van akademiese gefemel, en alles wat hy oor die bundel sê, wink mens nader daaraan. Dit voldoen aan die twee groot vereistes vir ’n koerantresensie: informatief, evaluerend. Dit is toeganklik vir die leek, en wen dus vriende vir die digkuns. Uiteindelik verwonder ek my oor die gebruik van “pleeg” in die slotparagraaf. Is dit doelbewus gebruik? Indien wel, gee dit ’n effens mnder geesdriftige inslag aan die resensie, wat andersins in die teken van geesdrif staan.